Die Emmaus Verhaal

1 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Emmaus Verhaal

Lukas 24:1-35

Daar heers ‘n groot opgewondenheid onder Johannes en sy mede-volgelinge van Jesus. Sondagaand het al aangebreek, en steeds koek die klomp bymekaar in Martha-hulle se huisie. Almal is daar, buiten Thomas. Hy was baie skepties oor dít wat die vroue vertel het. Selfs aan Petrus en Johannes se storie, het hy baie langtand gekou, voordat hy dit uitgespoeg het. En toe loop hy! Hy het beter dinge gehad om te doen!

Het Thomas maar ‘n bietjie langer gewag, dan het hy dalk Maria se asemrowende storie gehoor. Dan sou hy dalk anders oor die saak gevoel het!

Ja, skaars het Thomas om die draai verdwyn, of Maria kom uitasem daar aangehardloop. Haar gesig het gegloei van pure opwinding. “Ek het Hom gesien! Ek het Hom gesien!” is al wat sy kon uitkry.

“Wie het jy gesien?” Johannes is nou baie nuuskierig.

Eers nadat hulle vir Maria ‘n beker water ingegee het, raak sy ‘n bietjie rustig, en kon sy haar ongelooflike verhaal vertel: “Toe die ander twee huistoe hardloop, het ek nog ‘n bietjie daar in die tuin rondgeloop. Ek wou probeer sinmaak van al die dinge. En toe, terwyl ek daar doelloos ronddwaal, sien ek ‘n man aangestap kom. Ek kon nie sien wie dit was nie, my oë was skoon dof gehuil. Ek dog dis die tuinier wat dinge daar by die grafte netjies hou. Ek was moedeloos, en toe sommer in die ingewing van die oomblik vra ek hom of hy nie dalk weet wat van Jesus se liggaam geword het nie. Ek wou weet of hy dit dalk gevat het en iewers anders gaan wegsteek het. Ek het vir hom gesê dat ek nie omgee om die liggaam sélf te gaan haal nie! En toe…….”

Trane stroom oor Maria se gesig, en haar stem raak weg van aandoening.

“En toe wat?” Nou is Johannes baie ongeduldig. Kan die tante dan nie haar praat klaarpraat nie?

Wanneer Maria weer haar stem terugkry, gaan sy voort: “En toe sê Hy vir my: ‘Maria!’ En toe wéét ek! Ek het dadelik Sy stem herken!”

“Wie se stem, Maria? Wie s’n?” Johannes kan nou nie meer sy ongeduld beteuel nie.

“Die Meester s’n! Jesus!”

Asems word verbaas ingetrek: “Jy het Hom sélf gesien? Met jou eie twee oë?”

“Toe ek opkyk na Sy gesig, het ek Hom dadelik herken. Ek sê julle nou, Hy leef! Hy het uit daardie graf opgestaan, nés die twee engele vir ons gesê het!”

‘n Opgewonde ruising het deur die vertrek gegaan terwyl almal gelyk gepraat het. “Maar daar is meer!” maak Maria hulle stil. “Hy het vir my ‘n boodskap gegee om aan julle oor te dra. Hy het gesê dat ek vir julle, Sy broers moet sê dat julle na Galilea toe moet gaan en daar vir Hom gaan wag. Hy sal julle daar sien.”

Terwyl die aandskemering oor hulle daal, herkou Johannes weer aan al die dinge wat die Sondag gebeur het. Die leë graf, Maria Magdalena se storie. Alles is net een te veel vir hom.

Dan skielik is daar ‘n dringende gehamer aan die deur. Johannes vlieg verskrik op en gaan maak oop. Twee manne staan daar, Kleopas en sy maat, uitasem gehardloop, en met stralende gesigte. Almal spring op om te kom kyk waaroor die geraas gaan. “Ons het Hom gesien!” hyg die manne. En dan begin hulle opgewonde vertel.

Daardie oggend was hulle op pad na Emmaus, toe daar skielik iemand by hulle aangesluit het. Hulle het Hom gladnie herken nie. En toe begin Hy met hulle gesels en Hy verduidelik alles van Jesus se kruisiging en Sy begrafnis en dat Hy opgestaan het. Hulle monde het oopgehang, want Hy het alles uit die Skrif vir hulle aangehaal. Hulle het Hom later uitgenooi om saam met hulle te kom eet. En dit is daar, tewyl hulle eet, toe hulle Hom herken, Jesus! Dit was asof skille van hulle oë afgeval het, en eers tóé sien hulle wie dit werklik was wat al die pad saam met hulle geloop het!

En toe verdwyn Hy! Hulle het dadelik opgespring en al die pad teruggehardloop na Jerusalem om die nuus te kom oorvertel. “Hy leef! Hy het waarlik opgestaan!” borrel die twee manne.

Johannes skud sy kop heftig om sy gedagtes te probeer regruk. Die volgende oomblik hoor hulle die bekende, vriendelike stem van Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En daar staan Hy! In lewende lywe staan Jesus tussen hulle.

Johannes-hulle het al die goed van die dag beleef en gehoor, maar steeds is dit so verskriklik onwerklik. Net drie dae tevore het hulle Hom sélf daar aan die kruis sien hang, en het hulle met hulle eie oë aanskou hoe Hy dood is. En nou staan Hy hier saam met hulle! Johannes en sy maats bewe van angs! (Word vervolg!)

Gebed:

Here, ek is vanoggend saam met die Emmausgangers opgewonde oor U opstanding. Jesus leef waarlik! Ek wil dit uitskreeu vir die ganse wêreld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026
Die Vyeboom
19 October, 2026