Josua 24
Sigem is ‘n plek met groot betekenis vir Israel. Dit was hier waar Abraham sy eerste stop gemaak het in Kanaän. In Genesis 12 lees ons dat die Here daar by Sigem aan Abraham verskyn het en dat Hy vir Abraham belowe het dat Hy die land aan Hom gee. Daar het Abraham dan ook ‘n altaar vir die Here gebou. Baie jare later slaan Jakob by die einste Sigem kamp op. Hy koop die stuk grond waar sy tent staan en ook hý bou daar ‘n altaar vir die Here (Genesis 33:20).
Dit is dus net natuurlik dat Sigem vir die volk Israel groot godsdienstige betekenis het. Dus bou ook húlle daar ‘n altaar vir die Here (Josua 8:31).
Wanneer Josua begin besef dat sy einde nie meer ver is nie, is dit vir hom belangrik om vir oulaas met die volk te praat. Sigem is die logiese plek om hulle bymekaar te kry omdat dit so ‘n groot Godsdienstige rol in die volk se geskiedenis speel.
Wanneer almal vanoor die hele land bymekaar is, laat Josua hulle eers rustig word. Hy praat met hulle soos ‘n ware geloofsleier en dan neem hy hulle op ‘n herinneringsvlug deur die verlede. Hulle mag nie vergeet waar hulle vandaan kom nie. Hy neem hulle terug na elke stilhouplekkie langs die lang pad wat die volk gestap het.
Josua begin by die vader van die volk, Abraham. Oorspronklik het hy en sy pa Nahor ander gode gedien. Maar God het hom en sy familie tussen die ander gode gaan uithaal en hom geseën. Hy het ‘n verbond met Abraham gesluit waarin Hy beloof het dat Hy Abraham se God sou wees, asook die van sy nageslag. En sedertdien het Hy daardie nageslag nog nooit verlaat nie!
Hierdie volk het oor die afgelope klompie dekades beleef op watter wyse die Here by hulle was: Moses wat hulle uit die kloue van die Farao geskeur het, die Rietsee-ervaring en hulle redding deur die woestyn. Meer onlangs was daar die wonderbaarlike deurtog deur die Jordaan, Jerigo en nog baie ander. En toe gee die Here hulle ‘n land wat klaar bewerk en bebou was. Hulle kon maar net instap en dit geniet! Die inwoners van die land het voor hulle uit gevlug omdat God so almagtig is.
Ons as gelowiges het soms ook nodig om net ‘n bietjie te gaan terugkyk op ons lewenspad. Ons moet gaan stilstaan by al die stilhouplekkies waar die Here ons oorlaai het met Sy wonderlike genade, seën en liefde en dit weer oordink sodat ons die Here weer ‘n slag kan waardeer. Dan sal ons ook weer waardeer wat ons het, want alles wat ons het kom van die Here af.
“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou.” druk Josua hulle dit op die hart. Hulle moenie eers daaraan dink om van die Here af weg te dwaal nie. Dan stel Josua aan hulle ‘n keuse: “Kies dan vandag wie julle wil dien.” Hy het gesien hoedat die volk so maklik afvallig raak van die Here en hy wil by hulle pleit om altyd die enigste ware God te dien. “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Josua 24:15). Dis by hom ‘n uitgemaakte saak. Dit kan nie anders nie! Hy is nie bang om alleen te staan nie en sy hele lewe getuig daarvan.
Vandag vra die Here van my en jou om ook Josua’s te wees wat onwrikbaar vasstaan in ons geloof, maak nie saak wát gebeur nie!
Die volk antwoord uit een mond dat hulle die Here wil dien. Maar Josua is nie tevrede nie. Om maar net te sê dat jy die Here wil dien beteken nie veel nie. Oorgawe aan die Here vra ‘n totale verbintenis. Die volk bevestig daar by Sigem plegtig hulle volle toewyding aan die Here. Omdat Hy hulle deur alles gehelp het sal hulle Hom dien. Plegtig belowe hulle daar dat hulle Hom nie maar halfhartig sal dien nie maar voluit.
Dit is só belangrik dat ons moet besef dat ons die Here VOLUIT moet dien en nie maar afskeep en halfhartig nie. Hy verwag dit van elke gelowige!
Josua is egter steeds nie heeltemal tevrede nie en dan sluit hy ‘n verbond (‘n kontrak) namens die volk met God om alles “wetlik” te maak. Daar word ‘n groot klip as gedenkteken regop staangemaak onder ‘n groot boom wat sou dien as die amptelike dokument van hulle kontrak met God wat hulle vir altyd aan hulle verbintenis met Hom sou herinner.
Ons belydenis dat ons gelowiges is, getuig daarvan dat ons God dien. Wanneer ons dit in die openbaar bely, hoor ander mense dit ook en hulle is getuies daarvan. ‘n Getuienis is eintlik ‘n mens se beleidsverklaring. Wanneer ons daardie verklaring maak, moet ons daarby hou en nie maak soos so baie politici nie!
Die boek Josua sluit af met ‘n paar doodsberigte. Josef se liggaam wat al die pad uit Egipte saamgekom het word by Sigem begrawe. Josua sterf op ‘n baie hoë ouderdom van ‘n honderd en tien jaar. Sy dood is inderdaad ‘n kroon op ‘n vol en ryk lewe!
En so kom ‘n era in die geskiedenis van die volk Israel tot ‘n einde. ‘n Finale streep onder die geskiedenis wat by die aartsvader Abraham by Sigem begin en weer na baie jare by Sigem eindig.
Gebed:
Dankie vir die wonderlike lewe en voorbeeld van Josua. Here, maak my ook ‘n Josua vandag!