Dawid sterf - Lank Lewe die Koning!

8 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid sterf - Lank Lewe die Koning!

1 Konings 1 en 2

VIDEO | OUDIO

Wie gaan vir Dawid opvolg? Dawid was ‘n ou man en sy lewenskrag was besig om vinnig te kwyn. Daar moes ‘n opvolger wees vir sy troon. En ‘n hele paar gretige oë het hierdie spasie dopgehou in die hoop om dit binnekort te vul!

In politiek gaan dit in die héél eerste plek om mag. Almal wil héél bo wees en dikwels is daar ‘n algemene rugstekery totdat die sterkste een uiteindelik die troon beset. Hierdie spanningsvolle situasie gebeur op alle vlakke van die samelewing - die staat, skole, maatskappye, verenigings en dikwels selfs in huisgesinne en die kerk. Dit is baie belangrik wie die beheer uitoefen.

Almal was bekommerd oor Dawid se kragte wat afneem. In die Midde-ooste was die koning altyd gesien as ‘n simbool vir die volk - as die koning sterk is, is die volk sterk. En dit het natuurlik ook gegeld vir sy viriliteit. Absalom het sy viriliteit aan die volk bewys deur op die paleis se dak, waar almal hom kon sien, saam met Dawid se byvroue te slaap. Nou is die groot kommer oor Dawid, nie dat hy liggaamlik nie meer sterk is nie maar eerder dat sy belangstelling in die skoner geslag kwyn. En dit is ‘n ramp!

Die slim manne sit koppe bymekaar: “Wat gaan ons doen?” Dan besluit hulle om vir Dawid ‘n mooi jong dingetjie te kry om weer vuur in sy pype in te blaas. En die ganse koninkryk word deurkruis om die mooiste meisie moontlik vir die koning te kry. Uiteindelik spoor hulle ‘n pragtige meisie op wat enige man se hart sal laat bollemakiesie slaan. Sy pas Dawid op en versorg hom dag en nag, maar dit is so ver as wat dit gaan. Die skrif is aan die muur - die koning se fut is uit!

En dit is presies waarvoor elke aanspraakmaker op die troon sit en wag. Dawid se seun Adonia volg sy broer Absalom se voorbeeld en skaf vir hom ‘n spoggerige strydwa aan. Nes Absalom, is hy ook ‘n baie aantreklike kêrel. Hy laat vyftig man voor hom uithardloop om te wys hoe belangrik hy is. Hy probeer oral steun werf om as koning erken te word - selfs Joab en die priester Abjater word omgepraat om hom te ondersteun in sy pogings. Laat mens so dink aan die lagwekkende situasie van sekere politici wat populisme tot 'n kuns verfyn het (geen name genoem nie)!

Adonia laat slag ‘n klomp skape en vetgemaakte kalwers en gooi ‘n groot partytjie by Rogelfontein. Al die koning se seuns en elkeen wat gesag het word daarheen uitgenooi. Die enigste wat nie genooi word nie, is Salomo.

Dan fluister die profeet Natan in Batseba se oor: “Het jy gehoor - Adonia het so pas koning geword? En Dawid weet nie eers daarvan nie! Laat ek jou nou goeie raad gee: as jy en jou seun Salomo julle lewe liefhet, moet julle dadelik ‘n plan maak - gaan praat met Dawid! Ek sal julle help.”

Batseba volg Natan se raad, en gaan gesels met die afgeleefde ou Koning Dawid. Sy herinner hom daaraan dat hy belowe het dat Salomo eendag die troon sou erf, maar nou hoor sy die gerugte dat Adonia koning geword het en Dawid weet niks daarvan nie. Sy vertel vir hom dat die hele Israel na hom opkyk vir leiding en die volk wag in spanning op Dawid se uitspraak. En boonop, as Adonia die koningskap oorneem sal sy en Salomo beslis soos misdadigers behandel word!

Op daardie oomblik kom die profeet Natan baie dramaties daar aan: “U Majesteit,” buig hy diep voor die gryse ou Dawid, “het u ooit gesê dat Adonia ná u koning moet word? Ek hoor die volk roep nou al uit: ‘Lank lewe koning Adonia!’ Maar u het ons nooit ingelig nie!”

Dawid is woedend oor die arrogante optrede van Adonia. Dan gee hy die opdrag dat Salomo op die koninklike muil na die Gihonfontein geneem moet word om daar as koning gesalf te word.

Dit is ‘n groot optog - die ramshoring word geblaas, die fluite speel en die hele volk loop agter hulle aan. Terwyl die priester Sadok die olie oor Salomo se kop uitgiet, roep die volk soos een man uit: “Lank lewe Koning Salomo!”

As die nuus vir Adonia bereik waar hy steeds vrolik besig is om partytjie te hou, skrik hy hom yskoud. Sy gaste kies almal die hasepad. Nou is Adonia alleen. Hy hardloop na die heiligdom en gryp die horings van die altaar vas en pleit om sy lewe, want nou is hy in groot moeilikheid. Maar Salomo laat haal hom en stel hom gerus: “Gaan bly in jou huis!” Salomo se eerste treë as koning stap hy in vrede!

Nie lank daarna nie sterf Dawid op ‘n rype ouderdom. Sy nalatenskap aan die mensdom kan in geld en in woorde nie bereken word nie. ‘n Mens-mens met baie foute, maar iemand wat naby aan God geleef het. Sy gedigte slaan vandag nog ons asem weg en sy liedere wat hy geskryf het daar in die veld wat hy so liefgehad het, sing ons vandag nog. Hulle bring nou nog trane in ons oë en vul ons met vrede en moed. Dawid, geliefde koning van Israel - voorgeslag van die Koning van alle Konings, Jesus!

Gebed:

Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal van Dawid - dat dit na 3000 jaar my vandag nog steeds inspireer, bemoedig en leer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026