1 Korintiërs 1:4-9
Kersfees lê nog baie vlak in ons geheue – skaars drie weke gelede! Ai tog! ‘n Maand gelede het almal rondgeskarrel om geskenke te koop! Die kinders het lysies gemaak en vir Kersvader daar iewers op die Noordpool gestuur. Selfs grootmense het opgewonde gewonder wat hulle vir Kersfees sou kry!
Wat is dit aan geskenke wat jou so opgewonde maak? Miskien is die grootste rede die misterie van 'n pakkie wat toegedraai is. Dit wat jy kry bly vir jou ‘n heerlike verrassing totdat jy sorgvuldig die strik losgeknoop het; die kleefband met moeite losgetrek het sonder om die papier te skeur; die pragtige, kleurvolle geskenkpapier sorgvuldig oopgemaak het en dan met bewondering kyk na die geskenk.
‘n Ander element is die feit dat dit iets is waarvoor jy nie gewerk het nie. Dis gratis, vry, verniet! Iemand het dit vir jou gegee sonder dat jy dit werklik verdien het! Dit maak dit spesiaal.
Daar is ook ‘n derde element wat so ‘n geskenk vir jou besonders maak - die feit dat die persoon dit vir jou gegee het omdat hy of sy vir jou lief is en vir jou omgee. Jy gee mos nie sommer ‘n geskenk vir iemand wat niks vir jou beteken nie!
Maar dan kom daar ook iets anders by die ontvang van ‘n geskenk, en dit is dat jy dankbaar is teenoor die persoon wat dit vir jou gegee het. Jy sal hom dalk om die nek val en innig soen. ‘n Jong meisie wat ‘n diamantring ontvang van die man wat haar hart vinniger laat klop - sy gaan ronddans van vreugde en hom in trane van blydskap belowe dat sy vir ewig en altyd syne sal wees. En dan gaan sy windmakerig met haar hand so half in die lug loop sodat ‘n ieder en elk, veral haar vriendinne daardie blink klippie kan sien. En vir haar pêlle vertel sy net van hoe wonderlik háár Adonis is!
In 1 Kor 1:4 en 5 praat Paulus ook van ‘n geskenk wat die gemeente in Korinte ontvang het. Hierdie is ‘n baie spesiale geskenk, die geskenk van genade wat God in Jesus vir hulle gegee het. Hierdie geskenk was iets absoluut asemrowend, want hy vertel hier van gawes van “genade, woord en alle kennis” wat deel uitgemaak het van die geskenk. Maar dit het veel meer behels, want daar was nie ‘n enkele genadegawe wat nie iewers ingesluit was in die wonderlike geskenk nie.
O, en die wonderlike is dat ek en jy daardie selfde geskenk kry, die dag wanneer Jesus in jou lewe kom. Die vraag is: hoe hanteer ons daardie besonderse geskenk? Eintlik werk dit presies dieselfde as die geskenk wat jy van ‘n geliefde kry. Dit begin by die opgewondenheid en die wonder wat dit mag behels. Jy is gewoonlik baie versigtig om jou te begeef in hierdie nuwe stap in jou lewe en jy maak die “geskenkpapier” baie versigtig oop! En dan, wanneer jy eers sien wat Jesus se geskenk alles behels, wil jy op en af spring van opgewondenheid!
As jy egter eers baie mooi gaan kyk na Jesus se geskenk, en begin besef wat dit gekos het, en wat die onskatbare waarde daarvan is, word jy absoluut oorweldig met dankbaarheid. Ja, inderdaad is die ondenkbare offer wat Jesus gemaak het aan die kruis op Golgota alreeds oorgenoeg rede tot dankbaarheid, maar die dinge wat Paulus aan die gemeente in Korinte beskryf, vul jou verder met borrelende dankbaarheid. Die ryke seën, al die genadegawes, die vryspraak wat Hy ons gee “sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus.” (vers 8). Dink net: ál ons oortredinge, hoe groot hulle ookal mag wees, word summier van die klagstaat verwyder! Is dit nie alreeds genoeg rede tot jubelende dankbaarheid nie? Dit is soos om vir iemand wat in die tronk opgesluit is, en wag op die dag van sy teregstelling, op ‘n dag die nuus te kom gee: “Jy is vry! Die president het besluit om jou vry te spreek!” Ten spyte van die misdaad wat jy gepleeg het wat die doodstraf verdien, word jy begenadig en stap jy as vry mens uit die tronk!
Die vraag is: hoe leef ons daardie dankbaarheid uit? Hoe sê ek dankie vir so ‘n reuse geskenk? In die eerste plek kan ek net eenvoudig nie ophou om verbaal “Dankie, dankie, dankie Here!” te sê nie. Jou hele wese wil net Jesus se voete soen en aanhou dankie sê. Maar dit is nie genoeg nie, want vir iemand wat vir jou ‘n baie groot geskenk gee, sal jy enigiets doen. Dit sal by jou ‘n lewenswyse word van dinge doen wat vertel van presies hoe dankbaar jy is. Liefde is die hoogste vorm van ‘n dankbare lewe. Eerstens ‘n lewendige, praktiese liefde teenoor God, waar jy alles in jou vermoë sal doen om binne Sy wil te leef en Hom só gelukkig te maak. Maar ware dankbaarheid beteken ook om jou liefde uit te leef teenoor jou medemens, want dit is wat Jesus van jou vra.
Daar is egter ook ‘n ander aspek: Soos die meisie haar verloofring vir almal wil wys, so wek dankbaarheid ook by jou die behoefte om vir elkeen wat ore het te wil vertel van jou lewensgeskenk, en veral van Jesus wat dit vir jou gegee het. Die vraag is: hoe dankbaar is jy werklik?
Gebed:
Dankie Here, dankie vir U groot geskenk aan my. Help my asseblief om my dankbaarheid op elke terrein ten volle uit te leef!