1 Korintiërs 11:2-16
Ek neem stelling in agterlangs in die kerk sodat ek die modeparade mooi kan sien. Daar heers ‘n doodse stilte, en al wat jy hoor is iemand met ‘n lastige kuggie en ‘n kerkbank wat oorverdowend kraak as groot ou Tant Siena haar sit kry. Sy het vandag ’n pienk hoed op, soos sy vir die afgelope twintig jaar al dra. Dit is net dat die rand van die hoed elke jaar wyer raak soos wat sy wyer raak - seker maar vir balans. Een-vir-een kom die skeppings in die middelpaadjie afgesweef. Daar is anties met plêstiek blommerangskikkings, en nagemaakte vrugte en alles word kunstig op die kop gebalanseer. Ek wonder in my stilligheid hoeveel haarnaalde nodig is om sommige van die reuse rangskikkings bo te hou? Kan mos gevaarlik wees! Dan is daar natuurlik nog die tante met die wawiel - wee jou as jy agter haar beland! O, en die kunswerke, die spinnerakke en die visnette! Een ou antietjie dra ‘n dotjie op die kop wat dateer uit die eerste wêreldoorlog. Die motte het al ‘n paar happe daaruit weg, maar dit pla haar nie, solank sy tog maar net ‘n hoed op het!
Tant’ Driekie het ‘n lang swart rok aan, toegeknoop tot onder haar ken, met ‘n somber swart tjalie, ‘n swart hoed op die kop en ‘n swart sluier oor haar gesig. En dan rond sy dit alles af met ‘n paar swart handskoene. Ek kry haar só jammer, sy rou verskriklik!
Natuurlik dra die manne ook almal hoede, want dis mos mode. Maar voor hulle die kerk se deure instap word die hoed eerbiedig afgehaal, soos dit ‘n man betaam. En dan, as hulle by die loodglasvenster verbystap, dan blink die son in helder kleure op hulle bleskoppe. Géén man, selfs nie eers die jong rebelle, het dit durf waag om lang hare te dra nie, want dis on-Bybels. Dalk is dit een van die redes waarom Elvis in kerkkringe so sterk veroordeel is!
Ek begin giggel toe Tant’ Sannie en Oom Joorsie die kerk instap. Sy is groot en sy het ‘n paar voorarms aan haar wat ‘n rugby voorspeler sal beny. Sy laat hom voorloop om die regte bank te soek, maar as die arme man per ongeluk die bank verbystap, koes hy al outomaties, want hy weet wat kom! Ja, almal weet wie baas is in daardie huis! Arme Oom Joorsie! Ôk maar ‘n hondelewe!
Onthou jy nog? Foeitog, die arme jonger mense het só baie gemis in die lewe!
Paulus het seker nooit besef wat hy aan die mensdom gedoen het toe hy 1 Korintiërs 11 geskryf het nie. Hierdie gedeelte is baie letterlik opgeneem om presies nét so vandag toegepas te word.
Die feit is egter, dat as Paulus so ‘n bietjie verder sou gaan, en hy sou beskryf watter klere betaamlik is vir ‘n man om te dra, dan sou ons manne almal vandag rokke moes dra! En as ons aan sport sou deelneem sou ons dit poedelnaak moes doen. Dankie tog dat hy by die hoofbedekking gestop het!
Ek dink almal het al besef dat ons nie Paulus se voorskrifte letterlik moet opneem vir ons lewe vandag nie. Maar waarom is hierdie gedeelte dan vandag steeds vir ons opgeteken? Kan ons óóit enige waarde daaraan heg?
Die agtergrond van dit alles is, dat alle betaamlike vroue in daardie tyd ‘n hoofbedekking gedra het, en respektabele vrouens se hare was altyd lank as ‘n simbool van haar vroulikheid. As ‘n vrou in ‘n buite-egtelike verhouding betrokke sou raak, dan is haar hare afgeskeer om te wys dat sy skande gemaak het. Straatvroue het hulle hare los gedra en sonder ‘n hoofbedekking. Paulus wil met hierdie gedeelte sê dat die Christene nie moet probeer om die hele sosiale orde omver te gooi nie, al het hulle Christelike vryheid. Leef steeds soos wat die samelewing betaamlik vind, want sodoende kry jy die respek van nie-Christene. In vandag se terme sal ons byvoorbeeld sê dat dit doodnormaal is om op die strand in swemklere te lê. As jy egter in jou werkplek in ‘n bikini of Faffie opdaag, is dit onbetaamlik!
‘n Ander voorbeeld sou wees, as jy by ‘n groot maatskappy sou begin werk, en dinge lyk nie vir jou baie lekker nie, sou dit uiters dwaas wees om sommer met die intrapslag dinge te probeer verander. Jy gaan nêrens kom nie, en dalk selfs jou werk verloor, én jou kans om dinge reg te stel! Wen eers almal se vertroue deur ‘n groot bate vir die maatskappy te wees, en dan kan jy begin om stap-vir-stap met die base te gesels oor wanpraktyke.
Wat dan nou van die “baasskap” van die man oor die vrou? Nee, Paulus sê nêrens dat hy die “baas” moet wees nie! Hy is die hoof. Die man is geprogrammeer om die hoof te wees, maar dit beteken nie dat die vrou ondergeskik aan hom moet wees nie. In Galasiërs 3:28 sê die einste Paulus immers dat almal, mans sowel as vrouens één is in Christus. Mans en vrouens is verskillend van mekaar, en elkeen het sy eie nis. Die man is egter die een wat gewoonlik die leier is in die huwelik. Maar dan ‘n leier soos wat Christus was, ‘n dienende leier, wat in groot liefde leiding neem sonder om te oorheers!
Gebed:
Here, help my om so te leef dat ek nooit iemand anders aanstoot gee nie!