Die Dood is Oorwin

31 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Dood is Oorwin

Johannes 11:33-44

Video

Audio

Mag jy huil? Mag jy maar bedroef wees? Paulus leer ons dan om altyd blymoedig te wees! Om selfs deur die allerverskrikste situasie nog vrolik te moet kan sing en te lag. Dan pas huil mos nêrens in die prentjie in nie. Of hoe?

Ons tref vir Jesus aan waar Marta by Hom staan en Maria aan Sy voete kniel. ‘n Skare huilende mense drom om Hom saam. Dit is ‘n bitter droewige prentjie. En dan kom die verrassende, as Jesus se gemoed vol skiet, en Hy ook huil. Waarom?

Ek kom dikwels op begrafnisse, baie van hulle van mense wat ek nie eers ken nie. Omdat ek help met die klankversorging in die gemeente, moet ek noodgedwonge maar uithelp. Ons klankbeheer is op ‘n verhogie agter die gemeente, en ek het dus ‘n mooi uitsig oor alles wat aangaan. As ek dan tydens so ‘n roudiens my oë oor die mense laat gaan, sien ek die droefheid op die gesigte. Hulle het iemand dierbaar verloor, en hulle huil. Ek kry die arme ouens wat die bedankings doen so bitter jammer. Hulle begin gewoonlik vol moed en selfvertroue praat, en dan skiet die gemoed vol, en kry hulle bykans nie ‘n woord uit nie. Hierdie gebeure is gewoonlik een te veel vir my, en ek huil heerlik saam met almal daar onder, al ken ek hulle van g’n kant af nie. Dit is op sulke tye dat ek die Here dank dat ek nooit ‘n predikant geword het nie, want ek is gans te emosioneel. Hoe kry hy dit reg om nie saam te huil nie?

Ja, ‘n mens, selfs ‘n man, mag maar huil. Vrouens doen dit so natuurlik! Maar waarom het Jesus gehuil? Was dit omdat Hy waarlik vir Lasarus so lief gehad het? Dis wat die Jode gedink het. Nee, ek dink nie so nie, want Jesus was tog deeglik bewus van die dinge wat sou volg. Hy het geweet dat Hy Lasarus kon opwek, en boonop dat Lasarus die ewige lewe het, en dus nie werklik dood is nie. Gewoonlik soek mense Jesus se droefheid in die kortsigtigheid van Sy vriende. Hulle ken Hom deeglik, en Marta het boonop dan so pas bely dat Hy die Christus is en dat sy dit met haar hele hart glo. Tóg is daar in hulle harte steeds daardie onsekerheid, en kan hulle nét maar nie die volle prentjie raaksien nie. Is Jesus bedroef omdat hulle ten spyte van alles nie kan verstaan nie?

Dalk moet ons ‘n paar verse aanlees om ‘n beter prentjie van Jesus se droefheid te kry. Jesus wil na Lasarus se graf geneem word. Dan volg al die opmerkings as mense sien dat Hy huil, sommige van hulle vol deernis. Maar daar is ook die snedige aanmerkings: “Hy kon ‘n blinde man laat sien - kon Hy nie hierdie vriend van Hom ook gered het nie?” Ons lees in hulle opmerkings ‘n vyandigheid, ‘n verwyt en ongeloof. Weereens skiet Jesus se gemoed vol, en Hy huil. Dalk moet ons dus Sy hartseer sien, nie oor Lasarus nie, maar oor die onkunde en sondigheid waarmee Hy hier te doen kry. Jesus moes sékerlik geweet het dat, alhoewel daar gelowiges onder hierdie mense was wat beslis saam met Hom in die paradys sou wees, die grootste deel van hierdie mense op pad was die ewige verderf in. Ek sien dus Jesus se droefheid oor almal wat besig was om verlore te gaan as gevolg van hulle ongeloof.

Intussen kom die huilende stoet by die graf aan, heel waarskynlik presies dieselfde soort graf waarin Jesus nie lank daarna nie ook in begrawe sou word. Dit was ‘n gat wat uitgekap is uit die rots, en met ‘n groot klip wat voor die opening gerol is om dit te seël. Hier is die lyk neergelê. As dit eenmaal verseël is, word so ‘n graf beslis nie weer oopgemaak nie, want natuurlik is die reuk van die ontbindende lyk onhoudbaar. G’n wonder nie dat Marta wil keer as Jesus die ondenkbare vra, dat die klip weggerol word.

Ai Marta! Sy het met haar eie oë talle asemrowende wonderwerke aanskou wat Jesus gedoen het. Sy herken dat Hy die Seun van God is, maar steeds kan dit nie in haar verstand indring dat Hy tot alles, absoluut hééltemal alles in staat is nie, selfs om haar broer uit die dood te laat opstaan! Dit sou natuurlik beteken dat Lasarus se liggaam in ‘n sekere sin herskep sou moes word, omdat Hy al begin ontbind het. Maar vir die Skepper van die heelal is hierdie ‘n nietigheidjie - vandag sou God se almag aan haar en al die ander om haar openbaar word.

Die doodsreuk het sékerlik om die groep gehang toe die klip weggerol is. Maar dan bid Jesus dat die Vader Hom ter wille van die omstanders die wonder van lewe sal gee. Na dese moet daar géén twyfel wees dat Jesus waarlik die Seun van God is nie. Op Jesus se bevel, sien ons vir Lasarus springlewendig uit die graf gestap kom, steeds toegedraai in sy grafdoeke.

Jesus is inderdaad die opstanding en die lewe. Elke roubeklaer wat daardie dag in Betanië was, móés dit met hulle eie oë sien. Vandag is hierdie maar net een van talle sulke wondere wat ons as gelowiges se geloof versterk, en net weereens vir ons sê dat by Jesus niks, maar níks onmoontlik is nie. Glo jy dit? Ek glo met my hele hart!

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan weet dat ek ‘n Almagtige God aanbid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026