Deernis met die Swakkeres

27 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Deernis met die Swakkeres

Romeine 15:1-13

VIDEO | OUDIO

Dis Sondagoggend voor kerk en dinge het vir my nie so goed begin nie. Net effens verslaap en nou is ek laat! Ek is half ongeduldig as ek by die kerk aankom want daar is nog ‘n duisend en een dinge om te doen voordat die erediens begin. Die drie kamera's moet nog opgestel word vir vanoggend se uitsending en dan onthou ek dat ek nooit gisteraand die skakel vir die Youtube uitsending uitgestuur het nie en ek moet dit nog opstel. Die klankstelsel gee probleme en dié moet nog ingestel word en ek wéét sommer dat Ds. Gert nog vir my ekstra skyfies óók gaan gee om in te sit! Ek hoop nét nie die rekenaar gee vanoggend probleme nie!

Haastig storm ek die kerk binne. Dan sak my hart in my skoene want as ek haar sien, wéét ek sommer dat hier vanoggend vir my gróót swarigheid voorlê! Sy wag my in en val sommer met die deur in die huis met “Louis, ek het ‘n probleem.....” Ek prewel ‘n oorhaastige skietgebed: “Asseblieftog net nie nóú nie!” My desperate gebed word egter nie verhoor nie en terwyl ek met arms vol swaar toerusting staan, stort sy haar hart uit. Sannie het ‘n baie kwetsende ding teenoor haar gesê en sy weet nie hoe om dit te verwerk nie. Wat moet sy doen? Sal ek nie maar asseblief met Sannie gaan praat nie? Sy voel nou vreeslik depressief en het ek nie asseblíéftog raad nie?

Ek staan en rondtrippel van ongeduld, want sy gee my nie eers kans vir ‘n dwars woordjie nie. “En dan is daar dié ding wat die dominee laas Sondag gesê het, ek verstaan dit gladnie! Kan jy asseblief verduidelik wat hy bedoel het......”

Ek wil skree: “STOP DIE BUS!!!!!

Ken jy daardie gevoel? As gevestigde gelowige wat al deur die meul gegaan het, sien baie jong of onseker gelowiges dikwels na jou op, want jy is mos ‘n “steunpilaar” in die geloof. En só dikwels gebeur dit dat iemand jou grensloos irriteer, júís om daardie rede! Dit is veral die arme predikante wat moet deurloop en dikwels vure moet doodslaan wanneer iemand seergemaak voel oor ‘n ander se handeling. Of hy moet skielik Skrifgedeeltes opdiep oor die een of ander kwelling wat iemand slapelose nagte gee. En dit moet sommer nóú dádelik geskied! Die ergste is as dit pas voor die erediens gebeur en die arme man moet dan nog op sy boodskap konsentreer ook! Mense kan soms baie onsensitief wees. Dan betrap ek myself nog dat ek presies dieselfde dinge doen!

Paulus wil vandag broederlik (susterlik?) gesels met ál die “ou” gelowiges wanneer hy sê dat ons wat sterk staan in die geloof, bereid moet wees om die ouens wat minder sterk is se swakhede te verdra. Dis beslis nie maklik nie want dikwels sien ons die dinge waaroor hulle "kerm" as totaal onbenullig. Maar vir so 'n persoon is dit dalk uiters belangrik! As jy terugdink, sal jy dalk vir jouself lag, want miskien het jy jare gelede met presies dieselfde kwelvraag rondgeloop! Dis dan ook nét so belangrik om dééglik te besef dat al staan jy sterk in die geloof, daar heel waarskynlik nog stééds swak plekke in jou eie lewe en geloof is.

Wanneer die Bybel ons hier leer dat ons die swakkeres moet verdra, beteken dit nie dat ons op die tande moet kners, diep en swaar sug en dan anderpad kyk nie. Nee, dit vra van ons om totaal weg te kyk van ons eie probleme of voorkeure en in liefde, geduld en groot deernis asook met opregte belangstelling na ons medegelowige se probleem te kyk. Wat jy as’t ware doen is om jou medegelowige se gedagtes en omstandighede jou eie te maak en te probeer dink soos wat hy sou dink. Uit jou eie jarelange geloofsondervinding kan jy dan dít wat goed en opbouend is put en die nodige motivering gee wat die persoon sal opbou. Neem Jesus as jou eie motivering en voorbeeld en tree op teenoor jou medegelowige soos wat Jesus teenoor jou sou optree. So het Hy immers met jóú gemaak!

Nou lyk dit dalk vir jou asof ons gelowiges uitgelewer is aan mekaar se nukke en grille! As Sannie sê: “Kwê!” dan moet ek spring! Waar is die kerk se standvastigheid dan? Natúúrlik is daar standvastigheid in die kerk maar die bron daarvan is nie mense nie maar God self. Hy het Sy wil vir ons in die Bybel laat opteken sodat gelowiges daardeur bemoedig kan word, hoop kan kry en daardeur gerig kan word.

Daar is absolute duidelikheid in die Skrif oor álle sake wat werklik vir ‘n gelowige van belang is om ‘n ware verhouding met God te kan hê! Nie alleen wil God hê dat ons daarvolgens moet lewe nie, maar Hy wil ook hê dat ons baie sensitief moet wees teenoor medegelowiges en veral die swakkeres in die geloof en dat ons met hulle sal deel in die dinge wat werklik belangrik is. Op hierdie manier dra ons by tot die eensgesindheid in die kerk en boonop verheerlik ons God ook daarin!

Dan sal ons dalk saam met Paulus die pragtige loflied kan sing wat hy opgeteken het in vers 9 tot 12: “Daarom sal ek U loof onder die nasies, en tot eer van u Naam sal ek 'n lofpsalm sing...... Loof die Here, alle nasies! Prys Hom, alle volke!” Ons gelowiges behoort meer aandag te gee aan die gesamentlike verheerliking van God en baie meer energie daarin te sit.

Gebed:

Here, maak my asseblief baie sensitief vir mede-gelowiges en gee my hope geduld!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026