Bitterfontein se Soet Water

20 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bitterfontein se Soet Water

Jakobus 3:7-12

VIDEO OUDIO

Dis 1961. Ek en maat Fanie is baie opgewonde. Ons is twee jong latte, so pas gespeen van die laerskool en met vakansie by Xai-Xai in Mosambiek. Hier was ons al dikwels, maar vandag is die groot opwinding dat ons die wêreld noord van Xai-Xai 'n bietjie gaan verken saam met Pa-hulle in ons nuwe Landrover.

So anders as die berge, klowe en kranse waaraan ons so gewoond is in die skilderagtige Waterval Boven waar ons bly, is hierdie wêreld so plat soos 'n pannekoek. En boonop is daar nêrens 'n klip van 'n dag oud te bespeur nie. Dis net sand, sand en nogmaals sand so ver as wat jy kyk.

Maar mooi! Dit is 'n ware paradys! Lowergroen tropiese woude omsoom talle mere wat soos 'n lang string pêrels ingeryg is vir baie kilometers aanmekaar. Die string mere loop almal parallel met die see, en dit is net 'n smal strokie land wat hulle van die see skei. En natuurlik wemel hierdie mere van krokodille, monsters soos wat jy nog nóóit gesien het nie! Ons twee vergaap ons aan die wonderwêreld wat verbygly.

Uiteindelik is ons verby die mere en draai ons see se kant toe. Na 'n draai om 'n reuse duin, is daar 'n riviertjie wat uitmond in die see. Ons hou stil en ons twee hardloop uitgelate oor die breë sandstrook na die verlate strand om eers gou 'n draai deur die brandertjies te hardloop.

Dan merk ek dit: Hoog bo teen die duin staan daar 'n half-geroeste waterpomp. Opgewonde hardloop ons daarheen. Die dag se lang ry en uitmergelende hitte het ons baie dors gemaak, en hier lok 'n waterpomp tussen niks en nêrens om ons dors te kom les. In my gedagtes proe ek al die heerlike soet, yskoue fonteinwater van ons plaas. “Ek drink eerste!” deps Fanie, en wanneer ons uitasem by die pomp kom, moet ek die stywe hefboom op en af wikkel terwyl Fanie bakhand by die tuit staan. Helderskoon, yskoue water spuit na 'n paar pompe uit en gulsig vat Fanie 'n groot mondvol water.

Die volgende oomblik spoeg hy dit vies uit terwyl hy 'n vreeslike gesig trek. “Nee, ga! Sies!” protesteer hy. “Proe jý!”

Ek gaan staan bakhand terwyl Fanie pomp. Ek proe. Dit is die slegste brakwater wat ek in my lewe geproe het! Amper suiwer seewater! Ons is bitter teleurgesteld.

Ek leer 'n kosbare les: Alle fonteine bring nie soet water voort soos die geval van ons plaas se fontein nie. Sommige fonteine spoeg bitter water uit! Jakobus leer nog iets verder oor fonteine: jy kry nie bitter én soet water uit dieselfde fontein nie!

Die afgelope paar dae gesels ons nou al oor die noodsaaklikheid van die beheersing van jou tong. Ons moet leer om ons woorde te tel en net mooi of opbouende dinge van ander mense te sê.

Maar daar is ook 'n ander sy aan hierdie saak, en dit is oor hoe ons met en oor God praat. Ons besef nou seker al almal hoe belangrik dit is om gereeld 'n erediens by te woon. Wat is een van die hoof elemente van 'n erediens? Lofprysing! In ons eie gemeente, Ballito Gesinskerk, is dit by ons prioriteit om erns te maak van ons lofprysing tydens ons erediens. Ons het 'n musiekspan wat, sonder om 'n konsert te maak van die erediens, die gemeentesang op só 'n manier lei en inspireer dat elkeen in die diens deeglik besef dat dit oor veel meer gaan as net lekker saamsing. Lofprysing is hier waarlik 'n aanbiddingsgeleentheid waar ons lof betuig aan God Almagtig.

Die vraag is egter wat doen ons die res van die week? Wat gebeur Maandag wanneer jy in 'n verkeersknoop beland? Wat gebeur wanneer 'n têksie onverskillig voor jou inswaai? Is daar steeds 'n loflied op jou lippe?

En wat van Saterdagaand ná rugby by die braaivleisvuur? Veral wanneer jou span (natúúrlik die Sharks!) gewen het en die lemonadetjies vloei vryelik en julle is vrolik! Dis mos dán wanneer die grappies, waarvan die meeste so 'n halfmeter onderkant die belt is, almal laat skater. Absoluut niks verkeerd met 'n mooi skoon grap nie, maar as hy vulgêr raak of vol vloekwoorde, dan is daar groot fout. Wanneer daar boonop nog ook disrespekvol oor die Here gepraat word of Sy heilige Naam in gedrang kom, dan is daardie fontein vrot!

'n Fontein kan nie vars én bitter water laat opborrel nie. As daardie soort gedagtes oor 'n gelowige se lippe kom, dan betwyfel jy die egtheid van sy geloof en veral die egtheid van sy lofbetuiging Sondag tydens die erediens.

Dit bring ons terug by die gedagte waarmee ons drie dae gelede begin het, oor die beheersing van jou tong. Dit gaan nie alleen daaroor of jy iets kwetsend van of vir iemand anders sê nie. Dit gaan oor álles wat jy sê! Dit gaan oor die soort van grappies wat jy vertel, en dit gaan oor vuil taal. Dit gaan daaroor of jy God se heilige Naam ydellik misbruik of toelaat dat ander mense dit doen.

Bo alles gaan dit in die diepste sin oor die gesindheid van jou hart. As ek 'n ware persoonlike verhouding met die Here het, sál ek my tong in toom hou!

Gebed:

Here, help my asseblief om my fonteintjie skoon en vars en soet te hou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026