Aanvaar Mekaar in Liefde

24 February, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Aanvaar Mekaar in Liefde

Romeine 14:1-12

Video

Audio

Opgewonde stap ek die oggend die kerk binne. Die moderne gemeente in Welkom gaan vir die eerste keer die voorsang by die erediens met kitaarbegeleiding doen. ‘n Tinteling vloei deur my jong are wanneer die briljante musikant sy verskyning maak. Met groot entoesiasme spoor hy die gemeente aan tot lofprysing, en ek is seker die engele in die hemel sing saam!

Maar alles is nie pluis in die paradys nie, die slang is ook daar! In die ouderlingsbanke sit ‘n omie en borrel en kook. Uiteindelik kan hy dit nie meer hou nie, en hy spring op en storm die kerk luidrugtig uit terwyl hy hardop iets mompel van ‘n “sirkus” en “heiligskennis”. Hy is, soos ou Genis van Koöperasiestories, diep, diep beswaard oor hierdie nuwe onheilige instrument wat nou die heiligdom van die kerk ingesmokkel word!

My eerste reaksie was om die man net daar en dan te veroordeel. Hoe kan iemand so kleingeestig wees? Wat is verkeerd met ‘n kitaar? Hy is erg verkramp, dis al! Dit het baie mooipraat en soebat gekos om hierdie geskil in die kerk op te los, want mense het kant gekies. Sommige was verheug oor ‘n vernuwing in die kerk, maar ander het gevoel dat dit nou darem ‘n bietjie dik vir ‘n daalder is, en skielik is die gemeente in twee kampe, en die arme dominee moet vure doodslaan!

In Rome was daar ook verdeeldheid: in die een hoek het die Joodse gelowiges gesit, wat vereis het dat die Sabbat steeds onderhou moes word, en dat varkvleis 'n euwel is. Hulle het ‘n swetterjoel reëls en regulasies vir die geloof gehad. In die ander hoek was die gelowiges uit die heidennasies wat bloot die vryspraak van Jesus aanvaar het sonder enige voorbehoud. Vir húlle was al hierdie Joodse fieterjasies pure twak. Die Jode wou hierdie “losbandige” klomp probeer bekeer, en op húlle beurt het hulle weer probeer om die Jode van hulle verkramptheid te verlos. En daar raak die hele klomp aan die stry, en die arme Paulus moet vure doodslaan!

Vandag kom hierdie soort verskille nog stééds hard en duidelik voor in die kerk, en selfs binne gemeentes. Ek voel dit kort-kort aan my eie baadjie met die skryf van hierdie dagstukkies, want as ek per ongeluk iets skryf wat iemand se geloofsoortuiging raak, dan word ek gelooi! Ek moet bitter versigtig wees wat ek sê, want ek skryf vir mense wat wyd-uiteenlopende geloofsoortuigings het!

Selfs binne denominasies, soos byvoorbeeld die NG Kerk, kom daar dikwels groot verskille voor tussen verskillende gemeentes. In Ballito, wat ‘n vakansiedorp is, is die kleredrag in die kerk redelik informeel, veral met vakansietye. In ander gemeentes sal ek weer baie skeef aangekyk word as ek die kerk instap en ek dra nie ‘n pak klere en ‘n das nie. In sommige gemeentes is die enigste manier van begeleiding wat toegelaat word die statige ou orrel, terwyl ander weer vrolik en opgeruimd saam met ‘n volledige orkes sing. Sommige gemeentes word deur die ander uitgekryt as “verkramp”, terwyl hulle weer op hulle beurt die ander klomp beskuldig dat hulle “liberaal” is. Wie is reg? Kies jy dalk ook kant? Maar Paulus skreeu: “Hokaai! Stop die lôrrie! Laat los daardie nuttelose gestry!

Paulus pleit in vanoggend se Skrifgedeelte dat ons mekaar in liefde moet aanvaar. Ons het by ‘n paar geleenthede in Ballito interkerklike dienste gehou. Vir my as stoere NG lidmaat was dit ongemaklik en vreemd wanneer almal gelyktydig hardop begin bid of wanneer mense in die kerk ronddans. Vir hulle was dit weer ewe ongemaklik wanneer ons stywenek klomp alles stil en stemmig probeer hou. Maar ons gun mekaar hulle verskillende aanbiddingsmaniere. Ons moet probeer om op alle terreine ons verpligtinge as gelowiges teenoor mekaar na te kom sonder om voorwaardes te stel dat sekere “probleme” eers opgelos sal word. Daar is sekere kantlynsake waaroor ons as gelowiges nooit sal saamstem nie.

Waarom moet ons mekaar aanvaar soos ons is? In die eerste plek omdat God ons almal aangeneem het MET FOUTE EN AL! Dieselfde genade wat aan my bewys is, is ook aan jou bewys, al verskil ons. En niks kan ons van Jesus se liefde skei nie, nie eers ons menings nie! Boonop glo ek met my hele hart en siel en verstand dat die Heilige Gees wat binne-in my woon, my lei. Lei Hy jóú as gelowige nie ook nie? Natúúrlik! En so ook die ander gelowiges, waarvan sommige radikaal van my verskil. Hoe durf ek dan sê dat hulle verkeerd is! Al stem ons nie saam oor sekere standpunte nie, het ons één gemeenskaplike doel, naamlik om God te verheerlik. Nog meer: Hy verheerlik Homself deur óns!

Alles kom eintlik neer op een enkele woordjie: LIEFDE! As ons waarlik ons liefde wil uitleef, sal ons mekaar ons verskille gun. Sodoende leef ons liefde teenoor mekaar uit, maar leef ons ook liefde teenoor God uit, want hierdeur maak ons Sy heilige Naam groot!

Gebed:

Here, hou asseblief my oog gevestig op U alleen, sodat ek in liefde verby die verskille kan kyk en U in my medegelowiges sal raaksien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026