Efesiërs 6:18-24
Jou hart is ‘n sagte teiken. Deesdae dra die polisie koeëlvaste baadjies om die hart te beskerm. Geestelik is jou hart egter nét so kwesbaar en as hy getref word, twyfel jy of jy waarlik God se vryspraak het. Om daardie rede is die borsharnas vir Paulus só ‘n belangrike deel van ‘n soldaat se mondering maar ook dié van die gelowige. As jy dus God se borsharnas van Vryspraak aantrek, is jou hart veilig.
Maar wat behels dit alles? Eintlik sluit dit aan by die vorige gedeelte oor die waarheid. Feitlik elke gelowige het al per geleentheid twyfelgedagtes beleef of hulle wél deur God vrygespreek is. Dit is die werk van die Bose om sulke leuens in jou hart te plant. God se versekering dat Hy jou wél vrygespreek het, werk soos ‘n borsharnas wat jou hart beskerm. Sit hierdie harnas aan en jou hart sal nie getref word nie.
Maar wat beteken hierdie vryspraak? Dat Hy ál jou sondes vergewe het. Jesaja 1:18 beskryf dit so mooi: “Kom tog, laat ons die saak uitpraat!” sê die Here. “Al is julle sondes rooi soos karmosyn, dit sal wit word soos sneeu; al is dit rooi soos skarlaken, soos wol sal dit word.” Sy vryspraak is dus volkome!
Die volgende stukkie toerusting mag dalk onbenullig lyk, maar dis van uiterste belang – skoene!
Het jy al kaalvoet deur die duwweltjies of oor skerp klippertjies probeer loop? Dis eina! Jy loop liewer gladnie! Dus is ‘n goeie paar skoene absoluut noodsaaklik, veral oor ‘n rowwe terrein. So kan jy jouself oortuig dat die veld waar die Evangelie uitgedra moet word, besaai is met dorings, dus is dit te pynlik vir jou om die paadjie te loop. Dit is veral wanneer daar negatiewe reaksie kom op jou pogings om van Jesus te getuig. Of jy kan bang word vir die groot omvang van die taak. Soms wil dit lyk asof jy dit nooit gedoen kan kry nie. Met ‘n goeie paar skoene is dit egter kinderspeletjies. Moenie van stryk gebring word deur die dorings nie! Trek die skoene aan wat God jou gee, die skoene van bereidheid om Sy Woord uit te dra. As Hy dan iemand oor jou pad stuur, getuig van die Evangelie. Jy sal verstom staan oor die kwaliteit van God se skoene!
Wat behels God se skoene? In die eerste plek is dit die Heilige Gees, Hy gee jou die regte woorde in jou mond asook genoeg wysheid. Dit vra egter ook iets van jou, om jouself voor te berei op so ‘n situasie wat oor jou pad mag kom. Die Heilige Gees bied vir jou die kennis, maar dit vra van jou om die Woord oop te maak en te bestudeer om Sy bron van kennis te kan benut.
Die grootste faktor is egter om jouself bereid te verklaar om die evangelie uit te dra. Bereidheid is 90% van die skoene!
Swaarkry en teëspoed is soos dodelike pyle wat jou laat twyfel, en dikwels jou rug op God laat draai. Dit is vir sulke pyle wat God jou die skild van geloof gee om jou te beskerm. Geloof gaan egter hand-aan-hand met vertroue. Sonder vertroue kan daar géén geloof wees nie! Ek kan dit verduidelik met die verhaaltjie van die touloper wat sy tou gespan het oor die Niagra Waterval en toe oorgeloop het met ‘n skare wat applous gegee het vir sy wonderlike vertoning. Toe hy vra of hulle dink dat hy iemand op sy skouers oor die gevaarlike waterval kon dra, het almal “JA!” geantwoord. Hulle het dit beslis geglo! Toe hy egter vir ‘n vrywilliger vra om op sy skouers te klim, was daar niemand. Niemand het hom dus waarlik vertrou nie. Plaas al jou vertroue op die Here, selfs al gaan dit hóé moeilik. Hy sal alles ten goede laat gebeur. Gebruik dus daardie skild!
As ‘n bom op jou kop val, is dit tiekits! Jou verstand bokveld toe. As jou verstand vir jou sê dat jou verlossing niks werd is nie, is dit dodelik. Dit is dáárom dat jy die helm van verlossing op jou kop moet dra om jou te beskerm. Glo, nie alleen met jou hart nie, maar ook met jou verstand! Sit jou helm op!
Sonder wapens beteken ‘n soldaat niks. Gee jy hom egter ‘n swaard in die hand, dan is hy baie gevaarlik en hy kan die vyand oorrompel! Werlik? As hy nie weet hoe om die swaard te gebruik nie, is dit steeds nutteloos. Hy moet eers leer hoe om die swaard te kan gebruik, en hoe langer en harder hy oefen, hoe meer behendig raak hy daarmee.
Die Woord is die gelowige se kragtige swaard waarmee hy die vyand kan aanval en neutraliseer. Die Bybel in iemand se hand is opsigself egter nutteloos. Dit is eers wanneer ‘n gelowige die inhoud daarvan bestudeer, verstaan en sy eie maak, dat dit vir hom nuttig begin word. Hoe meer dikwels en hoe meer intensief hy die Bybel lees en bestudeer, hoe meer behendig raak hy met die gebruik daarvan. Maak dus seker daarvan dat jy daardie formidabele wapen van jou deur en deur ken en verstaan. Oefen boonop hard om met hierdie swaard te kan werk en om dit effektief te kan gebruik. Lees en bestudeer die Bybel en maak dit deel van jou lewe. Dán is jy gewapen!
Die Here het ons hierdie wonderlike wapenrusting gegee – kom ons maak volle gebruik van elke deel daarvan!
Gebed:
Dankie vir die borsharnas, die skoene, die helm en swaard wat U my gegee het, Here. Gee my asseblief die volle vertroue in U en veral die bereidheid om die evangelie onverskrokke uit te dra!