Openbaring 13:1-10
Satan se aanslag teen die kerk het misluk, en nou trek hy versterkings nader, die dier uit die see en die dier uit die aarde. Hulle kry die groot taak om die Satan se saak op aarde te kom propageer.
Die eerste dier kom uit die see uit op. Net soos die “onderaardse diepte” is die see ook simbolies die woonplek van die bose.
In Daniël 7 lees ons van ‘n droom waarin Daniël vier diere, oftewel vier wêreldmagte sien wat teen God se volk opruk. Daar is nogal groot ooreenkomste tussen Daniël se diere en dié wat Johannes in Openbaring 13 beskryf.
Die dier in Openbaring 13 is ‘n kombinasie van Daniël se diere, en die tien horings, wat simbolies is van die dier se mag, kom ooreen met Daniël se vierde dier, ‘n vreesaanjaende en baie sterk dier.
Die dier wat Johannes hier beskryf lyk soos ‘n luiperd, wat sy geslepenheid beklemtoon. Dit het die pote van ‘n beer, wat vir ons sê dat die dier oorweldigend is. Verder het hy die bek van ‘n leeu, wat sy geweldige krag impliseer. Die sewe koppe stem ooreen met die draak, en die tien heerserskrone vertel van sy magtige heerskappy. Die godslasterlike name op sy koppe sinspeel op die Romeinse keisers wat vir hulleself goddelike titels toegeëien het, en dat hulle selfs daarop aangedring het om aanbid te word.
Wat beteken hierdie dier? Dit verpersoonlik die Romeinse owerheid wat in Johannes se tyd die kerk van Christus só wreed vervolg het. Hierdie ryk kan met reg aanspraak maak op die titel van Antichris. Sy opdragte ontvang hy van die draak (Satan).
God laat die gesag van die dier toe vir ‘n tydperk van twee en veertig maande, ‘n simboliese tyd van die vervolging van die kerk. Dit is opvallend dat God aan hom die gesag gee, en dat hy toegelaat word om dit uit te oefen, en selfs teen God te laster. Hy word selfs toegelaat om teen die gelowiges oorlog te maak en te oorwin. Ons moet egter onthou dat hierdie oorwinning slegs hulle liggame tref, maar dit maak nie die oorwinning wat die Lam reeds oor die gees behaal het ongedaan nie.
Dit is interessant dat die dier in sekere opsigte die Lam naboots. Ons sien dit in sy mag, heerskappy en groot gesag waarin hy dié van die Lam naboots. Net soos die Lam is hy ook dodelik gewond, maar hy oorleef wonderbaarlik. Eintlik hérleef hy en die wêreld staan in verwondering oor hom.
Daar is ‘n legende dat Keiser Nero selfmoord gepleeg het, maar dat hy weer herleef het (soos die dier?) om verder te kon regeer. Sy “wonde” het glo weer wonderbaarlik “genees.” Die wêreld het die draak (die duiwel) aanbid, en nou aanbid hulle ook die dier, terwyl hulle die arrogante vraag vra: “Wie kan met die dier vergelyk word?” In alle opsigte lyk dit of daar ‘n parallel is met Christus, maar hierdie is slegs ‘n bose poging tot ‘n parallel. Alhoewel die wêreld die dier aanbid, is dit nie die geval met die gelowiges nie. Hulle word bewaar omdat hulle God se eiendom is wat teen ‘n duur prys gekoop is!
Aan die einde van hierdie perikoop is daar ‘n oproep aan die gelowiges om geestelik wakker te loop. Hulle moet verwag om gevangenskap en selfs die dood tegemoet te gaan, en hulle moet bereid wees daartoe. Dit moet hulle doen met geloof en volharding. Ja, swaarkry sal daar wees, tot die uiterste toe, maar hulle moet aanhou glo en volhard.
Grusame tonele het hulle afgespeel in die tyd van die Romeinse ryk, en veral tydens die regering van die wrede Nero. Talle Christene is vir die leeus gevoer om opgevreet te word ten aanskoue van ‘n bloeddorstige skare jillende Romeine. Sommige Christene is selfs met teer besmeer en as fakkels aan die brand gesteek om saans die strate te verlig. Ander is wreedaardig gekruisig of summier deur soldate doodgemartel, en dit het gelyk asof dit die einde van die kerk was. Wonderlike dinge het egter plaasgevind, en daar is sielsverrykende verhale van talle gelowiges wat jubelende lofsange gesing het terwyl hulle wreed gesterf het. Hulle het geweet waarheen hulle op pad was, en ek is seker dat talle van hulle die hemel geopen voor hulle gesien het, met Jesus wat met uitgestrekte arms vir hulle wag, terwyl hulle daar die wrede dood en die tirade van die duiwel in die oë gestaar het!
Vandag gebeur soortgelyke dinge nog steeds. Omdat ons veilig in beskaafde lande bly, hoor ons maar net so af en toe van die vervolging van gelowiges in die geslote lande. Die dier is egter nou desperaat, en hy gaan verwoed voort om gelowiges wreed te vervolg. Kom ons bid gedurig vir hulle.
Gebed:
Here, ons dank en loof U dat U die weg vir ons berei het, en dat ons verseker kan wees van ‘n toekoms saam met U. Waar ons daagliks die dood in die oë staar in ‘n bitter onseker wêreld waar dit lyk of die bose oorheers, wil ons vandag vra dat U ons hande styf sal vashou en ons oë gerig sal hou op Jesus. Gee ons die krag en genade om die aanslae van die bose te kan verwerk sodat ons staande kan bly.