Inleiding tot die Korintiërs briewe
Die vraag wat baie teoloë mekaar vra, is hoeveel briewe Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het? Die antwoord is eintlik heel eenvoudig: Ons weet nie! Wat ons wél weet, is dat daar beslis meer as twee briewe geskryf is - waarskynlik vier. Nou waarom sou Paulus so baie tyd spandeer aan briewe skryf aan hierdie gemeente? Bloot omdat daar soveel probleme was! Hulle het gedurig sy aandag nodig gehad.
Alles het begin, vroeg in die jaar 50nC. toe Paulus, Silas en Timoteus vir agtien maande in Korinte gewerk het. Paulus het by Priscilla en Akwilla ingetrek. Hulle was tentmakers en ons weet natuurlik dat Paulus ook ‘n tentmaker was. Die gevolg was dat hulle heerlik saamgewerk het aan hulle tentmakersberoep terwyl Paulus terselfdertyd ook die evangelie aan die mense van Korinte bedien het.
Dit was beslis nie maklik nie, want die Jode in die stad wou hom nie aanvaar nie. Hulle het hom só erg beledig dat hy uiteindelik gladnie meer in die sinagoge kon gaan preek nie. Uiteindelik het hierdie selfde Jode hom dan ook voor die hof gesleep. Hulle het egter druipstert daarvan afgekom en die regter het die hele spul uit die hof gesmyt!
Paulus en sy span het gevolglik hoofsaaklik onder die nie-Jode gewerk. Hulle het vasgebyt ten spyte van al die teenstand wat hulle van die Jode gekry het!
Vandag kan elke gemeente steeds leer uit die briewe wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het.
Pas na hulle vertrek na Sirië, het Paulus alreeds sy eerste brief geskryf om hulle te waarsku teen onsedelikheid. Die jong gemeente het hierdie brief totaal misverstaan, en toe skryf hulle ‘n brief aan Paulus, en stuur dit met ‘n afvaardiging na hom. Hulle was nie gelukkig nie!
Voor hierdie afvaardiging hom bereik, skryf Paulus egter ‘n tweede brief aan die gemeente, die bekende 1 Korintiërs, waarin hy baie van hulle vrae reeds beantwoord. Toe hierdie beswaarde manne egter by Paulus aankom, besluit hy dat daar nou vinnig ‘n ding gedoen moet word om dinge te kalmeer in Korinte. Die jong Timoteus word afgevaardig om dinge daar te gaan regruk. Maar steeds was dinge nie lekker in Korinte nie, met die gevolg dat Paulus sélf ‘n kort noodbesoek moes gaan doen. Hierdie besoek was vir hom bitter onaangenaam, omdat hy daar grof beledig was deur iemand!
Na hierdie traumatiese besoek, skryf Paulus weereens ‘n brief aan hulle, die sogenaamde “tranebrief.” Titus moes die brief gaan aflewer. Met groot afwagting het Paulus uitgekyk vir Titus se terugkeer. Hy wou weet wat daar aangaan, en of sy brief ooit die nodige uitwerking gehad het. In sy brief vra hy onder meer dat die moeilikheidmaker kortgevat moes word.
Titus het goeie nuus gebring - die gety het gedraai in Korinte! Nou kon hulle begin werk aan die dinge wat werklik saak maak, naasteliefde en versoening.
In ongeveer 55nC skryf Paulus hoofstukke 1 tot 9 van 2 Korintiërs as ’n versoeningsbrief. Hy stuur dit weereens vir hulle met Titus. Hierin maak hy onder andere ook voorbrand vir ‘n kollekte wat ingesamel moes word vir die verarmde gemeente in Jerusalem. Dit wil voorkom asof dinge hierná weer versleg het in Korinte. Paulus is dus genoodsaak om ‘n paar maande later wéér 'n brief te stuur, hoofstuk 10-13 van 2 Korintiërs. Hierin skryf hy dat hy binnekort persoonlik weer ‘n besoek aan hulle sou aflê. Volgens Romeine 15:25-26 kry ons die indruk dat hierdie derde besoek van Paulus geslaagd was, en dat hy boonop ‘n goeie bydrae gekry het van hulle om na Jerusalem te neem.
Dit is só jammer dat die ander briewe van Paulus aan Korinte nie behoue gebly het nie. Maar nogtans kan ons uit die twee wat wél vir ons bewaar is, ‘n goeie prentjie vorm van die gemeente wat ons so baie laat dink aan baie van ons eie gemeentes vandag. As Paulus darem vandag vir elke gemeente moes skryf, sou hy seker ‘n vroeë dood gesterf het! Dit is egter baie belangrik dat ons uit Paulus se briewe aan Korinte moet leer oor ons eie situasie, en moet toepas waarvoor Paulus pleit.
Die eerste belangrike ding wat ons moet leer, is die toewyding wat Paulus gehad het aan sy roeping, selfs wanneer hy beledig, teleurgestel en verwerp was. Kerkleiers moenie moed verloor nie, maar vasbyt, met die oë gevestig op Jesus, en voortgaan met ons roeping, ten spyte van!
Gemeentelede moet dééglik kennis neem van hoe om steeds meelewend te wees, en sensitief vir mekaar se omstandighede in ons moderne, voortsnellende samelewing. Ons durf nooit maar net teoreties kyk na ander se nood nie, maar ons moet prakties iets daaromtrent doen. Gelowiges se omgee vir mekaar het beslis ook finansiële implikasies!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie brief van Paulus. Help my asseblief om dit op my lewe toe te pas!