Amnon se Skande

26 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Amnon se Skande

2 Samuel 13:1-22

VIDEO | OUDIO

Die spreekwoord lui: “Aardjie na sy Vaartjie.” - kinders leer by hulle ouers en gaan maak dan nes Pa of Ma gemaak het. Dawid se kinders moes sékerlik gesien het hoe hulle Pa gemaak het. As Pa sonde kan doen, waarom nie ek ook nie. As Pa hom toegee aan sy begeertes, wie is ek dan om daarteen te wil skop?

Een van Dawid se seuns, Amnon het ‘n groot probleem gehad - sy halfsuster Tamar. Sy was beeldskoon en Amnon het geswymel as hy aan haar dink! Nagte om het hy lê en droom oor haar. En hy het toegelaat dat daar ‘n onverteerbare begeerte in hom groei. Elke keer as hy haar sien of net aan haar dink, begin sy hart wild klop van pure begeerte, soveel so dat hy eintlik siek was van hierdie onblusbare vuur in hom. Die probleem was dat Tamar ook Dawid se dogter was en dat sy dus vir hom totaal buite perke was.

Op ‘n dag vra Jonadab, een van sy vriende vir Amnon: “Wat’s fout? Jy lyk ellendig! ‘n Koning se seun lyk tog nie só bekaf nie!”

Amnon het swaar gesug: “Ek het ‘n gróót probleem, ek’s verlief op my suster!”

Jonadab het sy kop meewarig geskud. “Kom ek gee jou nou goeie raad…..” Amnon het sommer weer nuwe moed geskep, en toe volg hy Jonadab se “goeie” raad.

Amnon het sy planne mooi agtermekaar gekry en een oggend op sy bed gelê en gemaak asof hy baie sleg voel - dodelik siek. Pa Dawid het kom verneem wat fout was met sy seun, en toe vra Amnon of Dawid nie asseblieftog sy sussie, Tamar na hom toe sou stuur nie. Hy sou sommer baie gou beter voel as Tamar vir hom daar in sy slaapkamer ‘n paar koekies kon kom bak. Sommer daar moes Dawid al ‘n rot geruik het, want watter verskil sou dit dan nou kon maak? Maar hy gee toe aan die versoek en hy laat kom vir Tamar.

Toe sy mooi sussie die vertrek binnestap, het Amnon se hart ‘n paar wilde spronge gegee. Sy het absoluut niks vermoed van sy gevoelens vir haar nie en sy begin vir hom die deeg voorberei. Toe dit gereed was, stuur Amnon almal uit sodat hy alleen met Tamar kon wees.

Eers tóé sien Tamar die wilde kyk in sy oë: “Kom lê hier by my,” het hy by haar gesoebat en haar dadelik vasgegryp. Tamar het by Amnon gepleit om haar asseblief nie te onteer nie. Dit sou nie net haar eie reputasie wees wat daarmee heen sou wees nie, maar ook syne! Almal sou hom ‘n dwaas noem! Sy stel selfs voor dat hulle trou - Dawid sou sekerlik sy toestemming gee. Maar Amnon wou nie eers na haar luister nie. En so het Amnon sy eie suster verkrag!

Na sy walglike daad het Amnon vir Tamar weggesmyt soos ‘n vuil lap! Nou wou hy niks meer met haar te doen hê nie! Sy het by hom gepleit om asseblief nie sake nog erger te maak nie, maar Amnon het bloot sy slaaf geroep om vir Tamar uit te smyt! Hy het haar skaamteloos weggejaag!

Wellus word in hierdie verhaal in sy onverbloemde aakligheid vir ons uitgebeeld. Was daardie liefde of eerder verliefdheid van Amnon eg? Baie duidelik nie! Want skielik het liefde in afsku verander die oomblik toe sy drange bevredig was. Waarom het hy so haatlik teenoor Tamar opgetree na sy daad? Waarskynlik het hy homself verag vir wat hy gedoen het en toe haal hy dit op Tamar uit.

Wellus kan baie maklik gekamoefleer wees as iets anders - in hierdie geval as verliefdheid. Maar uiteindelik word dit tog ontmasker as ‘n egosentriese drang.

Toe Tamar uithardloop, skeur sy haar klere en gooi grond op haar kop om haar smart te wys. Al skreeuend het sy die straat afgehardloop. Haar broer Absalom het tot haar redding gekom en neem haar na sy huis toe. Tamar was verpletter, want iets baie kosbaar in haar was geskend - haar maagdelikheid wat sy so hoog geag het.

Dawid se hantering van die hele saak was niks anders nie as pateties! Hy laat toe dat sy seun Amnon hom misbruik deur Tamar na hom te stuur. En wanneer hy uitvind van Amnon se skande is hy woedend, maar hy doen absoluut niks daaromtrent nie. Dawid was nie alleen Koning nie, maar ook ‘n geestelike leier. Nogtans faal hy jammerlik in die opvoeding van sy kinders. Later sal hierdie insident nog baie tragiese gevolge hê, wat dalk verhoed kon gewees het as Dawid maar net betyds opgetree het!

Dawid se wellus toe hy Batseba sien bad het, het uiteindelik uitgeloop op moord. Nou gaan sy seun se wellus ook uitloop op moord want Absalom beplan wraak teenoor sy broer! Wellus, haat en moord gaan hand aan hand!

Die opvoeding van ons kinders is baie belangrik en dit kan nie alleen maar in die hande van die onderwysers of kinderoppassers gelaat word nie. Ons persoonlike opvoeding en veral ons voorbeeld is die dinge wat ‘n kind vorm. En dit is veral die geestelike leiers wat soveel meer versigtig moet wees dat die opvoeding van hulle kinders nie moet ly onder hulle geestelike werk nie.

Gebed:

Here, help my om ‘n positiewe voorbeeld en invloed te wees in my kinders se lewe!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026