Brief aan Efese

18 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Brief aan Efese

Jy kan nou na verskeie dagstukkie reekse se klankopnames luister.

Klik op die skakel hier bo.

 

Openbaring 2:1-7

Johannes kry opdrag van die “Hoogste Gesag” om sewe briewe te skryf aan die sewe gemeentes. Hierdie is geskryf as een enkele bundel, en as ‘n geheel voorgelees aan al sewe die gemeentes. Dit is dus nie noodwendig sewe aparte briewe nie, maar een enkele boodskap. Hierdie gemeentes aan wie die boodskappe gerig is, lê in ‘n perdehoef op die Romeinse hoofpad in Asië, maar eintlik is hulle simbolies van die hele Christelike kerk.

Wanneer ons hierdie sewe briewe lees, vorm hulle saam ook ‘n eenheid, en terselfdertyd sluit hulle aan by hoofstuk 1. Ons kan hulle nie los hiervan lees nie. In elkeen van hierdie briewe begin die Here deur te sê: “Ek ken.....” of “Ek weet alles wat julle doen” en dan volg ‘n beskrywing van die situasie in die gemeente, hetsy goed of sleg.

Die brief word telkens afgesluit met ‘n oproep om te luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Daar is telkens ook ‘n belofte aan diegene wat oorwin. Hiermee praat die Heilige Gees nie alleen met die sewe gemeentes nie, maar met elke gelowige, en daar is dus wonderlike beloftes vir elkeen van ons opgesluit in hierdie sewe briefboodskappe, en terselfdertyd ook vermanings.

Die eerste gemeente aan die beurt is Efese, ‘n pragtige stad met ‘n kwartmiljoen inwoners, geleë op die punt waar drie handelsroetes bymekaar kom. Hierdie stad was ‘n baie groot en effektiewe handelsentrum. Dit was uitgelê rondom ‘n riviermonding en dit was geseën met ‘n groot natuurlike hawe.

Wat kultuur betref, was Efese die stad wat kon spog daarmee dat die Pan-Ioniese spele daar plaasgevind het. Hierdie gebeurtenis het natuurlik derduisende besoekers gelok. Dan was daar natuurlik ook die asemrowende tempel van Artemis, oftewel Diana, soos dit in Latyn bekend gestaan het. Hierdie verruklike bouwerk was beskou as een van die sewe wonders van die wêreld. Hierdie was ook nie die enigste tempel nie. Daar was talle soortgelyke bouwerke waarvan die oorblyfsels vandag nog, tweeduisend jaar later gesien kan word. In sommige van hierdie tempels was keiserverering beoefen, waar die keiser as ‘n god aanbid is. Noord Korea is dus g’n nuwigheid nie!

In die brief aan die gemeente van hierdie welvarende stad, word hulle onvermoeide arbeid asook hulle volharding aangeprys. Hulle het uit hulle pad gegaan om die boodskap van die Evangelie suiwer te hou, en die werk van vals profete is summier aan die kaak gestel. Paulus het in sy afskeidsgesprek met die ouderlinge van Efese gepraat van die “wrede wolwe”, waarskynlik Nikolaïete.

Ongelukkig het die gemeente se ywer om hierdie dwalings uit te snuffel ook ’n prys gehad. Hulle het soveel aandag hieraan gegee, dat daar ’n baie belangrike deel van hulle verhouding met die Here verlore gegaan het - hulle liefde vir Christus het begin verflou!

Dit kan baie gevaarlik wees om heeldag te probeer sensor speel, want dit kan lei tot ‘n soort selfverheffing, wat jou liefde vir Jesus, en saam daarmee ook jou liefde vir jou naaste kan aantas.

In die brief word die gemeente dan ook vermaan om te gaan dink oor hoe ver hulle al agteruitgegaan het in hulle liefde, die einste liefde wat eintlik hulle Christelike leefstyl tot stand gebring het. Hulle moet hulle bekeer en wegdraai van daardie sonde af, en hulle denke totaal vernuwe. Maar dan moet hulle ook gaan en weer doen wat hulle reg aan die begin gedoen het, toe die Evangelie soos ‘n vars briesie deur hulle lewens gewaai het. Hulle geesdrif vir Christus moet weer gloei en sigbaar word in hulle lewens. Hulle moet weer luister na die Gees van God.

Inderdaad praat die Woord van God vandag met elkeen van ons, net soos met die Efesiërs. Dikwels raak ons so behep met sekere dinge, dat ons begin vergeet van dít wat rêrag saakmaak. Gaan dink maar watter dinge jou gedagtes oorheers. Dis nie noodwendig slegte dinge nie, en dikwels baie edele sake. Dalk is dit jou passie vir die behoud van ons pragtige taal. Moontlik is dit die misdaad in ons land wat jou ‘n ywer gee om dit met al jou mag te bestry. Dalk stry jy daarvoor om pornografie en Godslastering op TV te stop.

Daarmee is niks verkeerd nie, en dit is alles reg en baie edel, maar daar moet ‘n balans in jou lewe wees. As jy hierdie dinge doen, en die liefde, wat jou lewe móét oorheers, is nie meer sigbaar nie, dan het jy liederlik gefaal in jou Christelike plig. Die belangrikste van alles - liefde - mag nóóit in jou lewe vervaag nie.

Johannes sluit hierdie briefgedeelte af met die wonderlike belofte dat die Here diegene wat oorwin, sal laat eet van die Boom van die Lewe. Dit is beeldspraak wat sê dat ons deel sal hê aan God en aan die Lam. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!

Gebed:

Here, vul my lewe weer vandag opnuut met U allesoorheersende liefde.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026