Bemoediging

3 September, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Bemoediging

2 Korintiërs 1:3-11

Die sentrale tema van Paulus se brief kan dalk wees: God is getrou en Hy gee ons moed, selfs wanneer ons ly of in die moeilikheid is. Hierdie gedagte kom helder en duidelik na vore in die aanhef van die brief.

Dit is nie maklik om iemand te bemoedig as jy nie ook sélf al swaarkry in die lewe beleef het nie. Om ‘n voorbeeld te noem: probeer om iemand wat onlangs ’n lewensmaat verloor het, vertroos. As jy nie al self deur daardie pyn gegaan het nie, kan jy mos nie vir daardie persoon sê dat jy weet hoe sy voel nie? Hoe weet jy? Daardie pyn, eensaamheid en groot gemis is iets waarvan jy slegs kan praat as jy dit al sélf ondervind het. En dieselfde geld vir swaarkry, angs en doodsgevaar. Hoe bemoedig jy iemand in so ‘n situasie, as jy nie al self daardeur was en dit ondervind het nie?

Paulus is baie beslis die regte persoon om oor hierdie soort dinge te praat, want hy was deur die meule. Ons kan dus nie sê: “Hy is ‘n mooi een om te praat - wat weet hy van ons moderne moeilikheid af?” nie. Paulus het deur baie dieper waters gegaan as wat enigeen van ons óóit sal ondervind!

Toe Paulus die dag vir Jesus by Damaskus ontmoet het, het hy eensklaps álles wat hy in die lewe gehad het, verloor. Onthou, hy was ‘n vooraanstaande Fariseër wat in hoë kringe beweeg het, en hy het sékerlik baie invloedryke vriende gehad. Toe hy skielik ‘n Christen word, los al hierdie vriende hom soos ‘n vrot lap. Hy verloor sy inkomste, want hy het ‘n lewe gemaak deur Christene te vervolg, en hy is sékerlik betaal vir hierdie “edel” diens. Nou sit hy op straat, sonder vriende en sonder ‘n inkomste. Die Christene hardloop weg as hulle hom sien, want hoe kon hulle hom vertrou? Paulus moes letterlik vlug vir sy lewe.

Wanneer hy uiteindelik na etlike jare die Christene se vertroue wen, word hy na die heidenwêreld gestuur. Daar jaag die Jode hom weg omdat hy ‘n Christen is, en die heidene wil hom doodmaak omdat hy hulle godsdiens probeer omvergooi. Hy beland keer op keer in die tronk. Hy word gegésel, met klippe gegooi, en leef gedurig onder doodsdreigemente. Boonop sink sy skip ‘n paar keer onder hom, en is dit net ‘n wonderwerk dat hy nie nog versuip ook nie.

Deur al hierdie teenstand, moet ons onthou dat daar geen moderne vervoerstelsels was nie, en dat Paulus duisende kilometers te voet moes aflê, dikwels deur baie gevaarlike of onherbergsame dele van die wêreld. Hy moes honger, dors, koue en hitte trotseer, en hy moes sékerlik baie nagte op die harde grond onder die sterre slaap. Maar dalk was die héél moeilikste vir Paulus sy persoonlike lewe. As gebore Fariseër wat grootgeword het met die Joodse wette en tradisies, moes hy leer om met heidene saam te leef en sy tradisies en alles wat vir hom saakgemaak het en kosbaar was, prys te gee. Van swaarkry kon jy Paulus niks vertel nie! Ek dink nie ons héél ergste swaarkry of moeilikheid kan eers vergelyk met sy beste dae nie!

Daarom kan Paulus uit ondervinding praat wanneer hy mense bemoedig. Hy was daardeur, en hy weet waarvan hy praat.

Maar wat sê Paulus? Hy begin nie met ‘n klaaglied nie, maar ‘n lofprysing! Hoe begin my gebed? Dikwels met ‘n klaaglied oor ons omstandighede, en net vir die wis en onwis, gooi ons hier aan die einde ‘n halfhartige lofprysinkie in. Paulus het egter agtergekom waar sy hulp vandaan kom, en daarom kan hy nie anders as om God te loof omdat Hy die Een is wat bemoediging en krag gee. Hy dra Paulus deur al sy moeilikhede. En ons? Ons kla dikwels omdat ons dink dat God dalk nie ons gebed verhoor nie! Kom ons begin ‘n slaggie die positiewe raaksien, en loof Hom daarvoor!

Beteken dit dat as ons anders begin bid, dat al ons omstandighede gaan verander? Gaan ons probleme soos mis voor die son verdwyn met die een of ander wonderwerk?

Dit is nie wat Paulus sê nie. Natúúrlik is niks vir God onmoontlik nie, maar die groot ding is dat ons kan wéét dat Hy ons sal bemoedig en versterk om staande te kan bly, selfs deur die grootste van moeilikhede en beproewinge en lyding. Paulus skryf dat hulle lyding ver bo hulle kragte was, só asof die doodsvonnis klaar uitgespreek was oor hulle. Verskriklik! Nogtans kon hy deur alles heen steeds God se trou en liefde baie intens ervaar.

Paulus besef dat sy probleme gebeur sodat hy sy totale afhanklikheid van God keer op keer sal besef. Dit is alleen die Here wat hom kan red. En óók vir óns!

Maar daar is ook ‘n ander baie belangrike saak wat ons beslis moet onthou, en dit is om vir mekaar as gelowiges te bid. Ek het al dikwels persoonlik deur baie diep waters gegaan, maar die wete dat daar soveel mense was wat vir my gebid het, het my laat sweef op ‘n wolk van geloof. Gelowiges het mekaar bitter nodig.

Gebed:

Here, dankie dat ek vanoggend kan weet dat U my op die hande dra deur al my beproewinge.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026