Die Gees aan die Werk

9 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Gees aan die Werk

Handelinge 2:14-42

Doodgewone mense was hulle, hierdie twaalf manne wat op Pinksterdag na vore getree het. Johannes en sy broer Jakobus – vir hulle het Jesus die bynaam gegee van “Seuns van die Donder” oor hulle opvlieënde geaardheid. Nie juis ‘n mooi eienskap nie. Boonop het die tweetjies hulleself al gesien waar hulle weerskante van Jesus se hemelse troon sit en regeer! Arrogant! En die ander was almal groen van jaloesie oor die twee hulle voorgespring het!

Dan was daar liewe ou Thomas wat na Jesus se opstanding gesê het dat hy “nooit in der ewigheid” sou glo dat Jesus werklik opgestaan het nie. Volgens hom was die verhale van mense wat Jesus gesien het, ‘n klomp snert!

En die “Rots,” Petrus? Ja, ons het vir Petrus leer ken as die impulsiewe prater, wat dikwels dinge gesê het voordat hy gedink het, impulsiewe beloftes gemaak wat hy nie kon nakom nie. Ten spyte van al sy foute was hy egter ‘n gebore leier, en boonop iemand met waagmoed. Selfs sy lewe gewaag om op die rowwe see te loop! Tog so jammer dat sy moed hom daar begewe het toe hy die wilde branders sien.

Maar nou, op Pinksterdag, sien ons ‘n totale ander groepie manne. Van die “Donderseuns” is daar géén teken nie. Thomas se ongeloof het soos mis voor die son verdwyn. Die manne se jaloesie het totaal verdamp. Almal aanvaar Petrus as die woordvoerder.

Wanneer Petrus na vore tree, is daar niks meer te bespeur van die impulsiewe, rowwe, ongeletterde visserman nie. Vol vertroue staan hy op en begin vir die reuse skare van derduisende mense te verduidelik wat daar so pas plaasgevind het. Van die ou Petrus wat gebewe het voor ‘n diensmeisie is daar skielik géén teken nie! Onverskrokke staan hy daar en met woorde wat behóórlik geweeg en gemeet is spreek hy die mense toe. Hy haal lang gedeeltes aan uit die Septauginta (die Griekse Ou Testament). Hy verduidelik vir hulle uit die boek Joël asook uit Psalm 16.

Petrus wy die hoofdeel van sy toespraak aan die redes vir die uitstorting van die Heilige Gees. Jesus van Nasaret is deur God sélf na Israel gestuur. Daar het Hy groot wonders gedoen. Sodoende het Hy onteenseglik bewys dat Hy die langverwagte Messias is. Dan word Hy egter verwerp deur die Jode, God se eie volk. Hy ly onder hulle aanslae en sterf uiteindelik ‘n grusame dood aan die kruis. Nee, God was nie onkant gevang nie! Sy plan was júis dat Jesus moes kom ly. Maar die aandeel van die Jode aan hierdie lyding kan nie weggewens word nie. Hulle staan skuldig daaraan! Petrus wys vinger na die einste mense wat sy toespraak aanhoor. Hulle is mede-beskuldigdes, want hulle eie volksgenote, broers, familie het saam geskreeu: “Kruisig Hom!”

Teenoor die mense wat Jesus aan die Romeine uitgelewer het, staan die Almagtige God egter. Hy het Jesus uit die greep van die dood kom verlos. Jesus het uit die graf opgestaan! Hy leef! Hulle wat hier bymekaar is, is almal getuies daarvan! Hulle het Jesus persoonlik sélf gesien en met Hom gepraat. Hulle het selfs per geleentheid saam met Hom geëet.

En nou het Jesus die Heilige Gees oor Sy volgelinge uitgestort, net soos wat die Gees ook oor Jesus gekom het met Sy doop. Na Jesus se verhoging is Hy by magte om ook die Heilige Gees oor te dra na al Sy volgelinge.

Wat het Johannes en Petrus en al die ander nou skielik so anders gemaak? Wat het gebeur dat hulle in ‘n baie kort tydperk so ‘n onbegryplike verandering kon ondergaan? Die antwoord is eenvoudig: die Heilige Gees het in hulle lewens gekom. Hier sien ons duidelik die verskil wat die gebeure van Pinksterdag in ‘n enkeling se lewe gemaak het. Maar dit het véél verder gestrek, want die direkte gevolg van hulle optrede daardie oggend, het nie minder nie as 3000 mense daardie dag vir Jesus as Verlosser aanvaar!

Die wonder is egter dat die Heilige Gees nie beperk is tot Johannes en Petrus en die klein groepie gelowiges wat op Pinksterdag bymekaar was nie. Die Heilige Gees is óók vandag deel van élke gelowige se lewe. En nee, niemand hoef te wag vir ‘n “vervulling met die Gees” nie, want die oomblik wanneer jy die stap neem om Jesus die Koning van jou lewe te maak, is die Heilige Gees reeds in jou. Daar is egter ‘n geheim: jy moet plek maak vir Hom in jou lewe. Solank sonde die botoon voer in jou lewe, is daar nie plek vir die Heilige Gees om te kan werk nie. Hoe minder sonde in jou is, hoe meer plek is daar vir Hom! En algaande raak jy "vervul" met die Heilige Gees, totdat jy ook soos Petrus en Johannes onverskrokke kan staan vir die saak van die opgestane Jesus Christus.

Hy is reeds in jou, dit hang net van jouself af hoeveel plek jy toelaat vir Hom in jou lewe!

Gebed:

Here, help my asseblief om die sonde in my lewe uit te gooi sodat daar plek kan wees vir U Heilige Gees om my ganse lewe te vul.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026