Judas:1,2
Wat familie betref, is ek baie arm. Ek was die enigste kind, en ek het só gesmag daarna om 'n boetie of sussie te kon hê. Maar dit was my nie beskore nie. Ek moes maar verlief neem om myself te vermaak op die plaas waar ek grootgeword het. En dit kon ek baie goed doen! Ek het die berge en klowe van Waterval Boven soos die palm van my hand geken. Dikwels het ek stoksiel alleen groot, en soms gevaarlike ontdekkingstogte gedoen.
Dit is kosbaar om boeties en sussies te hê om hierdie dinge mee te kan deel. Ek was dikwels al baie jaloers as ek gesien het watter hegte band daar tussen broers en susters ontstaan. Dit is goud werd.
Judas het ook broers en waarskynlik ook susters gehad. Inderdaad het Judas 'n baie spesiale Broer gehad, maar Judas is só beskeie hieroor dat hy nie eers wil noem dat hy die jonger broer van Jesus was nie.
In die aanhef noem hy homself “dienaar” sowel as “broer”. Hy is egter nie Jesus se broer nie, maar Jakobus s'n. En soos ons gister gesien het, was Jakobus die ander broer van Jesus. Judas wil egter eerder geken word as Jesus se dienaar, oftewel Sy slaaf. Die feit dat hy homself nie as Jesus se broer beskryf nie, maak sy selfbenoeming as Jesus se slaaf baie merkwaardig. Die tyd toe Jesus se eie broers nie in Hom geglo het nie, is vir altyd verby - so wil Judas hiermee dalk sê. Vir sy lesers wil hy sê dat hy nie sy familieverwantskap aan Jesus eers wil noem nie, want hy glo waarlik in die Godheid van Christus en hy wil hulle op hierdie wyse oortuig dat dit 'n werklikheid is. As gelowige wil hy maar net geken word as Jesus se dienaar, alhoewel hy sékerlik die volste reg het om Jesus se broer genoem te word.
Die vraag wat ek myself vanoggend moet afvra, is hoe ek my verwantskap aan Jesus wil sien? Vir my persoonlik wil ek Hom sien as bloedfamilie - ek is immers ‘n kind van God, en Jesus is die Seun van God. Dus is Jesus vir my eie Familie - my Broer. My verhouding met Jesus wil ek graag op ‘n baie intieme en persoonlike vlak beleef, soos ‘n mens dit alleen kan beleef met ‘n broer wat baie naby aan jou is. Dit is my binnekamer-verwantskap met Jesus.
Waar daar 'n goeie verhouding tussen broers of susters is, sal hulle dinge met mekaar deel wat hulle met niemand anders sal deel nie. Daar is 'n baie groot vertrouens-verhouding, waar hulle openlik met mekaar sal gesels. Daar is ook 'n sterk liefdesband wat hulle bind, en hulle sal hulle lewens vir mekaar aflê. Hulle sal dinge vir mekaar doen wat hulle vir g'n ander mens ooit sal doen nie sonder om enigiets terug te verwag
Maar hoe lyk my verhouding met Jesus? In 'n sekere sin is Hy ook my “Broer” en om daardie rede sal ek ook my diepste hartsgeheime met Hom deel, want ek weet dat ek Hom met my lewe kan vertrou. En dan is daar die liefdesband wat my aan Hom bind. Hy het alreeds bewys hoe groot Sy liefde vir my is – Hy het Sy lewe vir my afgelê. Sal ek dan nie dieselfde vir Hom doen nie?
Soos wat broers dinge vir mekaar doen sonder om iets terug te verwag, so is dit ook tussen my en Jesus. Vir my het hy alreeds ontelbare dinge gedoen en Hy doen steeds vandag vir my baie meer dinge as wat ek kan opnoem. Sal ek dan nou hande gevou sit en net aan die ontvangkant wees? Beslis nie! Dit is maar net natuurlik dat ek ook dinge vir Hom sal doen oor die eenvoudige rede dat ek Hom oneindig liefhet, net soos Hy vir my.
Vir die wêreld daar buite wil ek egter nie hoogmoedig en verhewe wees bo die res van die “gepeupel” en myself voorstel as “die broer van Jesus” nie. Dit sou uiters verwaand wees. Daarom wil ek eerder net Jesus se dienaar wees wat Sy liefde aan die wêreld uitdra. Ek wil vir Hom ‘n ambassadeur wees wat sélf op die agtergrond bly, maar wat Jesus se heilige Naam groot maak aan almal wat ek teëkom. Ek is mos trots op Hom! En as jy trots is op iemand, dan wil jy vir almal wat oor jou pad kom van Hom vertel.
Ek wil myself egter ook sien as “bloedfamilie” van ander gelowiges, want om familie te hê is baie lekker, maar as jou familie boonop ook medegelowiges is, dan is dit soveel lekkerder, want dan kan ‘n mens sáám die Here dien met ‘n dubbele vreugde.
Dit is vanoggend vir my wonderlik om hierdie dagstukkie te kan deel met jou, my boetie en sussie in Jesus. Mag barmhartigheid, vrede en liefde in oorvloed aan jou geskenk word! Mag jy vandag God se genade op 'n wonderlike wyse beleef en mag jy totale vrede ondervind wat alle verstand te bowe gaan. En my gebed is dat jy nie alleen liefde in oorvloed sal ontvang nie, maar dat jy dit nét soveel sal uitleef teenoor almal wat jou pad kruis.
Gebed:
Here, dankie vir al my familie in Jesus. Dankie vir die liefde wat ek in oorvloed van hulle ontvang, en dankie dat ek ook my vreugdes en smarte met hulle kan deel!