Alles Nuut!

7 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Alles Nuut!

Openbaring 21:1-8

“Ek sien 'n nuwe Hemel kom,

'n aarde nuut en vry.

Die see en al wat skei, verdwyn.

God self kom by ons bly.”

Hoe heerlik sal dit nie wees om weer ‘n slag na grendeltyd hierdie besielende lied saam met die gemeente uit volle bors te sing nie! Wanneer jy dit sing, sien jy in jou verbeelding ‘n skitterblink nuwe wêreld sonder enige smet of sonde, en die asemrowende stad Jerusalem, gebou uit suiwer goud en die allermooiste edelstene en reuse pêrels waaruit die poorte gekerf is.

Die afgelope paar weke se dagstukkies was in ‘n sekere sin uiters depressief, want ons het net gelees van die duiwel se skrikwekkende opmars teen alles wat heilig is, en die aaklige dinge wat hy en sy trawante doen teen die gelowiges. Ons het ook gelees van God se verskriklike oordeel oor die bose, maar hoedat Hy terselfdertyd so dringend gepleit het vir hulle bekering.

Baie jare gelede sit ‘n klompie van ons een oggend baie vroeg bo op die Drakensberge by Giants Castle om die sonsopkoms te beleef. Dit was bitter koud en nog pikdonker, en voor ons voete ‘n gapende afgrond van 1000m hoog. Ek kry ‘n ysige beklemming om die hart om so weerloos daar te sit. Maar geleidelik begin dit verander, en die skrikwekkende donker maak plek vir die dagbreek. Sagte pastel-kleure begin vorm oor die uitgestrekte heuwellandskap wat voor ons ontvou - ‘n donsige oranje, ‘n poeierkwas-sagte rooi. Die nag was verby! Die dag in sy volle glorie was op pad!

So beskryf Johannes ook hierdie wonderlike gesig wat hy beleef, van die vernuwing van die Hemel en die aarde, waar die volmaakte gemeenskap met God nou aangebreek het. Ja, die ou bedeling het verdwyn. Die eerste Hemel en aarde, volmaak geskep deur God, is totaal verwoes deur die mens en Satan se sonde. Die ou aarde waar pyn en lyding, as gevolg van sonde, so ‘n verskriklike werklikheid is, word nou vervang deur ‘n splinternuwe wêreld van ewigdurende volmaakte heerlikheid saam met God. Selfs die see verdwyn, omdat dit in die antieke denke beskou is as die woonplek van die bose. Die bose is nou vernietig, en daarmee saam sy woonplek.

Op ‘n dramatiese manier beskryf Johannes hoedat die nuwe Jerusalem uit die Hemel neerdaal. Dit moet ‘n aangrypende gesig wees want elders beskryf hy dat die stad twaalfduisend kilometer lank en breed en hoog is. Dit is só ondenkbaar groot dat ‘n honderd Suid-Afrikas’s daarin sal pas. Dan nog boonop daardie duiselingwekkende hoogte, wat amper tot by die maan reik!

In skrille teenstelling met die berugte sedelose vrou, Babilon, word hierdie stad beskryf as ‘n versierde hemelse bruid wat in blosende glorie vir God gereed gemaak is. Die nuwe Jerusalem word nou God se woonplek by die mense, en God kom dus in volle glorie en heerlikheid by die gelowiges bly, waar hulle Hom van aangesig tot aangesig kan aanskou terwyl Hy op sy troon sit.

God het destyds ‘n verbond met Abraham gesluit. Hy het vir Abraham gesê dat Hy vir hom ‘n God sou wees, en Abraham vir Hom ‘n volk. Nou word hierdie verbond opnuut weer waar gemaak wanneer ‘n harde stem uit die Hemel aankondig dat die gelowiges God se volk is en dat Hy by hulle bly. Al die pyn en lyding van die ou bedeling, sê die stem, is iets van die verlede, want God sal self hulle trane afdroog. Die dood sal nie meer ‘n verskrikking wees nie, want dit sal eenvoudig nie meer bestaan nie.

Vir die eerste keer in Openbaring hoor ons God se eie stem van die troon af as Hy sê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Die mense en die ganse skepping word totaal vernuwe deur ‘n volmaakte nuwe verhouding met God. Dit is waarna die hele skepping só smagtend uitgesien het. God verklaar verder dat Hy die Alfa en die Omega is, die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet. Dit beteken dat Hy die oorsprong en bestemming van alles en almal is, en net soos die eerste en laaste letters van die alfabet die ganse alfabet omvat, so omvat God die totale skepping. Hy sê ook dat diegene wat dors het by Hom die water van die lewe kan kom drink. In volmaakte gemeenskap met God sal niemand ooit weer dors hoef te ly nie.

Ons gelowiges kan nou deel in die oorwinning wat God behaal het. Die beloning is om alles te ontvang en in volkome gemeenskap met God te kan leef. Om ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te hê. Inderdaad is ons Sy erfgename, Sy kinders, en het ons deel aan dit alles! Hierdie wonderlike waarheid dra ons as gelowiges, God se kinders jubelend dwarsdeur al die eindgebeure!

Gebed:

O Here, dit is met ‘n jubeling in ons harte dat ons vanoggend U Woord lees en die wonderlike dinge deur Johannes se oë sien. Dankie vir daardie wonderlike vooruitsig van dit wat op ons wag!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026