Die Dood se Angel is Weg

5 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Dood se Angel is Weg

Johannes 11:1-16

VIDEO * OUDIO

Net buite Jerusalem was daar ‘n dorpie met die naam Betanië. Daar het ‘n groepie mense gewoon wat vir Jesus baie na aan die hart was: Maria, haar suster Marta en hulle broer, Lasarus. Veral Maria het ‘n groot plek in Jesus se hart gehad, want sy was die een wat die kosbare flessie reukolie gebreek het en die inhoud daarvan op Jesus se voete uitgegooi het. Jy onthou seker nog hoe kwaad Judas hieroor was, want hierdie olie was ‘n hele jaar se salaris werd - wat ‘n vermorsing! Maar Maria het doodeenvoudig voortgegaan en Jesus se voete met haar los hare afgedroog - ‘n wonderlike daad van liefde!

Nou was hulle egter in gróót nood - Lasarus was dodelik siek! Jesus was hulle enigste hoop. Daar was egter ‘n probleem, want Jesus en Sy dissipels moes inderhaas vlug vir die Jode en hulle was nou in die landstreek Perea, oorkant die Jordaan. Dit sou minstens twee dae neem vir die boodskap om Jesus-hulle te bereik en die situasie was kritiek!

Daar was waarskynlik ‘n paar uiters moeilike vrae gevra deur Lasarus se vriende. Sou hulle ooit betyds kon wees? Sou Jesus dit ooit waag om terug te kom om Sy vriend gesond te maak?

Wanneer hulle twee dae later by Jesus-hulle aankom, was die twaalftal baie bang. Dit was mos lewensgevaarlik vir Hom! Die Jode sou Hom hierdie slag beslis nie weer laat wegkom nie! Eintlik kon Jesus mos maar net die woord spreek, en Lasarus sou gesond wees! Dis mos wat Hy gedoen het met die soldaat se seun! Die manne was baie bekommerd - wat sou hulle Meester doen?

Toe stel Jesus hulle gerus: Lasarus se siekte sou nie sy dood beteken nie - dit sou egter Jesus se mag openbaar. Die volgende dag het Hy, tot groot ontsteltenis van die manne bloot rustig voortgegaan om te preek en mense gesond te maak. En so ook die dag daarna. Uiteindelik deel Hy die ontstellende nuus mee aan die twaalftal: “Ons gaan na Judea toe”. Die manne was geskok! Hoe kon Jesus so ‘n onverantwoordelike ding wou staan en doen? Dit was mos om Sy eie dood te soek! Die Jode sou Hom verséker daar in die hande kry en dan sou dit klaarpraat wees! Maar Jesus was vasberade - Hy wóú na Betanië toe gaan!

Toe sê Jesus ‘n baie snaakse ding vir die manne: “Ons vriend Lasarus slaap, maar ek gaan om hom wakker te maak.” Wat sou Hy hiermee bedoel? Ons weet tog dat Lasarus teen hierdie tyd alreeds dood was en Jesus het dit sékerlik ook geweet. Waarom sou Hy dan sê dat Lasarus net slaap?

Daar is ‘n baie goeie verduideliking. Vir Jesus was die dood so gering soos wat dit is vir iemand om te slaap. Vir ons is die dood dikwels ‘n verskrikking - die einde van die pad. Daar kom alles uiteindelik tot stilstand! Dis klaar! Dis verby! Jesus het dit egter baie anders gesien, want die dood is slegs die poort na die nuwe lewe wat vir ewig aanhou. Dit is dus niks meer as ‘n doodgewone slapie nie en wanneer jy wakker word, is jy aan die anderkant van die poort. As ons tussen die lyne lees, sien ons dat dit aan daardie kant van die poort asemrowend mooi en skoon en rein en wonderlik is. Ek sien met groot verlange uit daarna!

Natuurlik het die manne Hom totaal verkeerd verstaan. As ‘n siek persoon slaap, is sy kanse op herstel soveel groter. Dit was dus mos nie meer nodig vir hulle om na Betanië te gaan nie. Toe help Jesus hulle maar reg: nee, Lasarus was dood, en dit wás nodig om daarheen te gaan. Toe sê Jesus nóg ‘n onverstaanbare ding, dat Hy bly was dat Hy nie daar was met Lasarus se afsterwe nie. Waarom sou Hy dit sê? En waarom het Hy dan nog ‘n volle twee dae se tyd verkwis terwyl Hy geweet het dat Lasarus al klaar dood was? Nou sou dit nóg ‘n verdere twee dae neem om in Betanië te kom en die arme Lasarus se lyk sou in daardie hitte dan al lankal ontbind wees!

Weereens was daar ‘n baie goeie rede vir Jesus se optrede. Die geloof daardie tyd was dat iemand se siel nie dadelik sy liggaam verlaat het wanneer hy sterf nie. Die siel het daar bly rondhang, net vir die wis en die onwis. Eers wanneer die liggaam begin ontbind, drie of vier dae na sy sterwe, sou die siel na die “onderwêreld” vertrek. Hulle vertel dat daar Griekse dokters was wat beweer het dat hulle iemand uit die dood terug sou gebring het, maar dat die kêrel nog nie eers behoorlik dood was nie, menende dat sy siel nog steeds in die omtrek was.

Jesus wou verseker dat almal sou weet dat Lasarus onherroeplik dood was en dat niemand sou kon sê dat sy siel nog in die omgewing was nie. Dan sou niemand kon sê dat dit nie ‘n wonderwerk van God was nie. Thomas se moedelose reaksie was: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe”. Hoe ironies dat toe Jesus vir Lasarus lewe gee, dit juis die laaste strooi was vir die Jode om Hom om die lewe te bring. Jesus se handeling het egter nie alleen vir Lasarus lewe gegee nie, maar dit het ook die ewige lewe aan Jesus se dissipels gegee, asook aan elkeen wat in Hom glo!

Jesus was rustig hieroor, want Hy het geweet dat as gelowiges bereid is om Hom te volg, al is dit ook in die grootste gevaar denkbaar, dat ons steeds op Hom kan vertrou. Niemand sal ons uit Sy hand ruk nie, selfs nie eers die dood nie!

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek selfs vir die dood nie eers hoef te vrees nie, want U hou my styf vas!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026