Filippense 1:3-8
Verlange is ‘n wonderlike ding! Dit gee jou ‘n onbeskryflike gevoel van gebondenheid aan iemand wat dalk baie ver van jou af is. In jou gedagtes bring dit daardie persoon tot hier rég by jou, teen jou bors. Ek onthou my eerste groot-verlang asof dit gister gebeur het. Dit was meer as vyfig jaar gelede en ek was besig met militêre opleiding. Seshonderd kilometer daarvandaan het die liefde van my lewe vir my gesit en wag. Ten spyte van die stowwerige vlaktes en die offisiere wat op my skree en die slaap op die harde grond en die goor militêre kos, was die lewe mooi, báie mooi want by die huis was daar die mooiste meisie in die ganse wêreld en sy was in my gedagtes elke oomblik by my!
Elke oggend het ’n kêrel Potchefstroom toe gery om pos te gaan haal. As sy Jeep se stoffie nog doéér op die vlakte uitslaan, dan spring ek al op en af van opgewondenheid want wie wéét, nét dalk is daar ‘n brief vir my! Daardie brief word eers geruik om die heerlike geur van haar parfuum in te drink wat nog draal aan die papier. Sy is ingeweef in elke lettertjie wat liefdevol op die papier geskryf is. Oor en oor en oor word die brief gelees en elke gedagtetjie herkou. In my verbeelding vou ek haar liefderyk in my arms toe.
O, die heerlike, nostalgiese verlange.......
Paulus is in dieselfde soort situasie wanneer hy vir sy geliefde gemeente in Filippi skryf. Hy is vasgevang in ‘n hopelose situasie waar hy in huisarres is en nie sy voete buite die vier mure van sy tronk durf sit nie. Só graag sou hy by daardie dierbare gelowiges wou wees. Só graag sou hy persoonlik met hulle wou praat, persoonlik hulle liefde wou ervaar. Maar hy is magteloos opgesluit. Al wat nog oorbly is die verlange. Hoe heerlik koester hy dit nie! Al is hulle almal baie vêr van hom af, is hulle steeds deel van sy lewe, nie alleen in sy gedagtes nie maar ook in die wonderlike dinge wat hulle deel. “Julle deel saam met my in die genade wat God my gee,” skryf hy met groot deernis aan hulle. ‘n Wonderlike ding om met mekaar te kan deel!
Maar totaal hopeloos is die situasie nie werklik nie, al lyk dit op die oog af so. Die een aspek wat alles moontlik maak en ook deur en deur die moeite werd maak, is die feit dat die liefde van Christus Jesus in Paulus se hart is. Daarsonder sou alles hopeloos verlore en puur verniet gewees het. Jesus is die Een wat ál die verskil in die lewe maak.
Die situasie waarin Paulus verkeer het was neerdrukkend. Hy was wél nie in die tronk nie, slegs in huisarres, maar dinge het nie belowend gelyk nie. Hy kon sékerlik sien waarheen hierdie ding op pad was. Inderdaad is hy dan ook later in 'n kerker opgesluit in haglike omstandighede en uiteindelik ook tereggestel. Nogtans is hy jubelend. Waarom? Nie alleen gee die liefde van Jesus in sy hart hom hierdie borrelende blydskap nie, maar die mense vir wie hy so omgee, het hom nie vergeet nie. Boonop lui die berigte wat hy oor hulle kry dat hulle beslis ook nie die waarhede wat hy hulle geleer het vergeet het nie. Hulle leef dit ten volle uit en daarom kan Paulus só jubel en God vir hulle dank!
Een ding is egter baie duidelik: dit is nie hierdie gemeente se eie goedheid, harde werk en getrouheid wat hulle so suksesvol maak nie, maar God. In vers 6 beklemtoon Paulus dat dit God is wat daardie goeie werk in hulle begin het en dat Hy die mooi dinge in hulle enduit sal voer.
Vandag “oeeee” en “aaaah” ons oor die Filippi-gemeente, maar dit is nie die doel van hierdie gedeelte nie. Die ware doel is dat dit vandag ons eie harte sal aanraak en ons ook sal aanspoor en bemoedig. Die feit is dat God Sy werk ook reeds lankal in ons begin het, alreeds die dag toe Jesus aan die kruis vir ons gesterf het en Hy só vir ons sondes betaal het. Maar die sigbare begin van Sy werk in ons was die dag toe die Heilige Gees in ons kom woon en ons lewe radikaal verander het. Dit was egter nie maar ‘n eenmalige verandering nie. Dit is ‘n verandering wat voortdurend elke dag in ons moet plaasvind sodat ons geestelik al hoe meer volwasse word.
Dikwels voel dit vir jou asof daar nie vordering in jou geestelike groei is nie. Byt dan net vas! Moenie moed opgee nie! God sal wél voltooi wat Hy begin het. Dit beteken nie dat ek maar kan terugsit en hoop vir die beste nie. Dit beteken júís dat ek moet werk aan my geloof. My doel moet wees om nader en nader aan God te lewe. As ek bereid is om my kant te bring - God is dubbel en dwars bereid om ook Sy kant te bring en seën in oorvloed oor my lewe te strooi!
As ons die dag hierdie gedagtes snap, kan dit nie anders as dat daardie onblusbare, jubelende, borrelende blydskap in ons wakker word sodat ons kan juig en sing, selfs in die mees hopelose situasies! Habakuk het mos hoeka gesê, dat al loop álles verkeerd, “nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God!” (Habakuk 3:18)
Gebed:
Here, maak asseblief daardie borrelende, jubelende blydskap ook ‘n werklikheid in my lewe!