Efesiërs 3:1-13
Wat ‘n wonderlike voorreg om ‘n uitgestuurde van God te kan wees! As God jou as gesant gebruik en stuur om die blye boodskap van Sy heerlike genade en liefde uit te dra, is dit só ‘n groot voorreg! Oorspronklik was daar ‘n twaalftal manne, persoonlik deur Jesus uitgekies vir hierdie taak. Drie jaar lank het hulle intensiewe praktiese opleiding gekry. God het egter besluit om ook ‘n dertiende apostel aan te stel, iemand wat, anders as die ander, ‘n intensiewe teologiese opleiding gehad het, wat hom in staat sou stel om later briewe te kon skryf wat die volle betekenis en omvang van die Evangelie in fyn detail beskryf. En so het dit gebeur dat die briljante teoloog, Paulus totaal teen sy wil deur God tot stilstand geruk word op die Damaskuspad, waar Jesus persoonlik met hom kom praat het.
Aanvanklik was die ander apostels baie skepties oor hierdie skielike lewensverandering van Paulus, en die Joodse Christene het baie swaar gesluk aan hierdie man wat hulle eers vervolg het en nou skielik vir hulle wou kom preek. Eers etlike jare ná sy Damaskus-ondervinding kry Paulus die opdrag van God om die Evangelie, nie aan sy mede-Jode te gaan verkondig nie, maar aan die heidennasies.
As ‘n stoere Jood en boonop ‘n Fariseër wat verskriklik eng wetsgebonde was, moes dit vir Paulus bitter swaar gewees het om “Ja” te sê toe God hom stuur. Hy moes letterlik alles wat hy deur die jare geleer het, oorboord gooi en ‘n totale nuwe perspektief kry van godsdiens. Heidene was “onrein addergebroedsels,” só was dit immers in hom ingehamer en nou sou dit beteken dat hy sy reinheid moes prysgee. Paulus was egter baie opgewonde oor sy opdrag en hy het dit met volle oorgawe uitgevoer. Niks, absoluut niks het in sy pad gestaan nie, selfs nie eers die dood was vir hom ‘n struikelblok nie! En toe hy in die tronk beland, het hy doodeenvoudig voortgegaan deur briewe te skryf om sodoende die Evangelie verder te verkondig.
Paulus sien hierdie opdrag om die Evangelie aan die heidene te verkondig nie as ‘n las op sy skouers nie, maar as ‘n geweldige voorreg. Boonop nie een wat hy verdien het deur sy toewyding of geleerdheid nie, maar suiwer genade van God. Selfs sy gevangenisskap is nie vir hom die einde van die wêreld nie, maar hy bemoedig die lesers van hierdie brief uit die tronk. Nee, hulle moes nie vir hom jammer voel omdat hy in die tronk was nie. Nog minder moes dit hulle moedeloos maak. Dit was vir hom ‘n groot eer om ter wille van hulle in die tronk te wees!
Dit klink so verskriklik onregverdig en jy sukkel om dit te verstaan. Paulus verkondig die Evangelie met soveel passie, maar sy eie mense, die Joodse Christene in Jerusalem wil hom nie aanvaar nie. Op die sendingveld gaan dit ook nie makliker nie, keer op keer ervaar hy verwerping, veral van die Jode. Nogtans voer hy God se opdrag uit. Talle kere word hy uit ‘n stad uitgesmyt as dinge vir die inwoners te warm begin raak. Dan gaan Paulus doodeenvoudig maar net na die volgende stad en begin van voor af.
En toe kom sy laaste reis na Jerusalem waar die Jode hom in hegtenis laat neem. Hulle het lankal sy bloed gesoek en hier is hulle geleentheid nou uiteindelik. Die ergste is dat Paulus dit verwag het! Hy word na Rome gestuur waar hy eers in huisarres geplaas word en later in die tronk beland.
Onregverdig? Nee, beslis nie! God het dit beskik dat die Joodse Christene Paulus sóú verwerp sodat die Evangelie oor die res van die wêreld versprei kon word. As mense dit vir Paulus baie gemaklik in ‘n stad gemaak het, sou hy dalk net in die een stad wou bly. Dit was nodig dat die Evangelie so wyd as moontlik verkondig word en Paulus het die wêreld behóórlik platgery. En toe kom die tronk. Waarom moes hy soveel jare in die tronk deurbring, as hy dalk baie meer vrugbaar die Evangelie elders kon verkondig? Baie eenvoudig: daar het menige briewe die lig gesien omdat hy gedwing was om te skryf. Baie van hierdie briewe het behoue gebly en vir die afgelope tweeduisend jaar al lees miljoene mense daagliks Paulus se “preke”. Hoe wonderlik het God nie hier voorsien nie, want as hy nie in die tronk was nie, het ons dalk nooit daardie waardevolle brieweskat gehad nie. Of Paulus ooit besef het wat die ware doel van sy gevangenskap was, weet ons nie, maar wat ons wel weet is dat hy sy lot met blydskap en jubeling aanvaar het. God het dit só beskik en daarom was hy tevrede sonder om te mor.
Ons staan dikwels skuldig voor God, want in elke ou dingetjie wat met ons gebeur sit ons ‘n lang gesig op. As die lewe se skoen ‘n bietjie op ons liddorings druk, dan kerm ons! Dikwels verstaan ons nie waarom dinge met ons gebeur nie en ons pleit by God om ons te verlos van ons ellende. Wéét vandag verseker dat God ‘n doel het met elke ding in jou lewe! Leef, soos Paulus, voluit vir Hom en wanneer die swaarkry jou tref, wees dankbaar, want êrens agter dit is ‘n groot doel wat jy dalk nie nou sal verstaan nie. Maar God weet waaroor dit gaan en daarom kan ons dit met vertroue aanvaar.
Gebed:
Here, leer my asseblief om U wil met blydskap te aanvaar, selfs al moet ek ly.