As die Romein Jou Klap.......

24 February, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie As die Romein Jou Klap.......

Matteus 5:38-48 & Eksodus 21:22-25

VIDEO | OUDIO

Simon voel vanoggend baie verbitterd. Sou een van daardie haatlike Romeinse soldate nie vanoggend vir hom wat Simon is kom staan en rondbeveel nie, só asof hy die offisier se vloerlap is! Besef die man dan nie dat 'n Romein 'n onrein heiden is nie en dat hy, Simon 'n rein Jood is, 'n afstammeling van Abraham? En toe Simon wil weier om die opdrag uit te voer om die soldaat se bagasie vir hom te dra, haak die kêrel af en klap hom deur die gesig! Was dit nie dat sy maats hom gekeer het nie, dan het hy beslis die soldaat te lyf gegaan. Die gevolge kon dalk tragies wees.... Simon is sommer opnuut weer woedend oor hierdie arrogante heiden se ongeskiktheid.

“Meester,” kerm Simon, “ek gaan daardie simpele Romein terugkry! Hy gaan nie weet wát hom getref het nie!”

“Bedaar Simon!” paai Jesus hom, “Moenie dat die ou insidentjie jou so ontstel nie.”

“Maar Meester,” kerm Simon voort, “die Romeine is besig om die volk van God uit te roei. Kyk net wat het hulle alles aan ons gedoen. Die tyd het gekom dat ons Jode saamstaan en hulle 'n les leer!”

“Ja Simon, julle het gehoor dat daar gesê is: 'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand? Maar vandag sê Ek vir julle dat julle nie vir julle moet verset teen sulke kwaadwillige mense nie.”

Simon onthou die rympie nog uit sy kop uit, Pa het dit vir hom geleer toe hy nog maar 'n jong seuntjie was: “'n Lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet, 'n brandwond vir 'n brandwond......” Dit staan immers nét so geskrywe in die heilige Skrif in Eksodus 21:22-25, so kort na die Wet.

“Simon,” ruk Jesus hom uit sy gedagtewêreld terug, “as iemand jou op die wang klap, draai dan vir hom die ander wang ook!”

“Ja,” knor Simon deur sy baard, “dis makliker gesê as gedaan! Dáárdie Romein klap seer!”

“En as iemand jou vra om sy goed 'n kilometer vêr te dra,” gaan die Meester voort, “dan bied jy aan om dit sommer vir twee kilometer te dra.”

Nou stoom Simon éérs! Die Meester verstaan gladnie! Dit is só onregverdig! Hierdie Romeine maak nét wat hulle wil. Hulle skryf wette slegs om hulleself te pas. Hierdie kilometer-ding is een só 'n wet. 'n Soldaat kan sommer enige Jood opkommandeer om sy swaar pakkasie vir hom te dra vir 'n volle kilometer vêr. En dan is dit nie net die harde werk om die goed te dra waaroor hy kla nie, maar die ergste is dat hy besmet raak! As hy daardie heiden se gemors moet dra, dan raak 'n man mos onrein! Hoe kan die Meester so 'n ding van hom verwag?

“Meester, hierdie mense is ons vyande!” Nou voel Simon éérs seergemaak. “Van my mede-Jode sal ek sulke dinge énige tyd kan verdra, maar hierdie mense is besig om ons te verdelg. Hulle dwing hulle wette op ons af, en dan moet ons nog boonop aan hulle belasting betaal. Ek haat hulle met 'n passie, Meester!”

“Ai Simon,” sug Jesus, “hoe is jy dan vandag so skuins dwars? Jy is mos geleer dat jy jou naaste moet liefhê, soos wat die wet vir jou voorskryf, maar dat jy jou vyand moet haat, is dit nie so nie?”

“Presies Meester! So het Pa my van kleins af geleer!”

“Simon, vandag wil Ek vir julle iets hééltemal anders leer. Vergeet van al die ou stories wat van kleins af so in jou ingedril is. Ek sê vandag vir julle dat julle julle vyande moet liefhê.”

“Meester, beteken dit die Romeine ook?”

“Ja Simon, selfs die gehate Romeine. En wat meer is, julle moet vir hulle bid. Bid vir die mense wat julle vervolg sodat julle kinders kan wees van die Vader in die hemel.”

Simon gee 'n snork van verontwaardiging. Hy brom iets van: “Oor my dooie liggaam.....”

“Simon, julle verstaan nie mooi nie. Alle mense is deur God geskep en Hy laat die son opkom oor die goeies en die slegtes. As julle net die mense liefhet wat vir júlle lief is, dan is julle niks anders as die Goddeloses nie. Hulle het mekaar ook lief! Ek vra vandag van julle om volmaak te wees net soos wat die Hemelse Vader volmaak is.”

“Maar Meester, dit is tog gans onmoontlik!”

Maar Jesus los die vraag nét so in die lug. Die manne het bitter baie om oor na te dink. In doodse stilte stap hulle verder, elkeen gewikkel in sy eie malende gedagtes.

Jy gaan dalk vir my vra of dit werklik 'n Romein is wat vir Petrus geklap het wat aanleiding gegee het tot die gesprek? Ek sal nie weet nie – ek raai maar. Maar dit is 'n moontlikheid. Jesus het die alledaagse dinge gebruik as voorbeeld om waarhede aan Sy volgelinge oor te dra.

Vandag is Jesus se liefdesbevel aan my en jou nog steeds nét so moeilik. Hoe kan ek die mense liefhê wat die lewe vir my bitter maak? Dit is byna net so moeilik as Jesus se bevel om volmaak te wees. Dit is onmoontlik! Maar ek moet daarna streef. As ek bloot my hande in die lug gooi en sê dat ek dit nóóit sal kan doen nie, dan het ek alreeds die stryd verloor. Moet nooit ophou probeer nie!

Gebed:

Here leer my om my vyand lief te hê. Heilige Gees, gee my asseblief die krag en geduld daarvoor!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026