Olifante in die Rivier

17 January, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Olifante in die Rivier

Filippense 1: 9-12

VIDEO | OUDIO

Die Bos was daardie jaar bitter droog. Dit was September 2009 en die lentereëns het weggebly.

Die diere kry bitter swaar, daar is niks kos in die veld nie. Heeldag lank kom bedel die diere vir kos by die huis. Tarentale, vlakvarke, koedoes, vlakvarke, patrysies, vlakvarke en nóg vlakvarke kom staan almal tou vir 'n peuselhappie. ‘n Paar knoetsgevreet-otjies kom parkeer permanent onder die deurmekaar slierte van ‘n rosyntjiebos en die oomblik as ‘n mieliepit die stowwerige grond tref, is die otte daar soos blits om dit weg te raap voor die neuse van die uitgehongerde tarentale en patrysies. Dankbare wesens, hierdie vlakvarke! Staan mos op hulle knietjies om te wys hoe bly hulle is vir die kos!

Dierbare vriende kuier die naweek saam met ons in die bos. Laatmiddag gaan ry ons ‘n draai langs die Krokodilrivier. Ons is nie teleurgestel nie, want so ver as wat die oog kan sien wei daar olifante in die rivierbedding, letterlik honderde. In die veld is groenigheid skaars, dus is hierdie oorvloed van riete in die rivier vir die ou grootvoete ‘n heerlike uitkoms. Dit kraak soos hulle riete verorber en deurentyd plons iemand iewers deur die water.

Ons merk dat hier meer as net een trop ollies bymekaar is. Hulle wei saam in groepies van tien of twintig. 'n Ou Matriarg besluit skielik dat dit tyd geword het dat haar trop huistoe vertrek en sy uiter 'n geluid wat totaal onhoorbaar vir die menslike oor is. Soos een man los elkeen in haar trop waarmee hulle besig was en volg haar teen die steil rivierwal uit.

Wanneer die laaste olifant oor die bult verdwyn, is hier skielik ‘n verskriklike kabaal rivieraf, ‘n olifant wat bitter benoud trompetter. Dit dreun en kraak en plons soos die dierasie aangehardloop kom. Al die ander olifante staan egter ongestoord, rustig en voortwei sonder om hulle te steur aan die lawaai. Dan bars die skreeuende, bulderende gevaarte deur die riete, met ore wat soos satellietskottels uitgesprei is. Kort-kort gaan staan hy, slurp in die lug en beruik baie benoud die omgewing voordat hy weer al gillende voortdonder.

Ek sien sommer dadelik dat hierdie nog maar ‘n jong bulletjie is. Ons staan hardop en wonder oor sy manewales. Dan merk ons dat elke keer wanneer hy so die lug beruik het, dit lyk asof hy rigting kry. Dit lyk kompleet asof hy op die spoor afstorm van die trop wat so flussies oor die horison verdwyn het.

Ek kan maar net raai wat daar gebeur het: hy het natuurlik gestaan en ginnegaap toe Ma die bevel gegee het om te vertrek. Ek dink hy het hom dalk staan en verlustig in al die pragtige jong koeitjies tussen die riete! En toe hy sy ogies uitvee is sy ganse familie skoonveld!

Wat die saak toe vererger, is dat hy op daardie oomblik vaskyk in ’n bondel mensegesigte wat hom grootoog deur die draad aanstaar en uitlag. Die mannetjie raak natuurlik toe bitter benoud en hy skree “Ma! Mammie!” maar ma is net weg en hierdie mense lag vir hom! Hy plons diep seergemaak deur die rivier, wat wemel van krokodille en allerhande nagmerrie-goeters. In ‘n reuse stofwolk klouter hy uiteindelik teen die rivierwal op en verdwyn al kermende oor die bult agter Ma aan!

Intussen sien vriend Marius drie olifante wat agter ‘n bossie staan naby die heining. Ons twee manne loop nader om darem nou behóórlike foto's van die ou grotes te kan neem. Ons staan skaars twintig treë van die grootvoete af, met slegs ‘n stukkie doringdraad wat ons skei. Terwyl ons nog so staan en verwonder, raak hulle skielik bewus van ons teenwoordigheid. Die twee koeie verdwyn verskrik. Die bul bly alleen agter en dit lyk kompleet asof hy vir hulle sê: “Kruip julle gou weg, ek sal hierdie twee skarmunkels 'n les leer!”

Hy kyk my reguit in die oë. Ek raak bitter ongemaklik. ‘n Kwaai frons verskyn op sy voorkop. Ek kry die gevoel dat hy vir my sê: “Ek laaik jou nie!” Hy skud sy ore heftig in 'n skyn-stormloop. Ek skrik my in ‘n ander geloof in. Skielik besef ek dat ek ingemeng het in die rustigheid van ’n gesinnetjie wat maar net daar hulle eie ding staan en doen het. Oorhaastig, holderste-bolder blaas ek en Marius die aftog.......

Die aand om die kampvuurtjie word ons ontmoeting met ou Ollie nog lank herkou.

Ek besef baie deeglik dat ek on-sensitief, ongevoelig en onverantwoordelik opgetree het. Van die olifante kan ons leer oor die hegte familiebande. My ongevoeligheid het dinge egter vir hulle deurmekaargekrap. Paulus skryf aan die Filippense dat dit van die uiterste belang is dat ons gelowiges ‘n fyn aanvoeling moet aanleer. Ons moet begrip hê vir mekaar en liefde moet te alle tye in ons lewens botoon voer.

Jy betrap jouself dikwels dat jy ongevoelig optree teenoor ander mense. Dit gebeur soms selfs dat ons deur onsensitiewe woorde, gesinne uitmekaar kan dryf of iemand baie seer kan maak. Ek is soms sélf skuldig en dan wil ek my tong afbyt oor ‘n onbesonne ding wat ek oor of vir iemand gesê het!

Wees sensitief, want hierdeur staan jy ook in die regte verhouding met die Here.

Gebed:

Here, maak my asseblief sensitief en plaas ‘n wag voor my mond!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Vir Oulaas, Timoteus
27 July, 2026
Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026