Akwila en Priscilla

26 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Akwila en Priscilla

Handelinge 18:1-6

VIDEO | SPOTIFY

Akwila en sy dierbare vrou Priscilla is twee baie bekommerde mense. Dinge is nie lekker hier in Rome nie. Akwila is 'n tentmaker. Die enigste dinge in die lewe wat werklik vir hom saakmaak is sy liewe vrou wat vir hom só baie beteken in die lewe, en sy ambag om tente te maak. Met groot trots het hy dit van sy pa geleer in sy geboortestad Pontus, en elke tent wat hy maak is 'n meesterstuk. Maar die belangrikste natuurlik is die uitleef van sy Godsdiens. As toegewyde Jood, aanbid hy die Here met volle oorgawe, en hy probeer om die wet so nougeset moontlik na te kom. Maar hier in die hedendaagse “Sodom en Gomorra”, Rome, is dit maar bitter moeilik! Boonop maak die omgesukkelde Keiser Claudius dit ook nie juis makliker vir die Jode nie, hy haat hulle met ‘n passie!

Op ‘n dag kom die skokkende bevel: Alle Jode moet Rome met onmiddellike effek verlaat! Akwila het geweet dat Claudius nie van die Jode hou nie, maar hy het nooit besef hoe groot hierdie haat werklik is nie. Inderhaas moet hy en Priscilla hulle goedjies pak en vlug vir hulle lewens. Maar waarheen? Dan besluit hulle op Korinte, 'n stad in Griekeland. En dáár gaan vestig die toegewyde paartjie hulleself. Hy bekom 'n werkswinkeltjie en baie gou verwerf hy weer vir hom die naam van uitmuntende tentmaker.

Paulus is moedeloos wanneer hy Atene verlaat. Dáár kon hy dit nie eers regkry om 'n gemeente te stig nie! Die klein handjievol gelowiges wat hy daar agterlaat, kan beslis nie 'n gemeente genoem word nie. Hy kies koers na die buurstad, Korinte. Gaan hy hier dieselfde houding aantref?

Met sy aankoms in die stad, stap Paulus deur die strate. Hy moet 'n blyplek kry! Maar daar is 'n ander ding wat ook dringend aandag nodig het: sy finansies is in ‘n benarde situasie! Hy sal baie gou plan moet maak om fondse te kry.

En dan gebeur dit: Paulus kan sy oë nie glo as hy by 'n werkswinkeltjie verbyloop, en hy sien daar 'n man besig om tente te maak. En boonop is die man 'n Jood! Met 'n groot glimlag storm Paulus op hom af en stel homself voor. Die man se naam is Akwila. Paulus vertel met trots vir Akwila dat hy ook 'n tentmaker van beroep is.

Akwila is in die wolke: “Sou jy nie dalk belangstel om by my te kom aansluit nie? Ek het hóéka te veel werk, en ek kan beslis doen met iemand om my te help! Waar is jy tuis?”

Wanneer Paulus vertel dat hy so pas hier aangekom het, en dat hy juis nou op soek is na huisvesting, skop Akwila se ingebore gasvryheid sommer dadelik in: “Ag nee, jy hoef nie verder te soek nie. Hier is baie plek in ons huis, jy kan sommer by my en Priscilla intrek. Dan is jy mos sommer hier vir jou werk ook!” Paulus laat hom nie tweekeer nooi nie! Weereens voorsien die Here op presies die regte tyd en plek!

Die Sabbat breek aan, en soos die gewoonte is van elke toegewyde Jood, stap die twee manne na die naaste sinagoge om daar te gaan aanbid. Paulus tref daar 'n goeie klompie Jode aan, maar daar is ook 'n aantal Godvresende Grieke. Akwila stel hom voor aan die manne, en Paulus word genooi om 'n woordjie te spreek.

Nou is Paulus in sy element, en hy gryp die geleentheid met albei hande aan. Met volle oorgawe vertel hy hulle van die Verlosser, Jesus. Maar die manne is baie skepties, en moedeloos stap Paulus laat daardie aand saam met Akwila huistoe. Dit is asof die mense proppe in hulle ore het! Hulle wil maar net eenvoudig nie aanvaar dat sy boodskap die waarheid is nie. Hy het dan só mooi vir hulle probeer verduidelik uit die Skrif hoedat die profete alles voorspel het, en dat alles presies gebeur het soos wat voorspel is. Maar hierdie Jode wil net eenvoudig nie verstaan nie.

“Here, ek het vir liewe ou Silas en Timoteus só bitter nodig om my te help! Wanneer gaan hulle tog eendag kom uit Berea?” Paulus se gebed word verhoor, en 'n paar dae later kom klop Silas en die jong Timoteus aan sy deur. Paulus is in die sewende hemel! Hy is só bly dat die twee hier is. Die afgelope ruk het sy prediking maar droewige resultate gehad, miskien sal hulle kan help dat daar iets gebeur!

Met volle oorgawe preek die drie manne in die sinagoges, en probeer met alles in hulle om die Jode te oortuig dat Jesus waarlik die Christus is. Maar dis alles verniet. Paulus en sy span is moedeloos: “Wat kan ons meer doen? Jy kan 'n perd tot by die water lei, maar jy kan hom beslis nie máák drink nie!” Dan neem Paulus 'n besluit: “As hulle die Evangelie wil bly verwerp, dan is dit hulle saak! Ek gee op met hierdie weerbarstige Jode!”

Nog een laaste keer probeer hy die Jode oortuig tydens 'n Sabbat, maar dan staan hy uiteindelik op: “As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld!” sê hy verontwaardig, terwyl hy vinger wys na hulle. “Ek aanvaar nie verder verantwoordelikheid vir julle nie, van nou af werk ek onder die heidene!” En daarmee stap hy uit.

Jy kan die Evangelie net tot só ver met iemand deel. As hy dit bly verwerp, dan moet jy liewer jou energie gebruik om dit te deel met iemand wat dit sal waardeer. Moenie skuldig voel daaroor nie, jy het jou deel gedoen!

Gebed:

Here, my gebed gaan uit aan almal met wie ek reeds die Evangelie gedeel het, maar wat dit verwerp het. Heilige Gees, werk asseblief in daardie harte!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026