By die Lig van die Kampvuur

23 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie By die Lig van die Kampvuur

Johannes 8:12-20

VIDEO * OUDIO

Ons sit in die Bos by ‘n heerlike, gesellige kampvuurtjie. Dit is laataand, en die vuurtjie knetter en vlam op as ek die laaste paar kurkdroë sekelbostakkies opgooi. ‘n Heerlike geur van egte boskruie vul die lug en die warm vlammetjies strooi ‘n gerusstellende lig in ’n snoesige, warm gloed na al die donker hoekies van die bos rondom ons. Elke stukkie duisternis word verdryf. Alles is mooi en stil en vreedsaam. Die enigste geluid is dié van die knetterende vuurtjie wat so heerlik gesels.

Maar dan begin die dun takkies uitbrand totdat slegs ‘n dik stomp oorbly wat hardnekkig klein blou vlammetjies optower. Ja, inderdaad gloei die kole nog warm-rooi, maar die vuurtjie is uitgebrand. ‘n Doodse stilte sak oor ons toe. Skielik kom ons agter hoe donker en dreigend die bos om ons werklik is. ‘n Takkie kraak. Ek rek my nek om iets te sien. Die pikdonker is oorweldigend. My hart klop woes - wat kan dit wees? Luiperd? Dalk ‘n leeu? In die verte weergalm die onheilspellende klaaglied van ‘n hiëna. ‘n Koue rilling hardloop langs my ruggraat af. Nag in die bos is angswekkend as die pikdonker duisternis jou oorval!

Solank jou kampvuurtjie helder brand, voel jy veilig. Die vuurtjie wat knetter verdryf nie alleen die duisternis nie, maar ook die ander onheilspellende bosgeluide. Wanneer die vuurtjie egter doodgaan begin jy allerhande dinge hoor wat jou bangmaak. Presies dieselfde geld vir jou geestelike lewe.

Die tema van lig en duister kom keer op keer voor in Johannes se Evangelie. In vers 12 sê Jesus weereens dat Hy die Lig vir die wêreld is en dat as jy Hom volg, jy nooit in die duisternis sal lewe nie. Lig was in daardie tyd ‘n algemene Godsdienstige beeld om die kontras tussen goed en kwaad aan te dui. Mense was afhanklik van klein olielampies om lig te maak wanneer dit begin donker raak. As jy na donker nog enigiets wou doen, moes jy ‘n lampie gebruik, anders sou jy knoei. So ‘n lampie het dus sin gegee aan jou lewe.

Terselfdertyd was die duisternis weer gebruik as dekking vir bose dade. As ‘n rower jou goed wou vat, het hy dit in die donker gedoen om sy identiteit weg te steek en terselfdertyd om jou onverhoeds te betrap.

Duisternis word ook in dieselfde lig gesien as blindheid. Het jy al ooit deur die rowwe veld probeer stap in ‘n pikdonker nag sonder ‘n flitslig? Dit laat jou voel hoe dit moet wees om blind te wees. Ek en Mosbolletjie het eenmaal by Doornkloof Kamp in die Vrystaat saam met ‘n klompie Voortrekkers so ‘n staptog sonder flitslig op ‘n pikdonker, maanlose nag meegemaak. Miershope, klippe en grensdrade het hulle tol swaar geëis en talle bloukolle en nerfaf maermerries het ons ondervinding gemerk!

Wanneer Jesus dus sê dat Hy die Lig vir die wêreld is, kom daar ‘n paar gedagtes na vore. Die eerste vraag is of ek wél daardie Lig in my lewe het? Daarsonder is ek geestelik blind en ek gaan met elke liewe klippie in my pad, hard met moeder aarde kennismaak! Sonder Jesus se Lig is dit pikdonker om my en ek is in die mag van die bose. Dan is dit soos om sonder ‘n vuurtjie in die bos te sit, terwyl jy die leeus en ander gevaarlike goed hier rondom jou hoor. Angswekkend!

Met Jesus se Lig in my lewe is dit egter anders. Dan hoef ek nie die donker van die bose te vrees nie. Maar dit is ook elke gelowige se plig om Jesus toe te laat om Sy lig in hom te laat skyn. In die bos is die gloeiende kole van ‘n laatnagkampvuur alles goed en wel. Om egter ‘n knetterende vuurtjie te hê, verg van my om gedurig hout en takkies op te gooi. In my geloofslewe is dit presies dieselfde. Om Jesus toe te laat om Sy Lig helder te laat skyn, verg van my om gedurig die hout en takkies van “goeie werke” op my “kole” te gooi. Wat beteken dit? In die eerste plek om my liefde prakties uit te leef teenoor my medemens. Maar terselfdertyd beteken dit ook dat ek my verhouding met Jesus sal koester. Dit doen ek deur ‘n gesonde gebedslewe asook ‘n gedurige honger na die Woord. Jy kan nooit ophou leer uit die Woord nie!

Ons kan baie leer uit ‘n kampvuur. Hy begin met ‘n hoop dun takkies wat vinnig opvlam en ‘n helder lig gee. Hulle brand egter baie gou uit, dus moet jou vuur verder gestook word met dikker hout. Met iemand wat nuut in die geloof is, is dit presies dieselfde. Jou eerste verwondering oor jou redding vlam helder op, maar jou geloof verflou maklik as dit nie gou gestook word met pitkos nie.

Soos die aand vorder en daar gedurig hout op die vuur uitbrand, vorm dit ‘n warm basis van kole, wat net ‘n paar takkies verg om dit weer vrolik te laat brand. Nét so vorm jou gedurige soeke na kennis van die Woord ‘n stewige basis vir jou geloof, wat sorg dat dit maklik kan opvlam. As jy egter nie hout op ‘n vuur gooi nie, gaan die kole weldra koud word en presies nét so met jou geloofsvuurtjie - as dit nie gedurig gestook word nie, gaan dit stadig koud word.

Stook dus vandag daardie kampvuurtjie van jou geloof, sodat Jesus se lig helder deur jou kan skyn en die duisternis van die bose kan verdryf.

Gebed:

Here, ek wil U lig laat skyn in my lewe. Help my om te onthou om dit gedurigdeur te stook!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026