Die Antichris

24 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Antichris

2 Tessalonisense 2:1-12

VIDEO | OUDIO

Uiteindelik het die langverwagte reën gekom. Dit was nét die volgende dag toe die storm teen laatmiddag begin opsteek. Die hele dag lank was daar ‘n onheilspellende, drukkende stilte. Iets was aan die broei! Toe, laatmiddag begin die weerligte te blits oor die Lebomboberge anderkant Komatipoort. Sonder waarskuwing kom die wind skielik op in vlae. Verstikkende stof en droë blare en takkies warrel. Dan plof die eerste groot druppels neer in die kurkdroë stof. Binne minute kom dit af in emmersvol. Die oorvloed verkwikkende reën les die dors van die dorre aarde. Ek bid dankbaar: “Dankie, dankie Here, U is getrou!” Nou kan almal lewe!

Binne een enkele week is die ganse dorre laeveld bedek met 'n donsige grasgroen tapyt van splinternuwe plante.

In Paulus se eerste brief aan die gemeente in Tessalonika, het hy vir hulle vertel van Jesus se wederkoms. Die mense was so opgewonde daaroor dat hulle eintlik oorreageer het, en in elke ding die tekens gesien het dat Jesus dalk sommer net die volgende dag kon kom. Ja, natúúrlik is dit goed om ‘n lewendige toekomsverwagting te hê maar ons moet versigtig wees dat dit nie ons ganse lewe oorheers nie. Daar moet ook ‘n gesonde balans in jou lewe wees. Ons moet nie só hemelsgebonde wees dat ons geen aardse nut het nie! Dit is om hierdie rede dat Paulus in sy tweede brief vir die gemeente skryf dat hulle dit rustig moet vat en tot bedaring kom oor hierdie aangeleentheid. Hy probeer om vir hulle ‘n bietjie nuwe perspektief te gee op die saak. Paulus probeer nie om die tekens van die tye uit te spel vir die gemeente nie, maar hy sê bloot dat hulle verkeerd is om Jesus se wederkoms te verwag voordat die groot afvalligheid plaasgevind het.

Waaroor gaan hierdie “groot afvalligheid”? Paulus praat hier van die “wettelose mens” wat sy verskyning sal maak. Dit is natuurlik dieselfde as die “antichris” waarvan Johannes skryf in Openbaring. Deur die eeue was daar al verskeie “antichriste” wat absoluut uitgestaan het(vergelyk 1 Joh. 2:18). Om die waarheid te sê, het feitlik elke geslag oor die afgelope 2000 jaar sy baie prominente antichriste gehad. Hierdie mense is teenstanders van Christus, en is die verpersoonliking van die bose. In Paulus se tyd was daar ‘n aantal keisers wat duidelik in hierdie kategorie geval het, en dit was veral die wrede Nero wat soos ‘n seer duim uitgestaan het. Die lewe van ‘n Christen was vir hom absoluut niks werd nie, en hy het hulle by die dosyne laat verbrand deur teer aan hulle te smeer om as straatligte te dien, tot groot vermaak van die Romeine. Dit is nou dié wat die leeus en gladiators vrygespring het. Hitler was ook geklassifiseer as “Die Antichris”, en so van die Russiese en Chinese Kommunistiese leiers wat Christene in hulle land wreed vervolg het.

En vandag? Wag, ek wil liewer nie name noem nie! Wie is ek in elkgeval om te oordeel? Ons moet baie versigtig wees om nie sommer die antichris-etiket om enigeen wat in jou oë boos is se nek te hang nie. En dan boonop op grond van daardie persoon se optrede te probeer voorspel wanneer Jesus se wederkoms is!

Wat moet ons weet van hierdie “wettelose mens” waarvan Paulus skryf? In die eerste plek weet ons dat hy vir die verderf bestem is, en dat hy dié antichris is. Ons weet ook dat hy die opperste verleier is. Gelowiges hoef egter nie oor hom beangs te wees nie, want volgens 2 Tes. 2:10 mislei hy dié wat verlore gaan, omdat hulle nie Jesus aanvaar het nie. Ons kan dus verstaan uit hierdie gedeelte dat die antichris die mense wat nie Jesus as Verlosser wou erken en aanvaar nie, nog verder in die verderf inlei en hulle misbruik vir sy bose plan van wêreldoorheersing deur die bose.

“Maar God sal dit mos nie toelaat dat onskuldige mense so verlore gaan nie?” wil ons uitroep. “Wat dan van al die mense wat nooit van die Evangelie gehoor het nie?” In Markus 13:10 sê Jesus dat die ganse wêreld eers die Evangelie sal hoor voordat Hy kom. Met ander woorde, die wettelose mens sal eers sigbaar verskyn wanneer daar klaar gepreek is, wanneer die Evangelie oral verkondig is. Eers dán sal Christus die wettelose mens toelaat om oor te neem. Hierdie antichris sal homself voordoen as God, met groot magsvertoon en wondertekens. Maar dit sal net sy laaste stuiptrekkings wees want die dag wanneer Jesus verskyn, sal die antichris saam met Satan en al die ongelowiges deur God se oordeel uitgedelg word!

Die tyd van Jesus se wederkoms was nog nooit in die geskiedenis so naby as juis nóú nie. Al die tekens is reeds daar. Die Evangelie is reeds oor die ganse aarde verkondig, en met die tegnologie-ontploffing van die afgelope paar jaar, waar die Evangelie deur radio, TV, internet en selfoon feitlik by elke huis kan kom, is al die profesieë besig om voor ons oë te ontplooi. Die vraag wat jy jouself vanoggend moet vra is: “Is ek gereed?” Talle mense het my oor die afgelope klompie jare gevra vir hulp om by Jesus uit te kom. Waarvoor wag jy?

Gebed:

Here, dankie dat ons kan uitsien met groot verlange na U wederkoms. Hou ons asseblief paraat!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026