Anargie

15 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Anargie

Jesaja 3

‘n Samelewing wat totaal in duie stort, dit is die donker prentjie wat die profeet in Jesaja 3 vir die volk skilder. Dit is ‘n bitter somber prentjie van anargie, maar dit is presies wat gebeur wanneer mense sonder God probeer lewe. Maar is dit nie presies wat op die oomblik in ons land besig is om te gebeur nie? Eintlik is die ganse wêreld besig om in duie te stort!

Jesaja beskryf hier hoe God optree teen die volk wat ver verwyderd van Hom begin leef het. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, het alle Goddelike waardes verdwyn, en die volk het verval in materialisme en goddeloosheid. En dit terwyl hulle eintlik veronderstel was om God aan die res van die wêreld te vertoon. Hulle moes die toonbeeld wees van hoe dit lyk wanneer God regeer!

Die gevolg is dat God kom en die fondamente waarop hierdie volk dink dat hulle so vas staan, ondergrawe. Hy pluk elke steunpilaar onder Juda uit, sodat die samelewing in duie stort. Elke vooraanstaande leiersfiguur, wat as sekuriteit vir die volk se voorspoedige voortbestaan verantwoordelik is, verdwyn.

Dink maar net wat sou gebeur as al die sterk leiers in ons samelewing vandag skielik moet verdwyn. Dit sal uitloop op totale chaos! Elkeen sal doen net wat hy wil, en dit kan katastrofies wees. En dit is presies wat Jesaja hier beskryf. Die gevolg van God se optrede teen die volk, het ‘n totale omkeer van die sosiale orde tot gevolg. Mense wat onvolwasse en onervare is, moet nou skielik die leiding oorneem en volksleiers word. Die volk neem eie reg in eie hand. ‘n Rebellie breek uit en mense gaan mekaar te lyf. Selfs gerespekteerde grysaards word wreed deur jong rebelle aangerand. Ja, dit is wat gebeur wanneer mense sonder God probeer leef!

In verse 6 tot 8 beskryf Jesaja hoedat mense allerhande planne beraam om die situasie te probeer red. Hulle soek wanhopig na enigeen wat tóg net leiding kan neem om hierdie verskriklike gemors uit te sorteer. Eintlik is dit lagwekkend as jy kyk na die norme wat hulle stel vir ‘n goeie leier: “Jy het darem nog behoorlike klere, wees ons leier en regeer oor hierdie vervalle spul!” (v. 6). Goeie klere maak jou 'n leier? Dis absurd! Dit wys net hoe desperaat hulle geword het. As jy jou sekuriteit begin bou op iets soos goeie klere, dan kan jy maar weet dat jou waardes totaal verkrummel het!

Die feit is egter dat hierdie volk totaal in duie gestort het omdat hulle die sonde as die normale ding aanvaar het, dit het alledaags geword. Almal gaan maar gelate voort om te doen waaraan hulle gewoond is. Ons wys baie maklik die vinger na Israel, maar ons staan ook dikwels skuldig aan presies dieselfde ding. Gisteroggend by ons mannegroep se gesprek, noem iemand dat daar sedert die aborsie wetgewing ingestel is, alreeds 3 miljoen babas vermoor is in aborsies. Dis moord! En almal aanvaar dit as die norm!

Een van die wette wat uitgereik is tydens ons huidige krisis, is dat almal maskers moet dra in die openbaar. Dit is 'n kriminele oortreding as jy dit nie doen nie. Gaan kyk maar hoeveel mense sonder maskers loop in ons inkopiesentrums. Blatante oortreding van landswette! En dan stel wêreldleiers soos Donald Trump die voorbeeld as hy sê dat dit sommer bog is om 'n masker te dra!

Die leiers is veronderstel om die voorbeeld te stel van hoe jy moet leef. Maar wat gebeur? Die grootste misdade word juis deur leiers gepleeg! Ek hoef nie eers hieroor uit te brei nie. Maar Jesaja sê in vers 14 dat God by hulle begin met sy oordeel: “Die Here begin die saak teen die leiers en die hoë amptenare van sy volk: Julle het die wingerde gestroop; wat van die hulpeloses geroof is, lê in julle huise.” Ons moenie stres oor die korrupte leiers wat lyk of hulle skotvry daarvan gaan afkom nie. God se oordeel sál hulle tref!

Volgende in die visier is ryk, hoogmoedige vrouens (v. 16): “Omdat die vrouens van Sion hoogmoedig is en kop in die lug rondloop terwyl hulle ogies maak, wegstap met trippelgang en hulle enkelringe laat rinkel, sal Ek, die Here, hulle hare afskeer.” Die goddelose vroue wat almal verlei, sal verneder word!

En hierin lê vir ons as gelowiges die troos. In vers 10 bemoedig die Here almal wat aan Hom gehoorsaam bly: “Sê vir die regverdiges met húlle sal dit goed gaan; hulle sal die vrug van hulle dade geniet.” Die oordeel van God is nie op gelowiges nie, maar juis die ongelowiges, en veral diegene wat leiers is en met hulle goddelose dade die res van die samelewing in die verderf intrek.

Vir my as gelowige is Jesaja 3 'n bemoediging, want dit beteken dat ek my nie oor die goddeloosheid hoef te bekommer nie. God sal wél regverdig daaroor oordeel. Ek kan maar rustig wees.

Gebed:

Here, dankie dat ek rustig kan wees te midde van die verskrikking wat rondom my aangaan.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024