Die Boodskapper

8 December, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Boodskapper

Lukas 1:26-80

Video - Oudio

Bybel aanhalings kom almal uit die nuwe 2020 vertaling.

Ons Kersverhaal skuif vanoggend na ‘n jong, veertienjarige meisie met die naam Maria. Sy was verloof aan die ambagsman Josef, ‘n verlowing wat haar pa gereël het. Dit is belangrik om te weet dat Maria nog steeds ‘n maagd was, want dit was van uiterste belang dat ‘n meisie nooit omgang sou hê tot die dag van haar huwelik nie. 

Een oggend verskyn daar skielik ‘n man in wit klere uit die niet voor Maria: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!” Maria het haar yskoud geskrik. Sy was totaal verbysterd! Baie gou stel die engel haar gerus: “Moenie bang wees nie, Maria.” Maar dan deel hy haar die ontstellende nuus mee: “Kyk, jy sal swanger word en aan 'n seun geboorte skenk.

Maria se knieë raak lam. Dan beskryf die engel in detail allerhande dinge wat haar verstandjie gladnie wou begryp nie. Sy moes hoor dat Hy die Seun van die Allerhoogste genoem sou word, en haar Seun op die troon van Sy voorvader Dawid sou sit  en vir ewig as Koning sou heers.

Maria se kop het gedraai. Alles was net hééltemal te veel vir haar. “Hoe kan so iets moontlik wees?” protesteer sy. Sy maak dit duidelik dat sy nog nooit met ‘n man omgang gehad het nie. Maar dan verduidelik die engel van die Heilige Gees wat die lewe in haar sou wek. Hy vertel ook vir haar van haar bejaarde tante Elisabet wat swanger was. As só ‘n wonderwerk met haar kinderlose tante kon gebeur, dan was die wonderwerk wat hier besig was om voor haar oop te vou mos óók vir God moontlik!

Maria het daarby berus: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.

Alles het vir Maria so onmoontlik en onwerklik gelyk. Baie jare later moes sy egter uitvind dat alles absoluut waar was, tot op die laaste kommatjie! Uit die woorde van die engel was dit baie duidelik dat Jesus, Maria se Seun, die Messias was waarna die ganse Joodse volk só lank al uitgesien het. 

Om swanger te wees, maak ‘n baie groot opgewondenheid in ‘n vrou wakker! Binne enkele ure weet álmal dat sy swanger is. Dan is daar mos daardie saamgekoekery van al die swanger vroutjies. Al hulle gewaarwordinge word tot vervelens toe met hulle mede-verwagtendes gedeel. Dit kekkel en dit kloek erger as ‘n klomp broeis henne! Daardie opgewondenheid kan seker nie anders nie, want elke swangerskap is ‘n wonderwerk op sy eie. Daar is ‘n splinternuwe lewe besig om te vorm in haar buik, ‘n lewe wat God in die klein ongebore kindjie geblaas het.

Vir Maria was hierdie opgewondenheid nog sovéél groter: nie alleen was sy swanger nie, maar die klein lewetjie wat sy in haar gedra het was die Seun van God, die lank-beloofde Messias waarop haar volksgenote so brandend gewag het. Sy wou dit uitbasuin, uitskreeu aan die wêreld! Sy wou dit deel met iemand wat ook soos sy gevoel het. “Tannie Elisabet! Sy het mos óók ‘n wonder-swangerskap nes ek, die engel het sélf so gesê!” Haastig het sy vertrek na Oom Sagaria en Tannie Elisabet se huisie in ‘n klein dorpie in die berge van Judea. Sy was borrelend van opgewondenheid.

Die bejaarde Elisabet skrik as sy ‘n vrouestem by die deur hoor: “Shalom, tannie Elisabet!” Op daardie oomblik skop en beweeg die baba in Elisabet se moederskoot, so ál asof hy die stem gehoor het en opgewonde was oor die besoeker. 

Skielik was die teenwoordigheid van die Here so oorweldigend vir Elisabet, dat sy nie anders kon as om in ‘n lofsang uit te bars nie. Vol van die Heilige Gees jubel sy dit uit: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot!” 

Maria se mond het oopgehang: “Hoe het sy geweet wat met my gebeur het?” 

Maria was so meegevoer deur Elisabet se loflied, dat sy sélf uitgebars het in ‘n lofsang wat diep uit haar hart kom: “My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam.

Sy sing van die groot dinge wat die Here aan haar gedoen het en sy besing Sy heiligheid. Sy besing die grootheid en almag van die Here, en van Sy groot ontferming.

Vir drie maande kuier Maria by haar tante, en ek kan my voorstel waaroor hulle gesprekke gegaan het. Natúúrlik is daar baie gewonder en gegis oor die twee babas wat aan die kom was. Maar niks op aarde kon hulle voorberei vir wat werklik op hierdie twee ongebore seuntjies sou wag nie. Johannes het ‘n profeet geword wat voluit vir God geleef het. Uiteindelik is hy deur Herodus onthoof, suiwer vir een van sy wrede vrou se gru-grille. En Jesus? Ons ken die pad wat Hy moes stap......

Gebed:

Dankie vir hierdie heerlike inspirerende verhaal Here. Kweek asseblief ook in my die borrelende opgewondenheid oor die wederkoms van my Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026