Galasiërs 4:1-7
Stefaans en sy vrou het nooit kinders gehad nie, dus het hulle ‘n seuntjie aangeneem, Jannie. Van kleintyd af is Jannie die liefde aangeleer vir die grond, en hierdie plaas het sy lewe geword. Maar eers was daar natuurlik landbou skool. Hy moes koshuis toe. Naweke het hy een geword met sy groot liefde, die veld, koppies en diere. Plaas was in sy bloed!
Op ‘n dag roep die skoolhoof hom in: daar is slegte nuus: sy pa is baie siek, en hy moes dadelik huistoe. ‘n Paar dae later is Pa Stefaans dood. In sy testament bemaak hy sy plaas aan Jannie. Sy pa se dood is vir hom ‘n groot slag, want hulle was baie naby aan mekaar, maar die troos van sy wonderlike erfporsie droog sy trane af. Jannie kan dit net eenvoudig nie glo nie: die plaas waarvoor hy so lief is, is nou syne! Maar dan moet hy tot die werklikheid geruk word: daar is ‘n klousule in die testament wat bepaal dat Jannie eers besitreg op die plaas kan kry wanneer hy die dag 21 word. “Maar waarom?” wil Jannie weet, “Ek kan mos maar nou skool los en kom boer!”
Stefaans het goed geweet dat Jannie dalk onverstandig sou optree as hy die plaas oorneem as jong seun, en daarom het hy bepaal dat die plaas bestuur word namens Jannie totdat die tyd ryp is vir Jannie om dit verstandig te kon beheer. O ja, die plaas het reeds aan Jannie behoort, maar tot hy mondig was het hy geen sê daaroor gehad nie.
Paulus gebruik die welbekende voorbeeld van ‘n onmondige erfgenaam wat moet wag tot die tyd deur sy pa bepaal, om die wêreldgeskiedenis te verduidelik. Net soos wat Stefaans met Jannie gemaak het, het God vir die mensdom ‘n tyd van vrywording bepaal, naamlik toe Jesus na die wêreld gestuur is.
Soos wat slawe destyds losgekoop was, so het Jesus ook gekom om die mensdom los te koop. Hoe het Hy dit reg gekry? Hy moes eers mens word net soos ek en jy, en dus het Hy deur die normale geboorteproses gegaan en moes Hy die vernedering deurmaak wat elke kind daardie dae moes deurmaak. Hy was, net soos elke ander Jood daardie tyd, aan die wet onderworpe. Deur Sy lyding en dood het Hy ons egter kom loskoop, en die wonderlike gevolg daarvan is dat ons (ek en jy) deur God aangeneem is as Sy eie kinders.
Word ‘n aangenome kind enigsins anders behandel as ‘n ouerpaar se ander kinders? Nee, beslis nie! Hulle is die ouers se kinders in die volste sin van die woord, en deel in al die voorregte wat die ander kinders deel. So is dit ook met ons as “aangenome kinders” van God. Ons deel in al die voorregte.
Voor Jesus se koms was die mensdom slawe van wettiese godsdienstige reëls. Alhoewel dit nie God se bedoeling was dat hulle hierdeur hulle saligheid moes verdien nie, het hulle tóg deur allerlei vorms van wettiese godsdiens probeer om hulle verlossing sélf te bewerkstellig. Vrywording het egter aangebreek op die tyd deur God bepaal, toe Jesus gekom het.
Die absoluut onverstaanbare is egter dat daar so baie mense was wat teruggehunker het na daardie tyd toe hulle slawe van die wet was. Dit is presies wat die Galasiërs besig was om te doen. Hulle het gedink dat hulle verlossing kon verdien deur allerhande wette te onderhou, maar hulle het ‘n groot fout gemaak. Hulle was, in Paulus se woorde, “onmondig”.
In vers 6 en 7 noem Paulus wat ‘n voorreg dit is om ‘n (aangenome) kind van God te kan wees: God gee die Heilige Gees in ons harte. Hierdie is nie iets spesiaals wat net met sekere bevoorregte kinders gebeur nie, maar God gee die Heilige Gees aan élke gelowige. Hy, die Heilige Gees oortuig ons in ons binneste dat ons God se kinders is, sodat ons kan uitroep: “Pappa! Vader!” Hy help ons om dit in die praktyk te kan ervaar, byvoorbeeld in ons gebedslewe, om met vrymoedigheid met God te kan praat en gesels.
Om hierdie dinge te kan ervaar is ‘n onbeskryflike groot ondervinding. Daar is egter vandag steeds Christene wat net soos die Galasiërs van ouds “onmondig” geword het en daardie wonderlike ervaring verruil het vir die nakom van wettiese godsdienstige reëls. Paulus se raad is om daarvan te vergeet en jou te laat vrymaak van daardie slawebande. Luister na die stem van die Heilige Gees, en laat jou deur Hom lei na ongekende hoogtes in jou geestelike lewe. Ondervind weer waarlik wat dit beteken om ‘n vrygemaakte aangenome kind van God te wees wat deel in al die wonderlike voorregte wat Hy so mildelik aan Sy kinders uitdeel.
Gebed:
Here, dankie dat U my U kind gemaak het. Leer my asseblief om dit elke oomblik van die dag te besef en my kindskap ten volle uit te leef.