Johannes 7:37-39
My hart bons in my keel as ons om Suid Heuwel ry, verby die Elandskrans vakansieoord. Dit is 'n paadjie wat ek tog só goed ken! Tóg ken ek dit nie, want ek het hierdie paadjie veertig jaar laas bewandel. Agter ons lê die sluimerende dorpie, Waterval Boven en hier voor ons die skilderagtige gasteplaas, Tegwaan. Ons hou eers stil sodat ek alles daar onder kan indrink. My oë soek vir bekende bakens en kort-kort gaan daar 'n flikkerinkie op as ek iets sien wat ek onthou. Die eerste sestien jaar van my lewe het ek hier op hierdie einste plaas deurgebring. Hier het ek leer loop, leer praat, leer swem, leer fietsry en 'n innerlike liefde vir die natuur gekweek. Daardie jare was die plaas se naam Doornhoek.
Die opgewondenheid bruis binne in my! Wat gaan ek hier kry? Bestaan die ou gronddam ooit nog? Daai een waar ek en my maats in die middae na skool kaal geswem het? En die groot dam wat Oupa Johnny in die spruit gebou het, waar ek menige blinklyf-forelle vir ure lank moes bekruip vir 'n watertand aandete? En die fontein....... O, daardie wonderlike fontein!
Wanneer ons op die plaas aankom, begin ek droomverlore stap. Ek soek met elke tree herinneringe uit my kleintyd. Veldblommetjies groet my vrolik. In my gedagtes klink die uitbundige gelag van seuns wat in die water rondplas in 'n tuisgemaakte sinkplaat bootjie wat sink as jy net roer in hom.
“Die fontein,” maal dit in my kop, “die fontein! Ek moet by die fontein uitkom om net weer van daardie heerlike soet water te kan proe!” Maar die donker vang my, en ek moet haastig terug na ons gastehuisie langs die rivier.
Laatnag lê ek in die kooi en rondrol. Ek sien in my geestesoog weer die fontein, halfpad teen die klipkoppie op. Kristalhelder, yskoue soet water borrel onder 'n reuse granietklip uit. Ek lê plat op my maag en drink my trommeldik aan daardie heerlike water tot my maag eintlik pyn. Ek kon nooit genoeg daarvan kry nie!
Dit is nog nie eers behoorlik lig die volgende oggend nie, of ek pak met dapper en stapper die klipkoppie agter die ou plaashuis aan. Daardie jare het ek dit sommer uitgehardloop! Nou stoom en blaas ek teen die steiltes uit. Uiteindelik is ek bo - die uitsig is asemrowend. Skurwe sandsteen klippe wat deur die eeue deur wind en weer gevorm is tot meesterlike kunswerke, lê verstrooi oor die hele koppie. My oog soek die fontein - daar is 'n onbegaanbare ruigte tussen my en die fontein. Ek probeer daar deur worstel, maar met trane in my oë moet ek naderhand tou opgooi! My teleurstelling is baie groot as ek nie by die oorsprong van die fontein kan uitkom nie. Ek soek die stroompie onderkant die fontein, en volg dit. 'n Wonderwêreld van woude en mistige dammetjies waar forelle baljaar vou voor my oop. ’n Ou wilgerboom hang lui-lui sy lang sliert-arms oor die stroompie. 'n Vleiland van papkuil-riete en aaronskelke wat wemel van lewe, omsoom die spiëelgladde watertjies. Naaldekokers swiep oor die mistigheid, en die enkele waterhondjie dans oor die water oppervlak. Onderkant die dammetjies strek 'n byna onbegaanbare vleiland, ver tot onder by die spruit, 'n vleiland deurspek met lewe!
My teleurstelling oor die fontein wat ek nie kan sien nie, gaan stadig oor in verwondering oor al die lewe wat hierdie enkele fonteintjie voed. Hoe wonderlik is dit dat 'n magdom van bome, plante en diere absoluut floreer, en letterlik jubel en juig as gevolg van daardie enkele fonteintjie wat onder die rots uitborrel!
“As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Só het Jesus dit daardie dag by die tempel uitgebasuin! As 'n klein fonteintjie in 'n klipkoppie by Waterval Boven soveel lewe kan gee, hoeveel te meer nie die Bron van alle lewe, Jesus nie. Was jy al by daardie bron? Het jy al geproe hoe soet die Lewende Water is wat Jesus gee? Tegwaan se bron was vir my versper sodat ek nie daar kon bykom nie. Die ware Bron, Jesus, is altyd toeganklik! Hy nooi jou eintlik dringend uit om daarheen te kom en te drink. As jy eenmaal geproe het aan die lewende water wat Jesus gee, dan borrel en bruis dit in jou op, en jy kan net eenvoudig nie stilbly daarvan nie!
Dit is daardie einste lewende water wat die Samaritaanse vrou met wie Jesus eenmaal gesels het, laat opspring het om die hele dorp te gaan vertel van Jesus, die Man wat vir haar nuwe lewe gegee het. Ja, so opgewonde was sy oor die wonderlike water, dat almal in Sigem na Jesus gestroom het om ook van daardie water te kry!
Die fonteintjie van my kinderjare se water maak my opgewonde, maar die Lewende Water wat Jesus gee laat my rondspring en jubel en sing van opgewondenheid, want Hy gee nie net lewe nie - Hy IS die lewe! In Hom en deur Hom het alle dinge tot stand gekom. Hy is die Bron van alle lewe!
Is jy ook opgewonde oor Jesus? Sê dit dan vir Hom, en sê dit ook vir almal waarmee jy vandag in aanraking kom.
Gebed:
Here, ek dank U vir die heerlike soet water van die lewensfontein waaruit U my gegee het om te drink!