Markus 13:14-23
Die profetiese rede is seker een van die moeilikste gedeeltes in Markus om te verstaan, en daar is baie verskillende menings oor presies wat Jesus bedoel het toe Hy hierdie dinge voorspel het, en hoe ons dit moet verstaan. Daar is egter ‘n basiese boodskap, dat daar baie groot swaarkry voorlê voor Jesus se wederkoms.
In omtrent dieselfde tyd toe Markus hierdie Evangelie geskryf het, 67 tot 70nC, het daar ‘n baie groot krisis geheers in Palestina. Dit was die tyd van die Joodse opstand, en die Romeine het dit net eenvoudig nie geduld nie. Hulle het oorlog gemaak teen die Jode, en ek kan myself voorstel dat daar gruwelike dinge gebeur het, en daar was baie swaar lyding vir die Joodse volk.
In vers 14 sê Jesus dat almal berge toe moet vlug “wanneer julle die gruwel van verwoesting sien staan waar dit nie hoort nie.” In Daniël 9 lees ons van ‘n soortgelyke beskrywing. Daniël se profesie het gehandel oor die Siriese koning Antiogus IV wat 250 jaar voor Markus se Evangelie die tempel in Jerusalem laat ontheilig het. Hy het daar offers laat bring aan die god Zeus en daar is selfs varkvleis in die tempel geoffer vir die afgode. Daardie tyd is dit genoem: Die gruwel van verwoesting.
Jesus praat egter van iets anders. Dit sal die begin van die verdrukking wees. In vers 15-20 sien ons hoe erg hierdie verdrukking sal wees. Tydens die Romeins-Joodse oorlog was dit baie erg, soos wat Jesus beskryf het en die Christene moes inderhaas uit Jerusalem vlug na ‘n klein dorpie met die naam Pella.
Soos wat dit gebeur tydens sulke situasies, is daar gewoonlik maar die doemprofete wat aankondig dat dit nou die einde van die wêreld is. Onder die Christene is daar diegene wat in sulke tye beweer dat die wederkoms nóú hier is, en dan gee hulle dikwels selfs ‘n datum wanneer dit gaan gebeur. Iemand skryf een slag vir my dat sy ‘n verskriklike e-pos gekry het van die een of ander dominee wat bewerings maak van ‘n onbekende planeet met die naam Niburu wat in Desember 2012 so naby die aarde sou verby beweeg dat dit die aarde sou laat omslaan (of iets) en alles sou verwoes word. Volgens die dominee het NASA alles hiervan geweet, maar Obama het hulle verbied om iets uit te lap, want dit kon almal paniekbevange maak. Volgens hom sou dit dan ook die einde van die aarde wees, én die Wederkoms. Dit is tog snaaks dat sy bewerings gekom het so pas nadat die fliek “2012” gemaak was!
Natuurlik, soos jy weet, het Desember 2012 gekom en gegaan, en daar het niks van sy voorspellings gekom nie!
Die ergste is egter wanneer iemand begin beweer dat hy eintlik die Christus is wat alreeds gekom het. “Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal,” waarsku Jesus.
Ek kry nou eenmaal ‘n e-pos wat so ‘n vals christus beskryf. Eers het ek gedink dat dit weer een van daardie gemorsposse is, maar toe gaan vergewis ek myself van die ware feite. Ek het selfs die man se webwerf opgespoor. Hy is iewers in Amerika, en hy het ‘n baie groot aanhang. Hy beweer dat hy die Christus is en dat Christene ‘n groot fout maak deur Jesus elders te soek. Ek het siek gevoel nadat ek dit gelees het!
Wat moet ons maak van al hierdie dinge? Hoe moet ons Jesus se profetiese rede verstaan? Ja, inderdaad het Jesus waarskynlik die Jode gewaarsku oor die Romeinse oorlog en dat hulle daar baie swaar sou kry. Maar die profetiese rede het ook ewigheidsbetekenis en dit is steeds net so relevant vandag as wat dit in daardie tyd was. Jesus se wederkoms is op hande, maar ons weet net eenvoudig nie wanneer dit gaan gebeur nie. Jesus se waarskuwing behels dat Sy wederkoms voorafgegaan sal word deur ‘n baie groot verdrukking van Christen-gelowiges. In Markus se tyd het dit alreeds begin, en ons weet dat dit later selfs baie erger gegaan het toe Nero die Christene in Rome op walglike en wreedaardige maniere uitgewis het. Hulle is vir leeus gevoer en hulle is selfs met teer besmeer en aan die brand gesteek om as straatfakkels te dien.
Vandag word Christene steeds wreed vervolg, veral in sommige Moslem-lande waar Christene in die geheim moet aanbid, anders kan hulle tronk toe gaan. En as ‘n Moslem daar tot bekering kom, is dit feitlik ‘n uitgemaakte saak dat hy onthoof gaan word as iemand dit sou uitvind. Kan jy glo dat sulke dinge steeds gebeur in ons moderne tye? Ja, selfs hier in vrye Suid-Afrika is ‘n Moslem wat tot bekering kom nie seker van sy lewe nie. Nie alleen word hy totaal uit sy familie en die gemeenskap uitgesluit nie, maar hy word vervolg - selfs gejag!
Die wederkoms van Jesus is naby - alles dui daarop. Ons weet egter nie wanneer dit gaan gebeur nie. Wat egter nóg belangriker is, is dat die “wederkoms” vir ons elkeen gebeur die dag wanneer jy sterf. Dit kan dikwels baie onverwags wees. Dit kan selfs vandag of more wees. Die vraag is of jy gereed is daarvoor?
Gebed:
Here, dankie dat ek kan uitsien na U wederkoms. Kom gou, Here Jesus, kom gou!