Dankie vir jou Liefde!

15 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dankie vir jou Liefde!

Filemon 1:4-7

Video

Audio

Paulus skryf aan Filemon dat hy die Here dank vir die wonderlike liefde wat hy uitleef teenoor sy medegelowiges.

Is daar verskillende grade van liefde wat ‘n gelowige moet uitleef? Nou beweeg ek eintlik op gevaarlike grond - ek en ‘n dierbare vriendin het al baie gestry (in liefde natuurlik!) oor hierdie vraag.

Wanneer die Skrifgeleerdes vir Jesus vra wat die grootste gebod is, dan antwoord Hy dat jy God moet liefhê, maar ook jou naaste moet liefhê soos jouself. Later sê Hy ook vir Sy dissipels dat hulle selfs hulle vyande moet liefhê, en dat hulle moet bid vir diegene wat hulle vervolg. Dit is ‘n bitter moeilike opdrag! In Joh. 15:12 gesels Jesus egter dringend met Sy dissipels oor liefde: “Dit is My opdrag:” sê Jesus vir die manne, enkele ure voordat Hy gevange geneem word, “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Die vraag is of daar dan ‘n verskil is in die liefde wat ek uitleef teen ‘n gelowige en ‘n ongelowige? As ek werklik die liefde uitleef wat Jesus van my vra, dan sal ek elkeen wat oor my pad kom met onbaatsugtige liefde behandel. ‘n Mede-gelowige het egter ‘n besonderse band met my: ons is familie - bloedfamilie in Jesus! As ek ‘n vreemdeling in die straat teëkom, sal ek hom vriendelik groet. As dit egter ‘n dierbare vriend is, sal ek hom omhels en selfs soen en styf teen my bors vasdruk. Dit is hierdie soort broederliefde waarvan Jesus hier praat. En dit is dieselfde liefde waarvan Paulus praat wanneer hy vir Filemon sê dat hy so dankbaar is teenoor die Here dat hy daardie soort liefde by Filemon sien.

Nou wonder ek net hoe die liefde lyk wat ek uitleef teenoor my medegelowiges? O ja, daar is baie medegelowiges wat dit baie maklik maak vir my om hulle lief te hê met ‘n warm broederliefde. Maar dan is daar die ouens wat dit vir my bra moeilik maak om hulle waarlik lief te hê. En dit is aan hierdie mense wat ek werklik moet werk om my liefde uit te leef soos Jesus dit gevra het. Dink maar net: Hy het Petrus innig liefgehad, ten spyte van die feit dat Petrus Hom verloën het. Hy het Matteus innig liefgehad ten spyte van die feit dat hy ‘n tollenaar was en uitgehang het met ‘n spul gure karakters vir vriende. Hy het my lief ten spyte daarvan dat ek nie eers náástenby leef soos wat Hy van my vra nie.

Moet ek en jy nie dalk ‘n ekstra poging aanwend om daardie broer of suster van ons wat vir ons ‘n pyn is, onvoorwaardelik innig lief te kry nie? Selfs al is sy geloofsoortuigings soveel anders as myne........

In Paulus se gebed vir Filemon raak hy ook ‘n ander uiters belangrike punt aan, naamlik dat die “gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee.” ‘n Gelowige kan nie alleen leef en terselfdertyd geestelik groei nie - hy het ander gelowiges (gemeenskap) nodig om hom te help groei en sy insig te help verbreed. Deur byvoorbeeld intensief Bybelstudie te doen, gaan jy moontlik jou kennis verbreed, maar dit is eers wanneer jy dít wat jy gelees het met ander gelowiges deel en bespreek, dat dit werklik vir jou waarde begin kry.

Deur gesprek gaan die teoretiese dinge wat jy leer gewoonlik oor na die praktiese uitvoering daarvan, en dan kry jou geloof voete en lewe. Hiermee wil Paulus indirek op my en jou die dringende beroep doen om aktief in te skakel by jou gemeente se werksaamhede. As daar ‘n Bybelstudiegeleentheid, selgroep of biduur is - gaan neem deel. En as daar ‘n uitreik-aksie is - wees deel daarvan. En noudat inperkings verslap het, gaan kerk toe! Talle gelowiges is steeds te bang om in die kerk te kom, maar hulle het nie ‘n probleem daarmee om tussen ‘n massa mense inkopies te doen nie!

Filemon het op ‘n baie konkrete en praktiese manier deelgeneem aan sy gemeente se bedrywighede, en nie alleen het almal daarby baatgevind nie, maar die bonus vir hom was dat hyself hierdeur geestelik gegroei het. Hy het soveel gegroei, dat Paulus die volle vrymoedigheid gehad het om hierdie baie netelige saak van sy slaaf wat gedros het met hom te kon opneem sonder dat Paulus vir een oomblik bang was dat Filemon dit verkeerd sou vertolk of kleinserig daaroor sou wees. Soos die ander rykes van sy tyd, het Filemon sekerlik ‘n paar slawe gehad - slawe wat hy ten duurste moes aankoop. So ‘n slaaf was sy eiendom, en soos met enige ander eiendom kon hy met die slaaf maak net wat hy wou. Deur te dros kon hierdie slaaf die doodstraf kry - dit was ‘n baie ernstige oortreding. Paulus wou keer dat Filemon dalk onverantwoordelik optree.

Maar Paulus was bewus van Filemon se goeie kwaliteite, en daarom wys hy hom op hulle, en dat hy hulle moet aanwend in hierdie situasie. Paulus meld nie minder nie as twee keer in een paragraaf van daardie wonderlike kwaliteit wat in Filemon se lewe uitstaan: die ware broederliefde waarvan ons hier bo gepraat het. Van Filemon getuig hy hier, dat sy liefde waarlik uitstraal op ‘n baie praktiese manier - nie maar net om vir iemand te sê dat jy hom liefhet nie, maar dat jy dit prakties uitleef. Dit is iets wat Filemon beslis gedoen het. Paulus noem dat Filemon deur sy liefde mense se harte verkwik het.

Ek wil vanoggend ‘n beroep op jou doen om dieselfde lewensuitkyk as Filemon aan te kweek. Wees kreatief nes daardie pragtige mens, en soek maniere waarop jy liefde kan uitleef. En straal veral ware broederliefde uit teenoor al die medegelowiges wat oor jou pad kom.

Gebed:

Here, maak asseblief my oë oop en wys my hoe ek U wonderbare liefde prakties kan uitstraal na my medegelowiges - ook diegene wat dit vir my moeilik maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026