Johannes 3:9-15
Nadat Jesus so mooi vir Nikodemus verduidelik het van die wind en die wedergeboorte, verstaan Nikodemus, die bekende leermeester, steeds nie. “Maar hoe is dit tóg moontlik?” sug hy.
Die metode wat Jesus gebruik om hierdie wonderlike waarhede aan Nikodemus bekend maak, is absoluut briljant. Hy sê net genoeg om die man aan die dink te sit, maar Hy sê dit op só ‘n manier dat dit by hom ‘n brandende begeerte laat om meer te wil weet. Dit word nie vir hom uitgespel nie, maar dit is ‘n raaisel om hom honger te maak om meer te wil weet.
Gister het ons gesien dat dit gaan oor die “geboorte van Bo”, die wedergeboorte. Hierdie is egter net die helfte van die storie. Dit gaan verder ook oor die wyse waarop jy God moet ken. Jy moet geestelik sensitief wees om Hom waarlik te kan leer ken, en dit gebeur slegs wanneer die Heilige Gees ingryp in jou lewe.
Vir Nikodemus, as wetsgeleerde Fariseër is hierdie nuwe idee totaal onverstaanbaar. Hy is immers geleer om streng volgens die riglyne van die wet te leef en noukeurig elke voorgeskrewe tradisie te onderhou. Só verwerf jy die saligheid! Waarom sou hy dan nou boonop ‘n nuwe geboorte nodig hê?
Maar dan laat verdiep Jesus die misterie wanneer Hy praat van die “aardse en hemelse” dinge. Hoe kom die aardse en die hemelse bymekaar? Wat het hulle met mekaar te doen? Met die aardse verwys Jesus waarskynlik na die wedergeboorte, wat wél hier op aarde plaasvind. As Nikodemus dít nie eers kan verstaan nie, hoe sal hy dan nog die wonderlike dinge verstaan wat daarná gebeur? Die wonder van die ewige lewe, en die manier waarop die Heilige Gees menselewens totaal verander, is iets wat jou verstand totaal te bowe gaan.
Eintlik kom die aardse en hemelse dinge bymekaar by die kruis op Golgota. Dit is hiér waar alles totaal verander het. Híér word die Joodse wet en tradisies vervang met Jesus se versoening. Jesus gebruik die beeld van die koperslang om vir Nikodemus te verduidelik. Tydens die Israeliete se uittog uit Egipte, het hulle weer in een van hulle berugte kerm-en-weeklaag sessies verval. Dit was al die hóéveelste keer, en beslis die laaste strooi wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het. Hulle het gekry waarvoor hulle gesoek het, die straf van God! Hy het slange gestuur en baie van die kermende Israeliete is gepik en dood. Maar weereens is God se genade baie groter as Sy straf, en toe beveel Hy Moses om ‘n afbeelding van ‘n slang uit koper te maak. Dié moes Moses op ‘n paal sit. Enigeen wat deur ‘n slang gepik is moes slegs na die koperslang kyk om genees te word.
Hierdie was eintlik ‘n wonderlike profetiese handeling, want daardie koperslang was ‘n heenwysing na Jesus. Hy sou ook so aan ‘n “paal” hang. Net soos wat die Israeliete wat na die koperslang gekyk het, sou bly leef, so sal die mense wat kyk na Jesus aan die kruis, oftewel in Hom glo, bly leef. Die koperslang was egter slegs ‘n simboliese en tydelike oplossing, want mense het steeds daarna gesterf. Die nuwe bedeling bring egter die permanente oplossing, want deur in Jesus te glo kry jy nie alleen lewe nie, maar die EWIGE lewe! Dit verskil radikaal van die doodgewone saai ou aardse lewe. Die kwaliteit van die nuwe lewe is onbeskryflik baie beter. Dit is egter nie iets wat eers eendag sal gebeur wanneer jy sterf nie, maar dit is iets wat alreeds gebeur met jou wedergeboorte.
Na jou wedergeboorte lewe jy nie meer alleen nie, maar God is saam met jou. Die Heilige Gees is IN jou en Jesus is van daardie oomblik af BY jou. In Paulus se brief aan die Filippense, beskryf hy watter soort uitwerking die nuwe lewe op die kwaliteit van jou lewe het. Omdat God in jou is, het jy nou hierdie borrelende blydskap wat jou lewe vul, selfs in die slegste toestande. Dit is wat gemaak het dat Paulus en Silas jubelend kon sing, terwyl hulle stukkend geslaan en in ysterkettings geboei in die stinkende tronk in Filippi gelê het. Hulle mede-gevangenes kon nie verstaan waarom hierdie twee dit kon regkry om so vrolik te sing nie.
Vandag is daar baie gelowiges wat kan getuig van so ‘n borrelende lewe gevul met blydskap, een van die wonderlike gawes van die ewige lewe. Dalk vra jy vanoggend die vraag: “Maar waarom het ek dan nie daardie blydskap in my lewe nie?” Dalk is dit bloot omdat jy nie die Heilige Gees wil toelaat om jou lewe só te vul en te beheer dat jy daardie blydskap kan ondervind nie.
Die ewige lewe het twee fases: die aardse en die hemelse. Tydens die aardse fase hang dit van jouself af wat jy daarmee maak. Hoe nader jy aan God leef en hoe meer jy Hom toelaat om jou lewe te beheer, hoe meer sinvol en vreugdevol sal dit wees. Elkeen wat in Jesus glo het alreeds die ewige lewe. Lééf dan daardie ewige lewe reeds hier op aarde voluit!
Gebed:
Here, ek kan U nie genoeg dankie sê vir die wonderlike gawe van die ewige lewe wat U ook vir my gegee het nie. Dankie vir die heerlike vreugde wat ook daarmee saamgaan.