Bereken Die Koste

11 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bereken Die Koste

Lukas 14:25-33

VIDEO OUDIO

Ek was maar nog ‘n bloedjong kêreltjie, toe ek eendag die besluit neem om vir myself ‘n huis te bou. Ek het vir ‘n bouer gewerk, en ek het darem ‘n klompie boukennis versamel. Uit my spaargeld en die hulp van ‘n lening koop ek ‘n erfie en toe begin die bouproses. Vinnig-vinnig trek ek ‘n plan op van my droomhuis en ek begin bou. Geld was daar nou nie juis nie en al wat ek kon bekostig was ‘n vrag stene, ‘n paar sakkies sement en ‘n paar deur- en vensterrame. En toe begin ek bou!

Daar was ook nie geld om vakmanne te huur nie, maar dit het my nie gepla nie. Elke aand na werk het ek inngespring en gebou dat die byle huil. Maar kort voor lank was my stene op en óók my sement en die werk kom tot ‘n stilstand. Toe ek ‘n week later op die bouterrein kom, was al my venster- en deurrame weg – gesteel!

Ek het totaal magteloos en moedeloos gevoel! My droom het verkrummel, bloot omdat ek nie gaan sit het om die koste te bereken voordat ek begin het nie. Alles was darem nie verlore nie, ek het darem die erf verkoop gekry en die skuld wat ek gemaak het betaal. Maar die reuse verleentheid, dat ek as bouer so liederlik gefaal het, het my lank bygebly!

Elke dag was daar ‘n groot klomp nuuskieriges wat rondom Jesus saamgedrom het. Algaande het daar egter ook ‘n groot klomp mense gekom wat werklik ernstig was oor Jesus. Hulle het oral waar Hy gaan saamgeloop en sodoende Sy volgelinge geword.

Na die ete by die Fariseër het Jesus vir Sy volgelinge verduidelik dat dissipelskap groot eise aan jou stel. As jy waarlik vir Jesus wil volg, moet jy bereid wees om sekere opofferinge te maak. Dit kan selfs beteken dat jy van jou familie moet afstand doen. Jy moet selfs bereid wees om diegene wat die naaste aan jou is, prys te gee. Maar nog erger - jy moet selfs bereid wees om jou eie lewe op die spel te plaas as jy erns daarvan wil maak om Jesus te volg. As ‘n mens nugter hieroor nadink, dan staan jy verslae! Dit is tog haas onmoontlik om sulke vereistes na te kom!

Maar dan kom Jesus met ‘n tweede eis, om jou eie kruis te dra en in Jesus se voetspore te stap! Dit wil sê dat jy Jesus moet navolg in alles wat Hy gedoen het!

Outomaties gaan jou gedagtes na ‘n man soos Paulus wat eerder verkies het om gladnie te trou nie. Die eise wat sy dissipelskap op hom geplaas het, sou ‘n huwelik nooit, ooit kon laat werk vir hom nie. Paulus moes sékerlik tog familie gehad het - broers, susters, sy ouers. Hy het egter almal agtergelaat om die wêreld in te vaar as Jesus se dissipel. Paulus was bereid om absoluut alles op te offer vir die Evangelie - selfs sy eie lewe!

Paulus het egter die koste van sy besluit om Jesus voluit te volg baie goed bereken en toe besluit dat hy bereid sou wees om die prys te betaal. Hy het nie blindelings daar ingestap nie, maar berekend.

En dit is presies wat Jesus by Sy volgelinge wou tuisbring, bereken die koste! Hy het twee gelykenisse gebruik om te beklemtoon hoe belangrik dit is. In die eerste verduidelik hy dat ‘n bouer eers behoorlik sy sommetjies moet maak voordat hy begin bou, anders gaan hy lélik tweedebeste daarvan afkom. En wéét ek dit nie! Ek was sélf die bespotting van die dorp oor my swak beplanning! In die tweede voorbeeld sê Jesus dat ‘n koning tog eers ‘n goeie strategiese beplanning moet maak voordat hy hom in ‘n oorlog begewe. Hy moet bepaal presies hoeveel manskappe nodig is vir die stryd, anders kos dit hom dalk om stert tussen die bene te vlug nog voordat ‘n enkele skoot geskiet is. Die wêreld sal hom mos uitlag!

Kyk jy na hierdie eise wat Jesus stel, dan lyk dit totaal onmoontlik om ‘n volgeling van Jesus te word. Maar eintlik is dit gladnie die geval nie. Dit is egter tóg so dat dissipelskap baie eise aan ‘n mens stel. Dit beteken dat jy sekere vriende sal moet prysgee, bloot omdat hulle jou die verderf insleep. Dit beteken dat jy bereid moet wees om sekere soorte plesier te laat vaar soos die soort partytjies waar die Naam van God nie ‘n sent werd is nie. Of dink maar aan die dobbelhuis waar die geldgod koning kraai en die aande in die kroeg saam met die manne waar almal hulle smoordronk suip.

Aan die ander kant gaan dit ook van jou vra om bereid te wees om jou gewig ten volle in te gooi in die arbeidsveld van die Here. As gelowiges is ons almal op die “hemeltrein.” Sommige is bloot passasiers, maar ander is personeel wat dikwels tot laatnag werk. Dissipelskap beteken dat jy jou gemak prysgee en een van die “personeel” word. Dissipelskap beteken ook dat jy bereid moet wees om liefde prakties uit te leef - ten volle! Ja, Christen-wees is beslis nie vir sissies nie!

Ek wil vandag aan jou ‘n uitdaging rig om die koste te gaan bereken, en dan ‘n besluit te maak. Moenie wees soos die waardelose sout waarvan Jesus praat nie - die sout wat weggegooi word nie, maar word waardevol en diensbaar in die Koninkryk!

Gebed:

Here, ek het die koste bereken, en ek wil U volg, wát ookal die prys!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026