Johannes 2:1-11
Jare kom en gaan. Droefheid het Maria getref toe Josef sterf en haar as weduwee agterlaat. Maar die troos was daar dat sy darem haar kinders gehad het. En veral haar oudste, Jesus was waarlik vir haar ‘n riem onder die hart.
Toe Hy egter 30 word, deel Hy haar mee dat Sy tyd aangebreek het dat Hy die werk waarvoor Sy Vader Hom gestuur het moes gaan doen. Maria het nie mooi verstaan nie. Sy het egter besef dat Hy nie meer in Nasaret welkom was nie. Die preek wat Hy die vorige Sabbat daar gelewer het, het nie goed afgegaan onder Sy dorpsgenote nie. Hulle het Hom daarvan beskuldig dat Hy Homself bo hulle verhef!
Toe pak Jesus Sy skrynwerk gereedskap weg en Hy vertrek na die Jordaanvallei waar Sy neef Johannes besig was om mense te doop. Daar is Jesus sélf ook deur Johannes gedoop. Maria het die berigte gehoor oor ‘n klompie manne wat Jesus gevolg het. Hy het nou ‘n Rabbi geword!
Op ‘n dag word sy genooi na ‘n bruilof in Kana. Dit was ‘n groot affêre wat sommer die hele week lank aangehou het. Die bruilof was al ‘n paar dae aan die gang, toe sy tot haar groot verbasing vir Jesus daar sien opdaag, en saam met Hom ‘n groepie manne. Sy was oorstelp van blydskap om hulle te sien, en sy wink hulle nader om by haar te kom sit. Sommer dadelik hou Maria van die manne saam met Jesus. En uit hulle gesels kom sy gou agter dat hulle byna almal vissermanne is. Dit is egter veral die jong kêreltjie met die naam Johannes wat dadelik by haar aanklank vind.
Maar dan kom sy agter dat iets nie pluis is by die bruilof nie. Sy sien hoe die arme seremoniemeester rondskarrel asof hy ‘n baie groot probleem het. Dan verneem sy by een van haar vriendinne dat ‘n groot ramp die bruilof getref het – die wyn is op! “Nou hoe kon hulle dan so swak beplan het?” wonder Maria. Sy kry die arme man jammer, want nou is dit mos sý skuld!
Maria het al gesien dat haar Seun wonderwerke verrig, en sy wonder of Hy nie dalk iets aan die situasie kan doen nie. Maar dan bedink sy haar – dis darem ‘n bietjie te veel gevra. Dan skraap sy haar moed bymekaar: “My Seun, kan jy nie dalk help nie?”
Maar Hy is onwillig, en Hy verduidelik dat Sy tyd nog nie gekom het nie.
‘n Rukkie later draai Hy egter na Maria: “Gaan vra asseblief vir die bediendes om sewe klipkanne met water te bring.”
Maria se hart klop in haar keel van opgewondenheid. Vandag gaar hier iets gebeur! Maar sy wonder wat haar Seun beplan? Wat wil Hy met sewe klipkanne vol water maak? Maar sy bevraagteken Hom nie, sy het al geleer dat Hy soms verrassende dinge doen. Maria loop na die bediendes toe en dra Jesus se opdrag oor.
Die manne verstaan nie mooi waaroor dit gaan nie, maar hulle is daar uit met die swaar klipkanne wat vir reinigingsdoeleindes gebruik word. Na ‘n ruk kom hulle terug met al die kanne propvol water. Die seremoniemeester kyk hulle vraend aan, maar hulle skud net hulle koppe en beduie daar na Jesus se kant toe.
Dan staan Jesus op en loop na die bediendes toe. Hy beduie vir hulle om van die water uit te skep en vir die seremoniemeester te gaan gee.
Maria sien hoe die man se gesig ophelder as hy die “water” proe: Dis nie water nie - dit is wyn! Héérlike wyn! ‘n Volle 700 liter daarvan! Vol verwondering vir haar seun loer Maria in die rigting van Jesus se vriende - hulle is stomgeslaan en terselfdertyd in ekstase! Hierdie is die heel eerste wonderwerk van Jesus wat hulle beleef. Nou wéét hulle dat hulle keuse om Jesus te volg die regte een was. Maar daar sou nog talle meer volg, wonders wat nog véél groter is as hierdie een!
Maria se hart swel van trots. Maar terselfdertyd is daar iets wat knaag in haar binneste. Waarom het haar eie mense van Nasaret haar Seun verwerp? En boonop hoor sy hoe haar eie kinders, Jesus se broers en susters oor Hom praat, dat Hy die familie se naam in die skande bring. Hulle sê dat Hy nou wil maak asof Hy ‘n rabbi is, en dít terwyl Hy g’n opleiding as rabbi gehad het nie! Dit maak Maria se hart baie seer. Kan hulle dan nie sien wat Hy doen nie?
Dan neem Maria ‘n besluit: sy sal by haar Seun staan, maak nie saak wat gebeur nie!
Inderdaad sou daar nog baie dinge op Maria wag. Vir die volgende drie jaar sou sy nog baie vreugde beleef wanneer sy met trots sien hoedat haar Seun talle wonderwerke doen. Sy sou beleef hoedat Hy talle siekes genees, en hoedat Hy nederig die rol van dienaar aanneem, eerder as iemand wat groot roem verwerf het. Veral wanneer duisende mense om Hom saamdrom en in verwondering kyk na alles wat Hy doen. Die wysheid wat uit Sy mond voortvloei sonder ophou, bring ‘n warm gloed om Maria se hart. En die onbaatsugtige liefde wat uit Hom straal, laat haar huil van blydskap.
Maar terselfdertyd is daar ook ‘n beklemming om haar hart as sy moet sien hoedat veral die geleerde mense, die kerkleiers Hom vyandiggesind is, Hom verag en verwerp. Daar is selfs gerugte dat hulle heimlik beplan om Hom dood te maak!
Maar Maria kon haarself nie voorberei vir daardie verskriklike Vrydag wat nog voorgelê het nie!
Gebed:
Here, saam met Maria en die dissipels staan ons verstom oor daardie eerste asemrowende wonderwerk. Maar dan besef ons vanoggend dat U die Almagtige is, die Een vir Wie absoluut niks onmoontlik is nie!