Daniël 11:30-35
Antiochus was ‘n baie slim en geslepe man. Hy het besef dat die Jode se hele wese rondom hulle godsdiens en veral die tempel draai en dat as hy hulle wou onderkry, dan sou hy juis dáár moes begin. Hy gebruik dus sy gladde tong en sy Griekse redeneerkuns, asook allerhande mooi beloftes, en só beïnvloed hy die afvalliges in die kerk om hom te help veg teen die kerk. Die duiwel is ‘n geslepe kalant, en selfs vandag nog gebruik hy steeds dieselfde metodes om die kerk af te kraak: hy gebruik mense binne-in die kerk om dit vir hom te doen!
Antiochus stuur ‘n leër na Jerusalem onder bevel van Apollonius. Op die Sabbat val hulle Jerusalem binne - juis op die dag waar die Jode die minste weerstand sou bied. Mans word doodgemaak en vrouens en kinders gevange geneem. Huise is geplunder en verwoes, en selfs die mure rondom die tempel is afgebreek. Maar toe kom die ding wat seker die seerste maak: die tempel word verander in ‘n tempel vir die Griekse afgod: Zeus Olympios! In Desember 168 vC. word die Joodse erediens verbied, en bo-op die altaar in die tempel word ‘n nuwe altaar gebou vir Zeus. Die duiwel was desperaat, want skaars 160 jaar later sou die Messias gebore word, en hy wou dit ten alle koste probeer stuit!
As ons die geskiedenisboeke van daardie tyd lees, sien ons die allerverskriklikste dinge wat Antiochus aangevang het met die Jode. Hulle was koelbloedig vermoor as hulle enigsins sou afwyk van sy bevele. Selfs babaseuntjies en hulle moeders was wreedaardig om die lewe gebring as hulle dit sou durf waag om die babas te besny. Jerusalem en die tempel was verwoes. Maar dit sou nie die laaste keer wees nie - sewentig jaar na Jesus se geboorte word hierdie verwoesting herhaal - hierdie keer deur die Romeine. Hierdie keer het daar, presies soos Jesus geprofeteer het, nie twee stene opmekaar bly lê van hierdie majesteuse gebou nie!
Wat ons in vers 30 lees, is uiters tragies: Antiochus sou kom kers opsteek by die afvalliges van die volk. Totale verwoesting het gevolg op raad wat hy gekry het van Jode. Vandag sien ons ‘n verskriklike tendens van afvalligheid in die kerk. Kyk maar hoeveel mense op ‘n Sondag nog die behoefte het om God te aanbid in die erediens. Kerke loop leeg! Om jou ‘n idee te gee, in 1996 was daar 102 voltydse predikante in die NG Kerk in KwaZulu-Natal. Vandag is daar slegs 23 omdat gemeentes hulle nie meer kan bekostig nie! Die erediens is die plek waar jy brandstof kry vir die week se aan die gang bly. Dit is die plek waar medegelowiges mekaar versterk en bemoedig. Daarsonder brand jou geloofsvlammetjie al flouer en flouer, totdat dit naderhand net rook en die kamer vul met ‘n slegte reuk. As jy eers hierdie stadium van afvalligheid bereik het, dan is jy ryp vir die invloed wat die duiwel op jou kan hê, en ‘n geskikte kandidaat om te help met die vernietiging van die kerk. Ek het dit al persoonlik beleef, waar afvalliges met “mooi” argumente alles kom deurmekaar krap het in ‘n gemeente, en dan net weer verdwyn nadat die skade gedoen is.
Daniël se profesie het darem ook ‘n ligpuntjie gehad, want “die mense wat hulle God ken sal vasstaan” (v32) en in vers 34 praat hy van “’n bietjie hulp” wat hulle sou kry. Daar was byvoorbeeld die verhaal van die ou Skrifgeleerde Eleásar wat gedwing is om varkvleis te eet. Hy het geweier. Toe bied hulle aan dat hy rein vleis kan kry om te eet, want hulle wou hê dat die ander Jode moet dink dat hy toegegee het. Steeds het die bejaarde ou man geweier, want hy wou nie ander Jode na die verderf lei nie. Uit eie wil het hy na die pynbank gestap om gegésel te word eerder as om vir iemand anders ‘n struikelblok te wees. En dan was daar die “bietjie hulp” wat Mattatias en sy vyf seuns gegee het. Hulle het onder leiding van Judas die Makkabeër in opstand gekom teen hierdie oormag, en talle heidense altare vernietig. Judas het die bynaam van “die Makkabeër” gekry, omdat hy soos ‘n “strydhamer” geveg het. Daar was baie Jode wat by Judas se groep aangesluit het, maar moed verloor het wanneer die oorhand te groot was, en dan weer onttrek het om maar gedweë weer die vyand te volg.
Uiteindelik is die kaf van die koring geskei deur loutering en suiwering. Wanneer dit maklik gaan, is dit nie moeilik om ‘n gelowige te wees nie. Wanneer die druk egter toegepas word, is dit slegs diegene wat ernstig is oor hulle geloof wat staande bly. Die vraag aan my en jou as gelowiges vandag is, of ons sal staande bly wanneer dit werklik begin moeilik raak? As my lewe bedreig word omdat ek ’n gelowige is - sal ek bereid wees om deur te druk en steeds staande te bly? Daar was die storietjie van die kerk waar ‘n klomp gewapende manne ingestorm het en geskree het dat almal wat nie gelowiges is nie vry kon gaan. Slegs die gelowiges was geforseer om agter te bly. Nadat driekwart van die gemeente dankbaar uitgevlug het, sê die een skurk: “Dominee, nou is al die skynheiliges weg - nou kan jy maar voortgaan en preek!” Sou jy een van dié wees wat sou agterbly? Hoeveel is ons werklik bereid om te verduur vir ons geloof in Jesus ons Verlosser?
Gebed:
Here, vanoggend wil ek bid vir die talle afvalliges, wat geloof maar net gebruik wanneer dit gerieflik is. Werk asseblief in daardie harte, en bring hulle weer terug na U, die enigste ware God!