Inleiding tot die Evangelie volgens Markus
“Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God.” Met hierdie kort sinnetjie vertel Markus presies waaroor sy boek gaan. Dis in die eerste plek die opskrif van die inleiding van die boek, maar dit vertel ook iets van die hele wese van die boek. Markus noem sy boek bloot: Die Evangelie, oftewel Goeie Nuus! Waaroor sou hierdie goeie nuus gaan? Natuurlik oor Jesus en oor die verlossing wat Hy gebring het. Markus se hele boek handel dus slegs oor een enkele Persoon: Jesus!
‘n Kritikus oor literêre werke sou vir Markus ‘n nul gegee het vir sy boek se openingswoorde. In ‘n goeie speurverhaal sal jy moet wag tot die héél laaste bladsy om uit te vind wie die skuldige is. In Markus se verhaal blaker hy sommer in die héél eerste sinnetjie uit wie die belangrike Persoon is. Maar dan is dit mos só, dat jy reg van die begin af moet verstaan waaroor dit gaan, dat Jesus die Christus, die Seun van God is. Sonder hierdie feit sou die boek van géén waarde wees nie!
Die vraag is of dit werklik die moeite werd vir my is om ooit hierdie boek te lees? Is dit vandag nog énigsins van waarde vir ‘n moderne gelowige? Hou die boek werklik vandag steeds ‘n aktuele boodskap in?
Markus se boodskap is in ‘n sekere sin baie kontroversieel. Ek het al baie mense hoor sê, dat as jy ‘n Christen-gelowige is en ernstig is oor jou geloof, sal alles net goed gaan met jou. Teëspoed sal dan nóóit jou pad kruis nie, en jy sal blakend gesond wees. Jou sake sal suksesvol wees, en voorspoed sal jou metgesel wees. Markus sê: Nee, dis nie waar nie! Eintlik is júís die teenoorgestelde waar, want as jy waarlik vir Jesus wil volg, moet jy bereid wees om swaarkry te beleef!
Waarom doen jy nog dan al die moeite om Jesus te volg, as dit vir jou net swaarkry in die sak bring? Oor die eenvoudige rede, dat as jy die dag besef dat Jesus waarlik die Seun van God is, kan jy net eenvoudig nie anders nie as om Hom onvoorwaardelik te volg volgens Sy voorskrif. O, dis beslis nie ‘n maklike paadjie nie!
Die Jode wou Jesus eintlik op ‘n ander manier volg. Hulle het van Hom verwag om hulle van die Romeinse juk te verlos sodat hulle triomfantlik in vrede sou kon leef. Dit was selfs vir die dissipels moeilik om te begryp dat dit nie Sy missie was nie, en dat Hy eintlik gekom het om te ly en te sterf.
Eers wanneer ons hierdie waarheid werklik begryp, begin ons besef dat as die Seun van God moes ly, dan kan ons beslis nie aanspraak maak op ‘n gemaklike lewe nie! Ek moet óók bereid wees, nés Jesus, om my kruis op te neem, myself te verloën, en Hom te volg!
Wie het hierdie Evangelie geskryf?
Baie eenvoudig: Sy naam was Markus. Ongelukkig is dit ál wat ons van hom weet. Daar is baie teorieë oor wie presies hy was, soos dat hy die Johannes Markus is waarvan ons lees in Handelinge 12. Dis egter slegs gissings, en ons weet absoluut niks van hierdie onbekende skrywer nie, behalwe dat hy ‘n Joodse Christen was, en dat Grieks nie sy moedertaal was nie.
Wat ons egter wél weet, is dat dit die heel eerste volledige Evangelie is wat geskryf is en dat dit ongeveer 65 of 70nC geskryf is, sowat 35 jaar na Jesus se kruisiging en opstanding. Voor Markus sy verhaal geskryf het, was die gebeure mondelings oorgedra, en daar mag dalk moontlik ook van die gebeure op skrif gestel gewees het. Markus sowel as Matteus maak gebruik van hierdie bron om hulle boeke saam te stel.
Het Markus op ‘n dag maar net gaan sit en die verhaal van Jesus begin skryf? Beslis nie! Dit was ‘n Goddelike inspirasie van die Heilige Gees wat daartoe gelei het dat hy hierdie wonderlike, meesleurende verhaal van Jesus, die Seun van God wat gekom het om te ly en te sterf vir ons verlossing, op skrif te stel sodat almal daarvan kon kennis neem.
Nadat Markus sy verhaal geskryf het, het Matteus sowel as Lukas dit onder oë gekry, en hulle het gebruik gemaak van baie van die inligting in Markus se boek sowel as ander bronne om hulle eie weergawes van die Evangelie neer te pen. Elkeen van hulle het egter sy eie unieke stempel afgedruk, want hulle het elkeen die verhaal geskryf uit ‘n totaal ander oogpunt.
Vir wie het Markus oorspronklik die boek geskryf? Ons kan aflei dat dit vir gelowiges was wat in ‘n baie moeilike tyd van konflik geleef het. Die Romeine het oorlog gemaak teen die opstandige Jode, en dit kon dalk vir húlle bedoel gewees het. ‘n Ander moontlikheid is ook dat dit geskryf was vir die gelowiges wat so wreed deur Nero vervolg was. Vir hulle was die boodskap dat Jesus nie maar net iemand was wat in Palestina geleef het nie, maar dat Hy ook húlle soort lyding moes verduur.
Vandag wil Markus ons moed gee in die situasie waarin ons onsself bevind, waar geweld, oorlog, konflik en swaarkry aan die orde van die dag is. Jy sal dan ook duidelik sien dat Markus nie eers meld van die geboorte en kindertyd van Jesus nie, maar dat hy sommer wegval in die héél eerste hoofstuk met Jesus in die genadelose woestyn, en die duiwel wat Hom versoek.
Ek nooi jou uit om saam met my deur die bladsye van hierdie aangrypende boek te stap op soek na God se wil vir ons lewens.
Gebed:
Here, ek wil U graag dien met my hele hart, al beteken dit dan ook vir my swaarkry.