Beproewinge

29 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Beproewinge

Johannes 9:1-12

VIDEO * OUDIO

Hierdie beproewings wat ons tref - is hulle nie maar God se straf op ons sondes nie? As dit die dag met ons swaar gaan, is die Here nie dalk besig om ons te straf nie? Of as ‘n geliefde van my weggeneem word, is dit moontlik omdat ek iewers gesondig het? Hierdie is alreeds ‘n baie ou vraag! Dit was selfs op die lippe van Jesus se dissipels. Dit was so algemeen aanvaar, dat hulle vanselfsprekend aangeneem het dat die arme blinde bedelaar wat hulle teëgekom het, gestraf was deur God oor sy sonde, of dalk eerder oor sy ouers se sonde. God was in daardie tyd gesien as die God van lewe en van die goeie. Niks wat iets te doene gehad het met pyn of siekte kon van Hom af kom nie, en daarom kon dit alleen deur die man of sy ouers se sonde wees dat hy gely het. In hierdie geval was die man van geboorte af al blind, so dit kon dus slegs die ouers se skuld wees! Dis húlle sondes wat gestraf was!

Jesus het egter Sy kop geskud. Nee, hierdie man was blind sodat God daardeur verheerlik kon word. Die werke wat God doen moes in hierdie blinde man gesien kon word. As God dus hierdie man sou genees, dan sou dit weereens ‘n bewys wees van Sy almag, liefde en genade, en dat Hy selfs die tekens van sonde kan uitwis. As Jesus die man sou genees, dan sou dit dien as ‘n verdere bewys dat Sy werke nie, soos die kerkleiers beweer het, aan die duiwel gekoppel kon wees nie, maar dat dit van God af sou kom. Daardie man was dus blind sodat dit die mense van daardie tyd se geloof in Jesus sou vestig, en selfs vandag nog ook ons eie geloof versterk.

Jesus kon maar ‘n enkele woord gespreek het, en die man sou gesond wees. Hy verkies egter om dit op ‘n ander manier te doen - ‘n baie verrassende manier: Hy maak “oogmedisyne” aan deur met spoeg ‘n bietjie klei aan te maak, wat hy aan die man se oë gesmeer het. Toe stuur Jesus hom na die Siloam-bad om hom te was. Johannes noem baie pertinent dat die naam van die bad beteken: “Die een wat gestuur is.” Dit is met ‘n baie goeie rede, want hierdie blinde man word nou ook ‘n gestuurde. Waarvoor was hy gestuur? Om van Jesus te gaan getuig - iets wat hy baie goed gedoen het, nie alleen deur die voorbeeld te wees van Jesus se wonderwerke nie, maar later ook deur wat hy moes sê voor die Joodse Raad, waar hy namens Jesus moes praat.

Hier het ons ‘n voorbeeld van ‘n totaal ongeletterde mens wat nie eers ‘n behoorlike agtergrond gehad het van godsdiens nie, en beslis nie veel geweet het van Jesus af nie. Nogtans het die Here hom baie vrugbaar gebruik om die boodskap van God se genade en Jesus se verlossing uit te dra.

Ek en jy skuil so dikwels as verskoning agter ons gebrek aan genoegsame kennis, om as getuies vir Jesus te dien. Hierdie man het met enkele woorde en sekerlik ‘n stralende gesig gaan getuig. Ons sien dieselfde met die Samaritaanse vrou, wat met absoluut géén kennis, buiten ‘n enkele kortstondige ontmoeting met Jesus, gaan getuig het, en ‘n hele dorp in beroering gebring het. ‘n Ander voorbeeld is die man wat duiwelsbesete was, daar in die begraafplaas. Nadat Jesus hom bevry het, het hy gaan getuig, en ‘n hele landstreek vir Jesus gewen. Hierdie man kon slegs getuig uit wat Jesus vir hom gedoen het! Hy het absoluut géén Skrifkennis gehad nie.

Die dag toe ek en jy deur Jesus gered is van die mag van die duiwel, het ons outomaties uitgestuurdes geword. Net soos die blinde man, was ons ook geestelik blind, en Jesus het ons geloofsoë gegee om mee te kon sien. Anders as die drie mense wat ons hier bo genoem het, is ons in die geweldige bevoorregte posisie dat ons van kleins af al Skrifkennis ingegee is deur ons ouers, sondagskoolonderwysers en leraars. Hoe durf ons dan nog sê dat ons nie waardig is om uitgestuurdes te kan wees nie?

“Maar ek is bang!” sê ons dikwels. Ons is bang vir verwerping. Ons sal later sien dat hierdie blinde man ook verwerp was. Hy was uit die sinagoge gesmyt omdat hy dit durf waag het om vir Jesus te getuig. Getuienis bring konfrontasie. Ons sien dit baie goed by sendelinge wat die Woord uitdra in die lande waar die Evangelie nie welkom is nie. Hulle word dikwels vervolg en selfs gedeporteer as hulle uitgevang word dat hulle Bybels uitdeel of die Woord verkondig. Nog erger: die Christene van hierdie lande word in die tronk gesmyt of selfs doodgemaak as hulle uitgevang word dat hulle die evangelie uitdra. Dit is baie moeilik, en hulle beproewinge is bitter swaar. Hulle, en die sendelinge wat hulle lewe waag om die Woord daar te bring, moet gedurig in ons gebede wees.

Twee vrae wil ek graag vanoggend voor jou deur lê: Is daar beproewinge wat dreig om jou onder te kry? Dan moet jy dit sien as ‘n geleentheid om God se Naam groot te maak. Die tweede vraag: leef jy waarlik jou missie uit as uitgestuurde van Jesus?

Gebed:

Here, dankie vir die beproewinge in my lewe - ek weet dat U ‘n groot doel daarmee het. Leer my om dit te omskep in getuienis vir U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026