Aan God Al die Eer

14 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Aan God Al die Eer

Johannes 7:10-24

VIDEO * OUDIO

Ons het gesien dat Jesus geweier het toe Sy broers by Hom aangedring het dat Hy na Jerusalem moes gaan vir die Huttefees. Maar dan lees ons dat Hy toe tóg gegaan het, maar dat Hy ‘n lae profiel gehandhaaf het sodat die mense Hom daar nie eers raaksien nie. Almal het natuurlik verwag dat Hy daar sou wees want hierdie sou mos die ideale geleentheid vir iemand soos Jesus wees om reuse skares te trek sonder veel moeite. Jesus het egter net verdwyn tussen die menigtes!

Weereens moet ons besef dat Jesus se doel nie was om reuse skares mense te beïndruk met groot wonderwerke en indrukwekkende genesings nie. Sy primêre doel was om versoening te kom bewerkstellig. Hy wou God se liefde en genade prakties kom uitleef teenoor die mense. Sy sekondêre doel was om ‘n kerngroepie te kom oplei om hierdie liefde van God aan die wêreld te gaan verkondig.

Op die fees het daar ‘n gefluister tussen die mense opgegaan - ‘n gefluister oor wie Jesus werklik was. Hulle was duidelik in twee kampe verdeel. Aan die een kant was diegene wat geglo het dat Jesus wél ‘n goeie Man was. Omgeset synde beteken dit dat hulle van mening was dat die dinge wat Hy gedoen en gesê het, tóg van God af gekom het en dat God dus aan Jesus se kant was. Die ander groep mense het presies die teenoorgestelde geglo, dat Hy almal mislei het. Sy werke het dus volgens hulle, van die misleier, oftewel die duiwel af gekom.

Wanneer jou pad die dag met dié van Jesus kruis, móét jy ‘n duidelike keuse maak! Niemand kan neutraal wees nie. As jy nie ‘n besliste keuse maak om Jesus te volg nie, dan volg jy outomaties die duiwel!

Dit is nogal ‘n skrikwekkende gedagte! Enigeen wat nog nie op daardie punt gekom het om ‘n verhouding met Jesus aan te knoop nie, is ‘n volgeling van die duiwel. Dit is dan natuurlik ook waarom ons wêreld vandag in so ‘n chaos gedompel is, want die duiwel besef dat sy uurglas uitloop. Hy moet alles in die stryd werp om siele te wen en daarom span hy elke volgeling van hom - alle nie-gelowiges - in om sy doel te bereik. Selfs gelowiges wat lou geword het word verlei om mee te werk, en die duiwel kry dit baie goed reg!

Maar terug by die Huttefees. Halfpad deur die fees besluit Jesus tóg om Sy dekking te verbreek en Hy begin om mense in die tempel te leer. Die slim manne was stom van verbasing oor Jesus se insig en kennis oor die Skrifte, want anders as hulle, het Hy geen formele opleiding gehad nie. Eintlik is dit baie ironies, want hoe gee jy die oorspronklike Outeur van die Bybel opleiding om Sy eie Boek te begryp? Hoe lei jy die Wetgewer op om Sy eie wet te verstaan? Jesus was die Een wat daardie tyd op die berg Sinai met Sy eie vinger vir Moses die wet geskryf het op die kliptablette. Jesus was die Een wat later daar in die woestyn vir Moses die wet prakties kom verduidelik het in die tent van samekoms. Elke keer as Jesus met Moses kom gesels het, was die tent gevul met ‘n wolk en die hele volk het dit gesien. Inderdaad was dit Jesus wat neergedaal het vanuit die hemel. Ja, en dit was ook Jesus wat met die aardsvader, Abraham kom praat het, en daar die verbond met hom gesluit het.

Nou leer daardie selfde Jesus die mense in die tempel, en hulle is verbaas oor Sy kennis.

Maar alhoewel Jesus verdien het om ál die eer en verheerliking te kry, het Hy dit eerder op die agtergrond geskuif, want hier was ‘n baie groter saak betrokke. Jesus het nie oor Homself gepraat nie, maar Hy het die mense van die hoogste Gesag geleer. Jesus het Homself ondergeskik gestel aan die gesag van God Drie-Enig. Ja, vir ons as nietige mense is dit uiters moeilik om te verstaan. Daar was egter ‘n groot doel agter die feit dat Jesus veral hier ondergeskik moes wees. Ons moet onthou dat Hy hier as mens verneder was as deel van Sy missie. Daarom veral moes Hy ondergeskik wees aan God. En wanneer Hy mense geleer het, was die belangrike dat hulle van God moes leer, want Hy is immers die oorsprong van alles. Alle eer moes aan Hom toekom.

So dikwels maak gelowiges die fout om nie Jesus se voorbeeld te volg nie. Jy wil so ‘n bietjie heerlikheid vir jouself hou. Byvoorbeeld: Ek het 60 boeke geskryf - dit maak my nogal ‘n gesiene skrywer! Intussen vergeet ek gerieflikheidshalwe dat as God my nie in die eerste plek die talent gegee het nie, was ek niks! Tweedens vergeet ek dat dit Hy is wat die woorde in my mond lê en daarsonder sal elke bladsy ‘n mislukking wees. Wanneer ek dus oor een van my boeke uitwei, dan behoort ek nie die skrywer daarvan op te hemel nie, maar die oorspronklike Outeur, naamlik die Heilige Gees. Jesus het so ver gegaan dat Hy nie alleen Homself aan God ondergeskik gestel het nie, maar dikwels ook aan ander mense. Ons sien dit wanneer Hy Sy dissipels se voete was of Homself sien as ‘n Dienskneg. Ook wanneer Hy Hom meng met die uitgewekenes en sondaars waarop almal neergesien het, sien ons Sy nederigheid. In die samelewing van vandag waar mense opgehemel word, en dit mode is, is dit bitter moeilik vir ‘n gelowige om Jesus se voorbeeld na te volg. Maar kom ons maak ‘n begin daarmee. Kom ons gee al die eer aan God en wees nederig teenoor ons medemens. So weerkaats ons Jesus se lig!

Gebed:

Here, gee my asseblief nederigheid, en leer my om al die eer aan U te gee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026