Buig voor Haman!

29 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Buig voor Haman!

Daar is reeds 4 volledige reekse beskikbaar as klankopnames, Die verhaal van Jesus, Rut, Hebreërs en Korintiërs. Klik op die skakeltjie "ANDER" hier bo om na hulle te luister asook om ander gratis boeke en materiaal te bekom. Hulle word gereeld aangevul.

 

Ester 3:1-6

Mordegai sit welgeluksalig in sy nuwe tuiste, die paleispoort, al die bedrywighede en gadeslaan. Hier kry hy natuurlik ál die jongste nuus, vars uit die perd se bek. En hy is tevrede, want hier kon hy ook Koning Ahasveros se lewe red deur sy oplettendheid!

Ten spyte daarvan dat Mordegai so nóú verweef is in die bedrywighede in die poort, bly hy steeds baie deeglik bewus van sy herkoms. Hy is en bly immers steeds ‘n Israeliet, en niks kan dit óóit verander nie! En boonop is daar sy Godsdiensoortuiging, hy vertrou vas op die Here, God van Abraham, Isak en Jakob. Die feit dat God toegelaat het dat hy weggevoer word uit sy land, laat hom net vaster klou aan sy geloof. Hy glo dat dit juis te danke was aan sy volk se afvalligheid om agter ander gode aan te loop, dat hulle in ballingskap weggeskeur is uit hulle geliefde vaderland. As almal tog maar net weer wil terugkeer na God, sal hulle weer hulle vryheid kry. Dit is God se manier om hulle na Hom te trek!

Op ‘n dag bereik die nuus Mordegai se ore, dat die koning beplan om Haman ‘n groot bevordering te gee. Mordegai is sommer vies - hierdie man is ‘n Amalakiet! Vir so ver as wat Israel se geskiedenis terug dateer, is die Amalakiete en die Israeliete aardsvyande. Dit het al begin toe Israel in die woestyn rondgeswerf het, voor die intog in die Beloofde Land. Dáár het die Amalakiete vir die eerste keer al oorlog gemaak teen sy volk. Haman is slegte nuus! Uit en klaar!

Die dag van Haman se bevordering breek aan, en dan verneem Mordegai via die druiwerankie in die poort dat Haman nou hoof is van al die koning se amptenare. Koning Ahasveros was seker in ‘n baie joviale bui, want hy kondig boonop aan dat wanneer Haman verbystap, moet een en elk voor hom kniel en hom eer betoon.

Mordegai is geskok tot in sy siel. Hoe kan hy dan nou voor énigiemand kniel? Dis mos afgods-aanbidding! “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie....” so het die Here God baie duidelik vir Moses beveel.

“Ek sal nooit as te nimmer voor hom buig nie!” Mordegai is gebelgd. “Die feit dat hy ‘n Amalakiet is, het natuurlik niks daarmee te doen nie! Ek buig voor géén mens nie, alleen voor God!”

Mordegai se gedagtes is skaars koud, dan gebeur die onvermydelike. Met ‘n groot gejuig kom Haman die paleis uitgestap. Almal kniel voor hom, en Haman waai ewe vriendelik vir sy “bewonderaars”.

Mordegai kry ‘n yslike knop op sy maag: “Wat moet ek doen?” Nou is hy in gróót moeilikheid! “Hulle gaan my doodmaak as ek nie buig nie!”

Maar dan onthou hy weer die woorde van die Wet van Moses. Kiertsregop bly hy staan, asof hy ‘n laaistok ingesluk het. Die poortwagte kyk grootoog na Mordegai. Hulle probeer vir hom beduie dat hy moet buig. Maar Mordegai kyk anderpad, asof hy Haman gladnie eers raaksien nie.

Later die dag, wanneer Haman terugkeer na die paleis, is dit weer sulke tyd. Almal kniel, net nie Mordegai nie. Een van die poortwagte stap ná die tyd na Mordegai toe: “Het jy nie gehoor van die koning se bevel nie?”

“O ja!” sê Mordegai, hy is wel deeglik bewus daarvan, “Maar ek is ‘n Jood, en ons God verbied ons om voor enige mens of god te kniel buiten voor Hom alleen.”

“Jy gaan in gróót moeilikheid kom!”

Dag-vir-dag gaan dit so voort, en Mordegai bly weier om voor Haman te kniel. En dan gebeur die onvermydelike: iemand gaan kla by Haman dat daar ‘n man in die poort is wat weier om aan hom eer te bewys. Haman is woedend! “Wie is hierdie man?” sis hy deur sy tande.

“’n Man met die naam Mordegai. Hy sê dat hy ‘n Jood is en dat.....”

“Ek moes dit geweet het!” gil Haman. “Dit kan maar net ‘n Jood wees wat sulke verfoeilike dinge doen!” Haman is wit van woede. Die eeue-oue haat vir die Joodse volk borrel oor sy lippe: “Ek gaan sorg dat elke Jood op aarde uitgeroei word met wortel en tak!”

Hoe ver is ek en jy bereid om te gaan om vir God op te staan? Ons almal onthou vir Daniël se vriende, Sadrag, Mesag en Abednego wat in die vuur beland het omdat hulle geweier het om voor ‘n ander god te buig. En Daniël het later sélf tussen ‘n spul uitgehongerde leeus beland omdat hy aan God getrou was. Is ons bereid om dieselfde te doen? Die probleem is dat meeste van ons nie eers die moed het om te reageer as God se heilige Naam misbruik word nie. Talle gelowiges heul steeds met die dinge van die duiwel - sterrewiggelary (die sterre voorspel), die oproep van afgestorwenes, die speel van duistere speletjies (glasie-glasie) ens. Dit is niks anders nie as om voor ander gode te buig. Kom ons maak soos Mordegai en neem daardie besluit om vas te staan, kom wat wil!

Gebed:

Here, U is die enigste God - ek sal slegs voor U buig en U dien. Gee my asseblief die krag daartoe om dit met volle oorgawe te doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026