Eksodus 1:1-2:10
Dis die jaar 1250vC. In die Gosengebied in die Nyldelta van Egipte weerklink 'n luide geskree - die van 'n babaseuntjie. Sy pa glimlag van oor tot oor as hy die luidrugtige klein nuwe aankomeling blou moord hoor skree!
Klein Moses word gebore in ‘n tyd toe die die Israeliete, die afstammelinge van Jakob baie swaargekry het. Die Farao, koning van Egipte, het hierdie mense wreed onderdruk deur hulle almal sy slawe te maak. Met dwangarbeid verplig hy hulle om reuse bouwerke te doen vir die Egiptenare. Hy maak die lewe baie bitter vir die arme Israeliete.
Net om die tyd in perspektief te stel - oorkant die Middellandse See speel ‘n ander drama terselfdertyd af tussen Sparta en Troje. ‘n Beeldskone vrou met die naam Helena van Troje loop van haar man, die Spartaanse koning Menelaus af weg agter ‘n Trojaan aan met die naam Paris. ‘n Bloedige oorlog volg en hou vir jare aan. Die oorlog kom uiteindelik tot ‘n einde wanneer Ulysses die berugte Trojaanse houtperd bou en daarmee die stad binnesypel en verower.
In Egipte gaan dit al moeiliker totdat dit uiteindelik kritiek raak vir die Israeliete. Die Farao is ‘n bekommerde man, want hy sien hoe hierdie Israeliete teen ‘n ontstellende tempo vermeerder. Die twaalf seuns van Jakob het nou al vermeerder tot meer as drie miljoen! Twee Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua kry die opdrag om elke Israelitiese seuntjie wat gebore word dood te maak. Dit misluk egter want die vroedvroue voer nie die koning se opdrag uit nie!
Die Farao is woedend as hy besef dat sy plan nie werk nie, dan vaardig hy ‘n grusame, koelbloedige bevel uit dat elke Egiptenaar opdrag kry om enige pasgebore Israelitiese seuntjie wat hulle teëkom in die Nyl te gooi!
Te midde van hierdie wrede slagting word klein Moses gebore, gedoem om in die Nyl - die sogenaamde moeder van Egipte - te verdrink! Maar God het ‘n plan gehad vir hierdie klein seuntjie. Op sy brose skouertjies sou daar ‘n reuse taak rus. Maar voor dit kon gebeur moes hy eers groot word en ‘n baie goeie opvoeding kry. Ja, selfs daarvoor het God voorsien op ‘n wonderbaarlike wyse.
Die dag toe die outjie gebore word, besluit sy ma dat hierdie kindjie beslis nie in die kloue van die babamoordenaars sou val nie. Vir drie maande lank kry sy dit reg om die bloedjie weg te steek, maar weldra raak dit al hoe meer riskant. Daar is net géén manier wat sy hom langer veilig kan hou nie. Dan maak die desperate ma ‘n plan: die kleintjie moet elders weggesteek word. ‘n Biesiemandjie word gevleg en met pik verseël. Hierin word die drie-maande oue baba neergelê en tussen die riete in die Nyl versteek. Sy sussie kry die taak om hom op te pas. Sy sit op ‘n afstand en kyk dat haar bababoetie veilig is.
En dan gebeur die onvermydelike. Tot haar ontsteltenis moet sy toekyk hoe ‘n Egiptiese prinses, die Farao se dogter in die Nyl kom swem, natuurlik gevolg deur ‘n string diensmeisies. Op daardie oomblik begin die baba huil en die prinses ontdek die mandjie met die seuntjie in. Haar moederinstink oorweldig haar en al kan sy duidelik sien dat dit ‘n Hebreeuse seuntjie is, besluit sy om hom te hou. Die probleem is: Hoe maak jy so ‘n baba groot as jy sélf nie melk vir hom kan produseer nie?
“Toevallig” is daar ‘n Hebreeuse meisie daar naby (die seuntjie se sussie), en heel “toevallig” weet sy van ‘n Hebreeuse mamma wat pas ‘n baba gehad het wat die outjie kan soog en die seuntjie se ma word laat haal. Natuurlik weet die prinses gladnie dat hierdie vrou die werklike ma van die kind is nie en sy onderhandel met die vrou om die seuntjie groot te maak. Sy is selfs bereid om daarvoor te betaal!
Wanneer hy gespeen word en oud genoeg is, word hy na die prinses gebring. Sy neem hom aan as haar eie kind en sy noem hom Moses.
Ja, ons almal ken natuurlik die storie. Maar daar is tóg ‘n paar baie interessante feite wat ons nie mag miskyk nie.
Jy sal opmerk dat daar absoluut geen name genoem word in die verhaal nie. Ons weet nie wat sy ouers se name is nie en ook nie sy sussie s'n nie. Selfs die Farao en die prinses se name word nie vermeld nie. Daar word selfs nie eers melding gemaak van God nie! Uiteindelik, héél aan die einde van die verhaal word die naam van die seuntjie genoem - Moses.
Tóg is daar regdeur die verhaal iets verskuil in die kunstige gebruik van woorde. Die ironie van die biesiemandjie tussen die riete in die Nyl, die instrument van moord word hier die instrument van redding. Terloops: dieselfde woord wat vir biesiemandjie gebruik word, word ook gebruik vir die ark in Noag se verhaal - ‘n skip van redding.
Die verhaal gaan oor die redding van ‘n hulpelose baba oor wie die magtige koning ‘n doodsvonnis uitgespreek het. God gryp in en naamlose vroue, selfs ‘n Egiptiese prinses word gebruik om Sy doel te bereik.
Later in die verhaal sal ons nog die asemrowende reddingsdade van God beleef en sal ons die hand van God en Sy genade sien dwarsdeur die lewe van Moses. Ek nooi jou uit om saam met my te stap deur die lang lewe van een van die grootste figure in die ganse geskiedenis van die mensdom.
Gebed:
Here, dankie dat ons kan leer uit die lewe van iemand wat nie bang was om vir U op te staan nie!