Bruilof in Kana

6 January, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bruilof in Kana

Johannes 2:1-11

Die nuwe Rabbi, Jesus, en Sy handjievol eerste dissipels kry ‘n uitnodiging na ‘n bruilof. Nou weet ons dat bruilofte in Israel ‘n lang uitgerekte affêre was wat dikwels ‘n week lank kon duur. Ek wil amper vir Jesus sê: “Here, daar is nie tyd vir sulke alledaagse onbenullighede nie. Die tyd is kort! U wéét mos dat U net drie jaar het om alles af te handel!” Maar dan hoor ek Jesus se rustige stem as Hy vir my sê: “Toemaar Louis, moenie bekommerd wees nie. Hierdie bruilof is ‘n baie belangrike mylpaal.”

Ek nooi jou om saam met my na hierdie bruilof te gaan. Ons bly naby Jesus, want ek is baie nuuskierig om te sien presies wat Hy bedoel het.

Ons stap die vertrek binne, agter Jesus en Sy dissipels aan. Van ver af kon ons al die musiek en gelag en vrolikheid hoor. Binne is dit ‘n baie jolige affêre: dit dans en sing en vier fees dat dit ‘n aardigheid is. Heimlik wonder ek waarom Jesus Hom met sulke joligheid ophou. Is Sy bediening op aarde dan nie veronderstel om iets baie ernstig te wees nie? Ek vly my gemaklik neer op 'n kussing langs een van die tafels. Maria, Jesus se moeder groet ons hartlik. Sy is al van eergister af hier. Eetgoed is daar in oorvloed, en die atmosfeer is een van groot vreugde.

Maar gou sien ek dat alles nie so baie kosjer is nie. Ek mis my ou rooiwyntjie, wat so kenmerkend van enige bruilof is. Dan sien ek hoe Maria oorleun na Jesus toe. Sy lyk bekommerd. Ek spits my ore om te kan hoor wat sy sê bo die lawaai uit. “Die wyn is op!” is al wat ek kan uitmaak. Dis ‘n ramp! Wat gaan Jesus doen? Ek sien hoe Hy sy kop skud. Nee, Hy gaan nie help nie. Dan besluit Hy tóg om die arme bruidegom, wat veronderstel is om die wyn te voorsien, uit sy verknorsing te help. Hy beduie iets vir Maria, en dan verdwyn sy. Die volgende oomblik begin die kelners water aandra. In die een hoek staan sewe groot klipkanne wat gebruik word vir die reinigingsrituele. Al sewe die reuse kanne word propvol water gemaak. En dan beduie Jesus vir die kelners om van die water uit te skep en vir die seremoniemeester te gaan gee.

Ek sien hoe die man se gesig ophelder as hy die “water” proe: Dis nie water nie - dit is wyn! Héérlike wyn! ‘n Volle 700 liter daarvan! Ek loer in die rigting van Jesus se dissipels. Hulle is in ekstase! Nou wéét hulle dat hulle keuse om Jesus te volg die regte een was.

Ek wonder oor die betekenis van al hierdie gebeure. En dan gaan daar skielik vir my ‘n liggie op. Jesus het met ‘n doel na hierdie bruilof gekom. Dit was nie maar net tyd uithang en partytjie hou nie! Hy het simbolies hier die pligte van die bruidegom kom oorneem deur die wyn te voorsien. En dan onthou ek dat Johannes in Openbaring 19:5-10 geskryf het van die “bruilof van die Lam.” Daar word Jesus beskryf as die Bruidegom. En as Bruidegom by uitstek, voorsien Hy in oorvloed. Wie sal ooit 700 liter wyn opdrink op ‘n bruilof?

Maar daar is meer: Amos het mos geprofeteer van hierdie wyn wat so in oorvloed sou vloei met die koms van die Messias. Gaan lees gerus weer daardie laaste hoofstuk (Amos 9:13-14), waar hy sê dat die wyn van die berge sal afdrup. Dit is vir jou oorvloed!

Nou begin dinge vir my in plek val. Ek kyk na die klipkanne. Daar is iets omtrent hulle! Waarom het Jesus nou juis besluit om Sy wyn in reinigingskanne te maak? Dit maak nie sin nie! Skielik sien ek dit: Daardie kanne is simbolies van die wet! Hulle word gebruik om die water in te hou vir die Jode om hulle reinigingsrituele na te kom, soos wat die wet vereis. Wat doen Jesus? Hy verander die “wet-kanne” in “feesvier-kanne!” Omdat Jesus, die Bruidegom hier is, is ons nou nie meer aan die wet gebonde nie maar kan ons saam met Hom feesvier!

Ek het al baie gewonder, waarom het Jesus eers geweier om aan Maria se versoek te voldoen, en toe doen Hy in elkgeval die wonderwerk? Ek dink dat Jesus daarmee wou sê dat Hy nie deur mense voorgesê kan word wat om te doen nie, nie eers deur Sy moeder nie. Maar wat Hy gedoen het was die wil van Sy Vader, en daaraan alléén was Hy gehoorsaam.

Ek sien hoe Jesus se dissipels in verwondering na hulle Meester kyk. Vandag het hulle geleer dat Hy nie sommer enige Rabbi is nie, maar dat Hy mag en heerlikheid het. Is Hy dalk wáárlik die Messias?

Hoe sien ek en jy vir Jesus? Ons is geneig om Hom te soek in die bonatuurlike. Dalk moet ons ‘n slaggie ons oë oopmaak en Hom soek in die doodgewone, alledaagse dinge van die lewe, soos ‘n bruilof! Om Jesus te herken, moet ek bereid wees om die klein wonderwerke wat elke dag in my lewe gebeur raak te sien en Jesus in geloof daarin te herken. Maar dan moet ek ook die regte ding doen en Hom al die eer gee vir hierdie dinge. Loof Hom met jou hele hart!

Gebed:

Here Jesus, U is God en Heer! Dankie vir al U wonderdade wat ek elke dag kan beleef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024