Die Hof is in Sitting

8 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Hof is in Sitting

Miga 1:6-16

Video - Oudio

Die hof is in sitting. Die Regter neem die plek van die Aanklaer in. Dan wys Hy die vinger na die twee beskuldigdes. “Wie is verantwoordelik vir die oortreding?” Dan kyk hy na beskuldigde nommer een. “Samaria, na hierdie hofsaak gaan Ek sorg dat jy ‘n puinhoop word in die oop veld!” Ons sien hoedat Samaria spierwit word in die gesig - sy knieë wil knak onder hom. “Die aanklag teen Samaria” gaan die Aanklaer voort, “is prostitusie!”

Almal wat in die hofsaal teenwoordig is, snak na hulle asems. “Hoe afgryslik!” trek die fluistering deur die saal.

In die heidense wêreld van daardie tyd, was die sogenaamde “natuurgodsdienste” sekerlik die gewildste onder die mense, want hier kon hulle hulle wildste fantasieë na hartelus uitleef sonder om daaroor skuldig te voel. Dit het immers gegaan onder die naam van godsdiens, en daarom was hulle mos half verplig om deel te neem aan al die walglike seksuele praktyke. Hier was selfs tempelprostitute wat in diens was van die tempel! Prostitusie was as deel van die godsdiensbeoefening bedryf.

Onthou jy nog die groot debakel destyds tydens die sokker wêreldbeker, toe sommige hooggeplaastes in die politiek probeer het om prostitusie te wettig in Suid-Afrika? Hulle het aangevoer dat dit net was om dit meer aantreklik te maak vir die miljoene toeriste wat na die land sou stroom. Uiteindelik is dit, na groot druk van die kerke, toe nie gewettig nie, maar ek is baie seker dat daar maar ‘n blinde oog gedraai was in daardie tyd na enige bedrywighede van die straatvrouens en mans. Vandag is prostitusie natuurlik onwettig in ons land, maar dit gaan openlik voort as ‘n uiters winsgewende bedryf!

Die aanklag teen Samaria is, dat hy verval het in prostitusie. Die klag lê egter veel dieper as hierdie uiterlike, walglike sonde. Prostitusie was eintlik die uitvloeisel van die heidense afgodsdiens. In die heel eerste gebod waarsku God sy volk dat hulle géén ander gode mag hê nie. Dan sê Hy verder dat hulle ook nie enige beelde mag maak om dit te aanbid nie. God eis dus van Sy volk dat hulle Hom en Hóm alléén mag aanbid. En nou het hierdie volk gekom en agteraf ‘n afgodsdiens ingesmokkel. Hulle sit steeds die front op as “Volk van God” en hulle roem daarop dat hulle uniek is en dat hulle die enigste volk in die wêreld is wat slegs hierdie God aanbid. Hulle is baie gou om te wys hoe vroom hulle lewe, en dat hulle die reinheidswette nakom, nie ‘n krieseltjie varkvleis sal eet nie en die Sabbat getrou nakom. Maar wanneer dit donker word hang hulle rond waar die straatvrouens bedrywig is, en verlustig hulle in die orgies wat in die naam van godsdiens bedryf word.

Die verdoemende uitspraak van die regter oor Samaria is dat hy totaal verwoes sal word. Die afgodsbeelde sal stukkend geslaan word en die bouklippe sal verstrooi word in die laagte. Selfs die stad se fondamente sal uitgegrawe word.

Die probleem het egter ontstellende nagevolge gehad, want soos wat Kovid 19 soos ‘n veldbrand versprei, so het hierdie “virus” van Samaria se sonde ook vinnig versprei en die hele omgewing besmet. En die siekte is ongeneeslik! 

Die Aanklaer draai nou na beskuldigde nommer twee, Jerusalem. Ook Jerusalem, die “Heilige Stad” het sy heiligheid verloor. Nou staan hy ook skuldig aan dieselfde aanklagte. Het dit maar net tot Jerusalem beperk gebly, dan was daar dalk nog hoop, maar nou het dit ook versprei na al die klein dorpies in die omgewing. Daarom is die uitspraak van die Regter dat nie alleen Jerusalem sal val nie, maar die hele Juda saam met hom.

Een-vir-een noem die Aanklaer die name van die dorpe wat hulle skuldig gemaak het aan hierdie gruwel: Gat, Bet-Leafra, Safir, Saänan, Bet-Haesel, Marot. Dan kyk Hy Lakis in die oë en skud Sy kop. Lakis is die brandpunt, die oorsprong van al hierdie onheil! En Lakis het ‘n klomp van die dorpe in die omgewing saamgesleep, insluitende Miga se geboortedorp, Moreset. Lakis se probleem was dat hy sy vertroue gestel het op sy eie militêre vermoëns, en dat hy ‘n mosie van wantroue in God gestel het.

As gelowige vandag, moet ons baie goed besef wat ons eie vermoëns is. Ons moet dit gebruik tot eer van God. Ons moet egter baie deeglik onthou dat dit God is wat ons die vermoëns gee. Doen ons dit nie, word ons ‘n god vir onsself. Selfs die magtigste mens op aarde moet te alle tye onthou dat dit God is wat hom die mag gee, en dat hy totaal afhanklik is van God. Plaas jou afhanklikheid totaal in God se hande.

Lakis se vonnis is verdoemend: Hulle sal in ballingskap weggevoer word! Die mat gaan totaal onder hulle uitgeruk word. Die vonnis het in werking getree toe Samaria in 722 vC tot ‘n val gekom het en so ook Jerusalem in 586 vC. Die hof verdaag.

Gebed:

Here God Almagtig, ek besef vanoggend net weer hoe nietig ek is, en dat ek totaal van U afhanklik is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026