Aan die Voete van Gamaliël

20 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Aan die Voete van Gamaliël

Handelinge 21:37-22:5

VIDEO | SPOTIFY

Die jong Saul het so pas dertien geword. Hy bewe van opgewondenheid maar terselfdertyd klap sy knieë onbedaarlik teenmekaar van angs waar hy in die sinagoge staan voor 'n klomp manne wat hom nors aangluur. Met 'n stem wat wil-wil breek begin hy voorlees uit die Tora terwyl Pa trots toekyk. Hy lig vir ‘n oomblik sy oë op van die boekrol af. Voor hom sien hy hoedat die manne tevrede die koppe knik. Dit voel vir Saul asof 'n reuse las van sy skouers afval.Sy hart swel van trots as hy die breë glimlag op Pa se gesig sien. Nou is hy 'n volwaardige lid van die sinagoge!

Kort na Saul se groot dag in die sinagoge, onderneem hy saam met sy pa die lang reis na die stad Jerusalem. Hulle het baie lank gepraat hieroor, en ál die verskillende opsies oorweeg. Pa voel dat nét die beste goed genoeg is vir sy skrander seun, en die beste kan alleen in Jerusalem gekry word. Jong Saul sal vir die volgende paar jaar by 'n familielid tuisgaan terwyl hy studeer.

Met hulle aankoms in die groot stad gaan hulle reguit na die tempel. Die tempelplein is 'n miernes van bedrywigheid, en dit is veral die pilaargang van Salomo wat rondom hierdie groot kompleks gebou is, waar die meeste mense saamdrom. Oral sit daar klein groepies jong seuns of mans by ‘n Rabbi om te leer.

Saul se pa soek een spesifieke Rabbi met die naam Gamaliël. Sy naam is op almal se lippe, en hy is beroemd as dié leermeester by uitstek. Ellelange onderhandelinge volg wanneer hulle hom opspoor, en Saul word onderwerp aan eindelose vrae. Gamaliël wil dóódseker maak dat hierdie nuwe student briljant is en boonop die deursettingsvermoë het om die werk te kan hanteer wat hy aanbied. Hy mors nie sy tyd met iemand wat sukkel nie!

En só begin die jong Saul sy lang en bitter moeilike pad om in Pa se voetspore te volg. Hy wil die beste en mees toegewyde Fariseër word in die ganse Joodse gemeenskap. Ses dae 'n week sit Saul saam met 'n handjievol ander dissipels, dag-in en dag-uit, van sonop tot sononder en luister na die wyshede van Gamaliël.

Baie gou begin Saul besef dat daar baie meer is aan die Wet as wat hy geleer het. Hy het nooit mooi verstaan waarom Pa sekere dinge doen en ander nie doen nie. Nou moet hy uitvind dat daar 'n groot klomp ongeskrewe reëls is wat as veiligheidsmeganisme dien sodat jy nie dalk per ongeluk die Wet van God oortree nie. Saul vind 'n paar van hulle nogal baie snaaks. Hy het nooit geweet waarom sy ma 'n doek oor haar spieël gooi voor die Sabbat begin nie. Nou moet hy hoor dat die Fariseërs 'n wet gemaak het dat 'n vrou nie op die Sabbat in die spieël mag kyk nie. Nee, dis nie sonde om in die spieël te kyk nie, maar dit is wat daaruit mag voortvloei wat sonde kan word. Sy mag dalk nét 'n grys haar in haar wenkbroue raaksien, en dan besluit om dit uit te pluk, en dit is natuurlik presies dieselfde as om te oes! Soos almal mos weet, is oes natuurlik werk, en jy mag onder géén omstandighede werk op die Sabbat nie.

Dus het Ma maar veiligheidshalwe die spieël toegegooi sodat sy nie dalk in die versoeking mag kom nie. En skielik gaan daar 'n lig vir Saul op!

'n Ander bywet wat Saul nogal amusant gevind het, is dat jy nie op die Sabbat meubels mag rondskuif nie. Waar hulle staan sal hulle staan! Die rede? Saul moet leer dat dit nie noodwendig werk is om iets te skuif nie, maar daar is mos altyd stof op die vloer. Wanneer jy 'n meubelstuk skuif, trek jy 'n voortjie in die stof. En dit is natuurlik presies dieselfde as om te ploeg. En op die Sabbat mag niemand die hand aan 'n ploeg slaan nie, dus is dit sonde van die ergste graad! Jy ontheilig die Sabbat!

'n Jaar gaan verby soos 'n oogwink. Maar nou het Saul skaars begin om al die wysheid van sy leermeester in te drink. Dit sou nog 'n hele paar jaar kos voordat hy gereed sou wees om die lewe vol in die oë te kyk. Intussen begin die jong Saul om 'n ambag aan te leer sodat hy iets sal hê om hom aan die lewe te hou. Hy kies tentmakery as 'n beroep, en baie gou is hy byna net so vaardig met 'n naald en seilgaring as met sy skrander verstand.

Toe Saul agtien is, gebeur daar iets baie opwindend in Israel. Dit gons onder Gamaliël se studente oor 'n “wilde” man wat preek dat die biesies bewe en dan mense in die Jordaanrivier doop. “Hulle sê hy eet sprinkane en wilde heuning om te oorleef in die woestyn!” vertel een van sy medestudente met groot smaak terwyl hy kraai van die lag!

Gamaliël is gladnie beïndruk nie: “Hoe kan hy mense wil staan en leer? Hy het dan géén opleiding gehad as rabbi nie!”

Skaars 'n jaar later gons dit weer onder die studente: “Daardie doper kêrel, Johannes is in die tronk gesmyt. Hy het glo vir Herodus beledig!”

Slegs 'n kort rukkie later is daar, tot Gamaliël se groot ontsteltenis wéér 'n “lekeprediker,” 'n sekere Jesus uit die dorpie Nasaret. Hy preek egter hoofsaaklik in Galilea.

“Nés daardie Johannes-kêrel, sal Hy óók nêrens kom nie,” voorspel die wyse Gamaliël. En Saul stem heelhartig saam.

Maar 'n jaar of twee later is die jong Saul woedend as hy van oraloor verneem hoe daardie Jesus groot opgang maak en boonop die Fariseërs verkleineer. Ál wat 'n Fariseër en Skrifgeleerde is, het hulle mes in vir Hom!

Gebed:

Here, dankie dat U wet vir my 'n vertroosting is en nie kettings wat my bind nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026