Gister se Skrifgedeelte wil jou amper die indruk gee dat Paulus besig is om sy eie stert te prys. Hy skryf byvoorbeeld: “Ons is nie soos ander wat geld maak uit die Woord van God nie,” en dan gaan hy voort om te vertel dat hy die Woord in opregtheid en verantwoordelikheid verkondig in opdrag van God. Klink dit dalk ‘n bietjie verwaand? Ek dink Paulus het sélf vermoed dat dit daardie indruk kon skep, en daarom is hy baie vinnig om te vra: “Begin ons onsself aanprys?” (2 Kor 3:1).
Ons het Paulus leer ken as iemand wat uiters uitgesproke is, en beslis nie doekies omdraai nie. Hy sê ‘n ding soos hy glo dat dit gesê moet word. En as hy glo dat hy ‘n voorbeeld stel, dan sê hy dit ook. Maar hy wil glad nie die indruk probeer skep dat hy homself aanprys nie. Die enigste ding wat werklik vir hom van belang is, is die evangelieverkondiging. Hierdie saak is egter só nóú vervleg met sy eie lewe, dat sy lewe waarlik ‘n voorbeeld is van hoe dit gedoen moet word. Ek dink dat Paulus met reg kon glo dat hy reg was om sulke stellings te maak! Hy was immers in sy hart oortuig dat hy reg was.
Wanneer jy aansoek doen vir ‘n betrekking, is die eerste ding waarvoor jou voornemende werkgewer gewoonlik vra, ‘n aanbevelingsbrief, oftewel ‘n CV. Daardie dokument word nie deur iemand anders opgestel nie, maar deur jouself. Kyk, ek het al CV’s onder die oog gehad wat my laat lê het van die lag! Die manier waarop sommige mense hulle eie sterte prys, en vertel van hoe wonderlik hulle nou eintlik is, kan skreeusnaaks wees. Die tragiese is dat ‘n CV deesdae totaal sy waarde verloor het, juis as gevolg van hierdie tendens om ‘n CV so wonderlik in te kleur. Wat is die waarheid?
Dieselfde gaan oor getuigskrifte. Al te dikwels word ‘n persoon só opgehemel in ‘n getuigskrif, dat hy totaal onherkenbaar word. Die getuigskrifte wat ek in my Matriekjaar gekry het, het my so kort deuskant ‘n engeltjie beskryf!
In kort: CV’s en getuigskrifte het totaal waardeloos geword. As Paulus vandag vir ons die vraag sou vra, of dit dan nou nodig is dat hy eers sy CV moet stuur voordat ons na hom luister, wat sou ons reaksie wees?
As Curt Darren vanaand in jou dorp sou optree, dink jy dat dit nodig sou wees dat hy eers sy CV in die dorp gaan uitdeel? Daarin sal dalk staan van hoeveel CD’s hy in sy loopbaan verkoop het, hoeveel keer hy reeds opgetree het en hoe gewild hy is. So ‘n CV sou dalk ‘n klompie mense lok. Maar hy het nie ‘n CV nodig nie, want sy charisma en verhoogpersoonlikheid loop hom ver vooruit. Mense kyk by sy foute verby en sien die kunstenaar daaragter, en hulle stroom na sy vertonings toe. Hy ís sy eie CV en getuigskrif!
Op dieselfde wyse het Paulus se hele lewenswyse hom vooruit geloop. Hy het nie aanbevelingsbriewe nodig gehad om die Evangelie te mag verkondig nie. Maar dit gaan nie oor Paulus nie, maar die lesers van hierdie brief. Hy wil dit op die hart druk van elkeen wat die brief lees, om ook so ‘n lewende getuigskrif te wees. “Julle is ‘n brief van Christus”, skryf Paulus, “geskryf met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense”.
Die vraag vanoggend, is hoe ons eie brief lyk? Wat lees die wêreld daar buite as hulle ons brief kom oopmaak? Dalk moet ons ‘n slaggie gaan stilsit en ons eie brief ‘n bietjie deurlees. Kyk vir spelfoute, lelike woorde en kolle waar die inkpot omgeval het.
Die héél eerste ding waarna ons moet kyk, is wie die outeur is van ons lewensbrief. Is dit waarlik Jesus? Of het die duiwel ook ‘n paar reëls ingeskryf? As die duiwel sy pen op my briefie kom rondswaai het, dan gaan daar dinge soos norsheid, liefdeloosheid, woede, onvergewensgesindheid, skinder, kwaadpraat, selfsug, hebsug en al daardie vieslike goed, iewers in my lewe te voorskyn kom. Enigiemand wat daardie dinge in my brief lees, gaan dadelik weet dat Jesus nie op my lewenstroon sit nie. Snaaks hoe een enkele vuil kol op ‘n brief, die ganse brief bederf, al is hy in die mooiste skoonskrif geskryf. En hoe mooier die brief is, hoe leliker staan daardie kol uit. Dit is ‘n waarskuwing aan persone wat baie naby aan die Here leef, om soveel méér nougeset te lewe, anders bemors hulle hulle lewensbrief.
Wat behoort op ‘n gelowige se lewensbrief geskryf te staan? Liefde, vriendelikheid, vertroue op God, liefde, omgee vir ander, liefde, meelewing met ander se nood, ‘n passie vir die Evangelie, liefde, eerlikheid, selfopoffering, liefde, borrelende blydskap - selfs in moeilike omstandighede, liefde. Het ek dalk vergeet om liefde te noem?
Hoe lyk my lewensbrief? Is dit nodig dat iemand eers ‘n aanbevelingsbrief skryf oor my? Ek wil jou graag uitnooi om saam met my hieroor te gaan bid. Kom ons hou 'n slaggie behóórlik introspeksie en maak reg waar dit skeef is.
Gebed:
Here, my lewensbrief het soveel liederlike inkkolle op. Help my asseblief om dit mooi skoon te kry.