Dawid moet Koes!

10 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid moet Koes!

1 Samuel 18:6-11

VIDEO | OUDIO

Utopia vir Dawid – dis die idee wat ons kry! Alles is egter nie pluis in die “paradys” nie….. Die moeilikheid begin by die vrouens van Israel. Hulle het ‘n nuwe held ontdek en almal wou net sing van hierdie wonderlike man. Ja, ons het ook so ‘n paar helde wat al die meisies - selfs die ouer vroue - se harte tjoklits laat pomp. Kyk maar net watter uitwerking dit het as Faf in sy speedo verskyn! En die rankende lang Eben?

Dawid was egter iemand baie besonders. Nie alleen was hy ‘n aantreklike jongman nie, maar boonop sommer ‘n groot held op die slagveld! Dit was veral Goliat se bloedige nederlaag wat Dawid se naam op elke vrou se lippe geplaas het. As dit nou maar net daarby gebly het, dan was dit niks, maar toe gaan loop sing hulle daarvan, van Dawid wat sy “tienduisende” verslaan het. Die probleem is egter dat hulle toe Saul se naam ook daarby ingesleep het. “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid tienduisende!”

Dis toe net dáár waar die moeilikheid begin het, want hierdie lied het Saul se ore bereik en daarmee was hy gladnie gelukkig nie. Om die waarheid te sê, die vrouens het so ver gegaan om ‘n optog te hou voor koning Saul uit, waar hulle gedans en gesing het en op tamboeryne gespeel het terwyl hulle hierdie lied gesing het!

“Die vermetelheid!” het Saul gedink. “Hulle is besig om my te verkleineer! Ék is immers die koning! Ék is die een wat die held is in die stryd! Hoe durf hulle!” Hy was bitterlik omgekrap. “Eendag gaan my koningskap natuurlik óók nog syne word!” As Saul maar geweet het hoe in die kol hy was met hierdie opmerking, dan het hy sekerlik nét daar en dan van Dawid ontslae geraak!

Hierdie ding het bly vreet aan Saul. “En om te dink dat ek daardie niksnuts van ‘n Dawid in my huis ingeneem het! Ek het hom deel gemaak van die paleis! Hoe kan hy nou my eer wil kom staan en roof? Dis laag en gemeen en vermetel!” Saul se gemoed het al donkerder en donkerder begin raak, totdat die ou probleem van sy verskriklike aanvalle uiteindelik weer begin kop uitsteek het. Dawid moes uiteindelik maar net weer kalmeer met sy lier en sy hemelse musiek om die koning se swart gemoed te laat bedaar.

“Kom Dawid, die bose gees het die koning alweer oorgeneem,” word Dawid een oggend ontbied, “hy is besig om soos ‘n waansinnige tekere te gaan. Ons kry hom net nie gekalmeer nie - kom gou!” Hieraan was hy nou al gewoond en dit was maar net deel van die verloop van die dag. Maar hierdie slag was daar iets anders in die lug. Dawid het sommer dadelik gesien dat Saul ‘n snaakse kyk in sy oë gehad het toe hy die troonsaal binnestap. Hy het hom egter nie te veel daaraan gesteur nie want Saul sou weldra kalmeer. Toe begin hy speel en die mooiste rustige musiek het die vertrek gevul. Dit wou lyk asof Saul ‘n bietjie rustiger begin raak maar hy het Dawid bly aangluur met oë wat haat gespoeg het. “Ek wonder darem wat nou oor die koning se lewe geloop het?” het Dawid in sy stilligheid gewonder, en voortgespeel. Hy sing van die Here wat ‘n herder is en van die grootheid van God en die wonder van die skepping. Hy sing van die glansryke hemelruim en al die sterre wat die Here daar geplaas het met Sy eie hande, van die onmeetbare grootheid en wonder van die uitspansel.

Dan merk Dawid uit die hoek van sy oog hoe Saul se hand spierwit geklem was om sy spies se steel. Hy het eintlik gebewe van spanning. “Wat gaan aan met Saul vandag?” wou hy nog wonder, maar die volgende oomblik sien hy net hoedat Saul blitsvinnig die spies lig. Instinktief koes hy as die spies na hom aangewoer-woer kom. Dit mis sy oor rakelings en dring die muur agter hom binne, waar dit trillend bly vassteek. Saul uiter terselfdertyd ‘n oorverdowende kreet van woede!

Verlam het Dawid daar gesit, sy bene het gevoel soos jellie. Hy kon nie verstaan wat in Saul ingevaar het nie! Saul het gehyg na sy asem. Hy het totaal verward gelyk. “Iets baie groot is fout met Saul!” het Dawid besluit. Om die situasie te beredder, begin hy weer speel en weldra het dit begin lyk asof Saul begin kalmeer. Elke keer as hy wou ophou, het Saul bulderend geblaf: “Speel!” En Dawid hét gespeel! Maar hy het Saul die hele tyd fyn dopgehou. Hy kon beslis nie ‘n kans waag met die koning nie!

Dan was dit weer sulke tyd: Dawid het gesien hoe Saul se hand bewend om sy spies se steel klem sodat sy kneukels spierwit word. Hy het gewag daarvoor. Toe Saul weer gillend die spies slinger, was Dawid alreeds op ‘n ander plek, weg uit die pad van die dodelike wapen. Hy het sy lier gevat en gemaak dat hy wegkom want hier kon ‘n man dalk net seerkry!

‘n Maklike pad was dit beslis nie vir Dawid, om te kom by die punt waar die Here hom wou hê nie. Eweneens is dit vir ons as gelowiges dikwels ook ‘n opdraende stryd. Maar dit is alles deur en deur die moeite werd. Dus: byt vas en druk deur - moenie moed verloor nie. En onthou: Jesus is slegs ‘n gebed ver en die Heilige Gees is in jou om jou die krag en wysheid te gee!

Gebed:

Here, dankie dat ek kan weet dat my swaarkry maar net deel is van ‘n wonderlike opleiding wat U my gee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Simon se Skoonma
21 September, 2026
Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026