Die Ewige Lewe

17 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Ewige Lewe

Johannes 3:9-15

VIDEO OUDIO

Jesus het so mooi vir Nikodemus verduidelik van die wind en die wedergeboorte, maar die slim leermeester verstaan nog steeds nie! Hy is stomgeslaan: “Maar hoe kan hierdie dinge gebeur?”

Die manier waarop Jesus hierdie wonderlike waarhede aan Nikodemus bekend maak, is absoluut briljant. Hy sê nét genoeg om die man aan die dink te sit, maar Hy sê dit op só ‘n manier dat dit by Nikodemus ‘n brandende begeerte laat om meer te wil weet. Dit word nie vir hom uitgespel nie maar amper in raaisels maak Jesus hom honger om nóg meer te wil uitvind.

Gister het ons gesien dat dit gaan oor die geboorte van Bo oftewel die wedergeboorte. Dis egter net die helfte van die storie. Dit gaan ook oor die manier waarop jy God moet ken. Om Hom waarlik te kan leer ken, moet jy geestelik sensitief wees - iets wat wél gebeur wanneer die Heilige Gees in jou kom en ingryp in jou lewe.

Nikodemus was die wetsgeleerde Fariseër wat streng volgens die riglyne van die wet geleef het en noukeurig elke voorgeskrewe tradisie onderhou het om sodoende die saligheid te kon verwerf en God te eer. Vir hom was hierdie nuwe idee totaal onverstaanbaar. Waarom sou hy dan óók nog ‘n nuwe geboorte nodig hê?

Jesus laat egter die misterie nog méér verdiep! Hy noem vir Nikodemus van die “aardse en hemelse” dinge en dan vra Hy hoe dié twee bymekaar kom en wat hulle met mekaar te doen het? Met die aardse verwys Jesus waarskynlik na die nuwe geboorte oftewel wedergeboorte wat wél hier op aarde plaasvind. As Nikodemus daarmee ‘n probleem het of dit nie kan verstaan nie, hoe sal hy dan nog die wonderlike dinge kan verstaan wat daarna gebeur? Die wonders van die ewige lewe, en die manier waarop die Heilige Gees menselewens totaal verander, is iets wat jou verstand totaal te bowe gaan!

Eintlik kom die aardse en hemelse dinge bymekaar by die kruis op Golgota. Dit is hiér waar alles totaal verander het en waar die Joodse wet en tradisies vervang is met Jesus se versoening. Jesus gebruik die beeld van die koperslang om vir Nikodemus te verduidelik. Tydens die Israeliete se uittog uit Egipte, het hulle weer in een van hulle berugte kerm-en-weeklaag sessies verval. Dit was al die hóéveelste keer, en beslis die laaste strooi. Hulle het gekry waarvoor hulle gesoek het - die toorn van God! Hy het slange gestuur en baie van die kermende Israeliete is deur hulle gepik en gedood. Maar weereens is God se genade baie groter as Sy straf. Hy het Moses beveel om ‘n afbeelding van ‘n slang uit koper te maak en op ‘n paal te sit. Enigeen wat deur ‘n slang gepik was kon slegs na die koperslang kyk om genees te word.

Hierdie was eintlik ‘n wonderlike profetiese handeling, want daardie koperslang was ‘n heenwysing na Jesus, wat ook so aan ‘n paal sou hang. Nét soos wat diegene wat na die koperslang gekyk het, sou bly leef, so sal die mense wat “kyk” na Jesus aan die kruis bly leef. Die koperslang was egter ‘n simboliese en baie tydelike oplossing, want mense het steeds daarna gesterf. Die nuwe bedeling bring egter iets wonderliks, want om in Jesus te glo bly jy nie alleen lewe nie, maar jy kry die EWIGE LEWE! Dit is iets wat radikaal verskil van die doodgewone saai ou aardse lewe en die kwaliteit daarvan is onbeskryflik baie beter. Dit is boonop iets wat nie eers ééndag sal gebeur wanneer jy sterf nie, maar dit is iets wat alrééds gebeur met jou wedergeboorte.

Van daardie oomblik af is daar ‘n baie belangrike verskil. Nou lewe jy nie meer alleen nie, maar God is saam met jou. Nou leef die Heilige Gees in jou, en Jesus is van daardie oomblik af by jou. In Filippense beskryf Paulus watter soort uitwerking dit op die kwaliteit van jou lewe het. Omdat God in jou is, het jy nou ‘n borrelende blydskap wat jou lewe vul, selfs in die slegste toestande. Dit is wat gemaak het dat Paulus en Silas jubelend kon sing terwyl hulle stukkend geslaan en in ysterkettings geboei in die stinkende tronk gelê het in Filippi. Hulle mede-gevangenes kon nie verstaan waarom hierdie twee dit kon regkry om so vrolik te sing nie!

Vandag is daar baie gelowiges wat kan getuig van so ‘n borrelende lewe gevul met blydskap. Dit is een van talle van die wonderlike gawes van die ewige lewe.

Moontlik vra jy vanoggend: “Maar waarom het ek dan nie daardie blydskap in my lewe nie?” Dalk is dit bloot omdat jy nie die Heilige Gees wil toelaat om jou lewe só te vul en te beheer dat jy daardie blydskap kan ondervind nie.

Die Ewige Lewe het twee fases, die aardse en die hemelse. Tydens die aardse fase hang dit van jouself af wat jy daarmee maak. Hoe nader aan God jy leef en hoe meer jy Hom toelaat om jou lewe te beheer, hoe meer sinvol en vreugdevol sal dit wees. Elkeen wat in Jesus glo het alrééds die ewige lewe. Lééf dan daardie ewige lewe reeds hier op aarde voluit!

Gebed:

Here, ek kan U nie genoeg dankie sê vir die wonderlike gawe van die ewige lewe wat U ook vir my gegee het nie. Dankie vir die heerlike vreugde wat ook daarmee saamgaan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026