Johannes 6:1-15
Jesus en sy dissipels was langs die see van Galilea, by Betsaida-Julius. ‘n Groot skare mense het nuuskierig agter hulle aangedrentel en gehoop dat Jesus weer die een of ander groot wonderwerk sou doen. Die nuus het gou versprei en almal wou sien wat Jesus doen. Jesus het gou besef dat niemand Hom hier onder in die vlakte sou hoor nie, dus klim Hy halfpad teen die berg op sodat daar ‘n natuurlike amfi-teater vorm, waar Hy saam met Sy dissipels kon gaan sit. Die verhoog was opgestel vir een van die mees aanskoulike wonderwerke óóit. Steeds het die skare aangegroei.
In my verbeelding sien ek die prentjie afspeel.
Jesus roep een van die manne nader: “Filippus, waar gaan ons kos kry vir al die mense?”
Filippus skrik hom yskoud. Hy laat sy oë gaan oor die reuse skare wat by die minuut nog aangroei. “Hier sit minstens vyfduisend manne alleen, Meester!” Hy begin sy sommetjies maak. As die vrouens en kinders bygetel word, moet daar maklik vyftienduisend mense wees! Om hulle almal kos te gee, sou seker maklik ‘n jaar se salaris kos. En ons is maar net ‘n klompie arm vissermanne! Hoe kan die Meester van ons verwag om vir soveel mense kos te gee? Hier sit ‘n klómp mense! En hulle is honger!
Moedverlore kyk Filippus rond, terwyl Jesus hom fyn dophou. Andreas beduie laggend na ‘n seuntjie hier in die voorste ry met vyf garsbroodjies en twee bokkems - gedroogde vissies. “Dalk kan ons dit gebruik!” spot Andreas. Filippus vererg hom sommer: “Dis net ‘n ou druppeltjie in die emmer!”
Maar Jesus het lankal geweet wat Hy sou doen. Daardie seuntjie is nie verniet vandag hier nie en die feit dat hy vandag juis vyf broodjies by hom moet hê, is beslis ook nie toevallig nie. Alles was haarfyn beplan, hier is net mooi een broodjie vir elke duisend gesinne. Oorgenoeg! Jare gelede het Hy vir ‘n volle veertig jaar lank elke dag daar in die woestyn genoeg manna uit die hemel voorsien vir drie miljoen mense. Om vir hierdie paartjies kos te gee, sal daarteenoor ‘n relatief klein wonderwerkie wees! Hy beduie vir die skare om te gaan sit. Die grasbedekte hange van die heuwel is ‘n ideale plek vir hierdie “piekniek.” Die afwagting by die mense is groot. Wat beplan hierdie “Profeet” nou?
Jesus dank God vir die kos wat Hy voorsien het en dan beduie Hy vir die dissipels om dit uit te deel.
Die manne verstaan nog nie mooi hoe hulle die taak gaan aanpak nie. Maar dan gebeur die wonderwerk! Soos wat hulle die brood en vis breek, begin dit meer word. Hoe meer die manne uitdeel, hoe meer word die kos! Dit klink soos ‘n byenes soos die mense praat. Hulle kan nie glo wat besig is om voor hulle oë te gebeur nie. Nee, dit kan nie anders wees nie, hierdie Jesus is beslis die Messias! Nóú is die tyd om Hom te kroon sodat Hy die volk van Herodus en Pilatus en al die Romeine kan verlos!
Jesus is egter nog nie klaar met die wonderwerk nie, want eers moet daar ‘n ou Joodse gebruik uitgevoer word, om die oorskiet bymekaar te maak. As hulle daarmee klaar is, is daar nie minder nie as twaalf mandjies vol wat oorbly van die vyf klein garsbroodjies, nadat vyftienduisend mense daarvan geëet het!
‘n Uiters aanskoulike wonderwerk, inderdaad. Maar daar steek baie meer agter hierdie wonder as net die asemrowende grootheid daarvan.
Johannes meld nie verniet in hierdie perikoop van die Paasfees wat op hande is nie. Jesus was op die punt om hierdie fees ‘n totaal nuwe betekenis te gee. Paasfees was natuurlik die fees van die herdenking van die uittog uit Egipte, toe God die volk verlos het uit die kloue van die Farao. Een van die groot simbole van hierdie fees was juis die ongesuurde brood wat hulle moes eet. Later, tydens Jesus se laaste nagmaal saam met Sy vriende, verwys Hy dan ook juis na die brood as Sy liggaam. Met hierdie wonder kom deel Jesus die brood oorvloedig uit want Sy liggaam sou daar in oorvloed wees vir elkeen wat in Hom glo. Maar anders as die manna wat Hy in die woestyn voorsien het, wat slegs tydelik was, is hierdie “brood” wat Hy sou gee vir ewig.
Maar daar sou meer as net brood op die spel wees. Tydens Paasfees speel die bloed van die lam wat geslag is ook ‘n simboliese rol. In Egipte het daardie bloed die doodsengel laat verbygaan. Jesus se kosbare bloed wat Hy gestort het aan die kruis, laat ook vandag vir ons wat in Hom glo, die doodsengel verby gaan, die doodsengel van die ewige verderf.
Die skare wil Jesus kroon as Koning. Dit sou rampspoedig wees, want dit sou ‘n politieke revolusie meebring. Pontius Pilatus en die Romeinse Ryk sou onttroon word, en Jesus sou die Koning word van Palestina. ‘n Paar miljoen mense sou gered word. Jesus verkies egter om dit van die hand te wys want Sy Koninkryk is véél groter as net ‘n klein politieke rykie. Dit is verhewe bo enige politiek! Hy moes die ganse wêreld red van die mag van die owerste, die duiwel. Daarom is Hy vandag ook my en jou Redder.
Gebed:
Here, dankie dat U baie groter dink as mense, en dat U ook hierdie wonderlike reddingsplan uitgewerk het sodat elke mens op aarde gered kan word as hulle in U glo.