Markus 3:1-6
Die Fariseërs het tot die besef begin kom dat hulle ‘n baie groot probleem gehad het, en dat Jesus vir hulle ‘n groot nagmerrie begin raak het. Mense het in groot getalle na Hom toe gestroom, en Hy het hulle verlei om verkeerde dinge te glo.
Die styweboordjie-manne is bymekaar, en daar is vandag net één onderwerp in hulle gesprek: die probleem van dáárdie Timmerman van Nasaret! “Kyk net hoe minag Hy die wet!” sê die manne kopskuddend vir mekaar.
Die afgelope tyd was daar etlike uiters ontstellende insidente. Alles het begin toe daardie visserman, Simon, se skoonma so onverklaarbaar gesond geword het. Die mense het daarna in hulle duisende na Jesus toe gestroom, want hulle het geglo dat dit Hý was wat haar wonderbaarlik genees het. En toe was daar natuurlik die melaatse man wat beweer het dat Jesus hom van sy melaatsheid genees het. Almal wéét mos dat alléén God só ‘n wonder kan doen!
Die kersie op die koek was natuurlik die verlamde man, die een wat sy vriende deur ‘n gat in die dak met toue laat afsak het. Die probleem is dat daar van hierdie Fariseërs se kollegas was wat met hulle eie oë gesien het hoe die man oombliklik net daar genees is.
“Hoe verklaar ‘n mens dit? Alleen God kan so ‘n genesing bewerkstellig!” Abigael is baie ontsteld, maar terselfdertyd is daar ‘n reuse vraagteken op sy gesig.
“Ja, dis alles goed en wel, maar toe gaan staan en vergewe Hy die kêrel se sondes. Dis mos Godslasterlik!” Nou is Josefat woedend!
“Ja,” beaam die manne kopknikkend, “wie kan sondes vergewe buiten God alleen?”
Die groepie Fariseërs is duidelik bitterlik omgekrap. “’n Mens sou dalk nog kon dink dat daar ‘n vae moontlikheid is dat Hy dalk die Messias kan wees, soos die mense fluister,” merk iemand op, “maar na daardie insident toe Hy Homself so ontreinig het deur saam met die haatlike spul onrein Tollenaars te gaan partytjie hou, het ons almal besef dat Hy baie beslis nie die Messias kan wees nie.”
“Ja,” knik die manne almal hulle koppe in eenstemmigheid, “sékerlik sal die Messias mos darem ‘n Fariseër wees!”
“Die ergste nog vir my,” teem ‘n “wyse” ou Fariseër, “is die feit dat Hy ons kosbare wet so gruwelik minag. Kyk net wat maak Hy en Sy dissipels van die vastye! Hulle steur hulle net eenvoudig nie daaraan nie!”
“Enige behóórlike Jood sal dit streng onderhou, nes óns doen!” Almal stem saam dat gereelde vas beslis belangrik is!
Maar dan besluit die manne dat die toppunt van arrogansie Jesus en Sy dissipels se flagrante verbreking is van die allerheiligste Sabbatswette, toe hulle in die koringland geloop en “oes” het, en dit nogal gedurende ‘n Sabbat! “Ons móét Hom net eenvoudig vastrek!” besluit die manne.
Hulle kans kom nogal baie gouer en makliker as wat hulle kon droom, want nét die volgende Sabbat kry hulle vir Jesus waar Hy besig is om te preek in ‘n sinagoge. As hulle instap, sien hulle die man met die gebreklike hand daar sit. Hy is vol verwagting, want sy kans het gekom om Jesus te sien! Dalk kan Jesus vir hom ook ‘n wonderwerk doen. Hy sou so graag ook normaal wou wees soos enige ander man. Die Fariseërs stamp aan mekaar, en beduie na die man: “Vandag is die dag!”
Jesus lees die slim manne se gedagtes soos ‘n boek, en Hy wéét dat hulle Hom wil vastrek. Hy roep die gebreklike en beduie vir hom om hier voor tussen die spul Fariseërs te kom staan. Hy kyk die stroewe manne in die oë: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of om dood te maak?”
Die manne brom onder mekaar: “Watter soort van vraag is dit? Hy is arrogant! Besef Hy nie met wie Hy praat nie? Ons het immers almal ‘n ordentlike geleerdheid in die Skrifte, baie meer as wat Hy kan sê!”
“Wag manne, kom ons bly liewer doodstil! Ons sal Hom wél nog uitvang!”
Jesus is kwaad vir die Fariseërs omdat hulle in die hand van die duiwel speel en die Evangelie probeer dwarsboom. Maar tegelykertyd is Hy diep bedroef omdat hulle hulle harte so verhard. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal, die dag toe God uit die hemel neergedaal het om die mensdom te verlos van sonde, is besig om totaal by hulle verby te gaan. “As hulle maar net kon besef.....”
“Steek jou hand uit,” sê Hy vir die man. En dan gebeur die wonder: oombliklik is die man genees, sy verdorde hand so normaal soos dié van ‘n skrynwerker!
Bedroef kyk Jesus die Fariseërs aan terwyl hulle opstaan en uitstap. “Ons hét Hom!” sê hulle tevrede vir mekaar. En daarmee stap hulle na hulle “vriende in hoë plekke” om ‘n komplot te smee teen Jesus. Binnekort sal Hy die hoogste tol betaal vir sulke arrogansie!
Jesus het gekom om mense te red - so lui die boodskap wat Hy vir ons wil gee uit hierdie insident. Die Koninkryk van God is hier, en Jesus is die Heerser, selfs ook oor die Sabbat! Die Fariseërs moes die boodskap duidelik kry: sien Jesus raak vir Wie Hy is! Hy is immers die Een wat die Koninkryk van God gebring het.
Die boodskap is nog presies dieselfde vir ons vandag, en ons moet duidelik kennis neem van die Koning van die Koninkryk. Meer nog, ons moet deel word van die Koninkryk deur Sy uitnodiging te aanvaar! En as jy eers deel is, gooi dan jou vólle gewig in om ‘n aktiewe Koninkryksburger te wees!
Gebed:
Here, dankie dat ek deel mag wees van U Koninkryk, en dat ek mag dien onder die grootste van alle Konings!