Die Sinodesitting

4 November, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Die Sinodesitting

Handelinge 15:1-34

VIDEO | OUDIO

“Broer Voorsitter, ek voel erg beswaard!” Die kerkraadsvergadering trek al hier kort deuskant middernag en almal is moeg. My bed staan net op drie pote - die vierde poot wink verleidelik vir my om te kom slaap! Daar sak ‘n donker wolk oor die kerkraad toe as Piet Langasem opstaan om sy grief te lug. Daar is kwansuis 'n allervreeslike onding wat dan nou weer kop uitsteek in die gemeente en wat in die kiem gesmoor móét word te alle koste! Breedvoerig lig hy die broers in (daardie jare was daar mos nog nie susters op die kerkraad nie). Dit gaan oor die kleredrag waarmee mense deesdae kerktoe kom en dat selfs die kerkraadslede begin laks raak het omdat almal se swart pakke nie meer hééltemal pikswart is nie. Dit lok ‘n hewige debat uit wat duur tot kort voor hanekraai.

Onthou jy nog daardie soort kerkraads-vergaderings? Dankie tog hulle is verby! Ongelukkig is daar vandag nog steeds dikwels sulke onbenullige sake wat die tyd en energie van die persone wat aan die stuur van ‘n gemeente staan, opvreet. Soms is dit iemand wat op loop gaan met ‘n verkeerde gedagte en sommer ‘n streep mense met hom saamsleep en dan versuur hulle die ganse gemeente. Dikwels kos dit groot vergaderings en iemand met die wysheid van oorl'e Salomo om die saak te besleg!

Ons het reeds afgelei uit die vorige paar hoofstukke van Handelinge dat dit in die gemeente in Antiogië baie goed gegaan het. Die gemeente was aan die brand en mooi dinge het daar gebeur. Maar toe kom ‘n paar suurgesigte uit Jerusalem en kom steek ‘n stok in hulle speke. Het jy al gesien hoe hard ‘n man op ‘n baaisiekel val as iemand ‘n stok in sy voorwiel se speke gooi terwyl hy volspoed ry? Nou ja, só kom hierdie suurgesig-manne toe vir hulle preek. Die gemeente is kwansuis op 'n groot dwaalspoor want Moses word verontagsaam! Dit sou net reg wees dat die heidene dan nou ook ál Moses se wette moes onderhou. Hulle moes selfs besny word! Toe ruk die hele gemeente plotseling tot ‘n onverwagse stilstand. Dit lok ‘n hewige debat uit want skielik moet die mense wat nog nooit met die Joodse gebruike te doene gekry het nie, hierdie rituele nakom. Dis veral die besnydenis waaroor die kabaal gegaan het want hierdie manne wou beweer dat jy sonder die besnydenis nooit gered kon word nie. In my jong dae sou ‘n vrou wat sonder ‘n hoed in die kerk kom, óók reguit warmplek toe gaan!

Paulus en Barnabas is die twee wat dadelik gesien het waarheen hierdie ding op pad was en hulle roep halt. Hierdie onding kon alleen deur die “sinode” opgelos word! ‘n Kerkvergadering in Jerusalem waar ál die kerkleiers teenwoordig was, sou ál oplossing wees om die probleem vir eens en altyd uit te stryk. En so vaardig die gemeente in Antiogië die twee ou staatmakers asook nog ‘n paar ander leiers af om met die ringkoppe in Jerusalem te gaan vergader.

In Jerusalem aangekom, was Paulus en Barnabas baie opgewonde. Hulle vertel vir die gelowiges van die wonderlike dinge wat besig was om te gebeur in die buiteland en van al die heidene wat gelowig geword het. Daar was egter ‘n paar ou suurknolle wat alles vanuit ‘n negatiewe hoek wou beskou: “Maar die heidene moet besny word, anders beteken alles net mooi niks!” Só kerm een ou klakous.

“En wat van die wet van Moses?” wou ‘n ander suurpruim weet. “Kyk, ek is ‘n Fariseër en ek is van kleintyd af al geleer dat as jy nie die wet van Moses tot die laaste tittel en jota nakom nie, dan gaan jy reguit hel toe!”

Op die kerkvergadering was dit liewe ou Petrus wat met sy immergroen wysheid die saak kom red het. Die Here het hom immers al lankal in ‘n wonderlike visioen gewys wat reg is. “Wil julle nou die verskriklike juk van Moses se wette, wat ons terloops self nie eers kan nakom nie, op die arme heidene gooi?” wou Petrus weet. “Ons gló mos dat slegs die Here se genade ons kan red! Natúúrlik geld dit óók vir die heidene. Broers, moenie dit vir hulle moeilik maak nie!” pleit Petrus ernstig.

Die vergadering was dit eens: Petrus was hééltemal reg! Buiten vir enkele dingetjies, soos byvoorbeeld afgodsoffers, wat darem te afgryslik is vir énige Jood, word Petrus se voorstel aanvaar. Die afgevaardigdes kry ‘n brief wat die besluite mooi uiteensit om na Antiogië te neem.

Ek dink dit was ‘n uitbundige en baie verligte Paulus en Barnabas en hulle reisgenote wat die pad al huppelende terug geneem het Noorde toe!

Ag, ons laat ons steeds so dikwels aan bande lê deur allerhande moets en moenies in die kerk. So baie male word ons kosbare tyd en energie vermors deur absoluut onnodige sake. Petrus het vir ons alles opgelos, deur te sê dat ál die tradisies, wette en rituele ons absoluut niks in die sak kan bring nie. Ons probeer ons aanbidding te gekompliseerd maak. Kom ons hou dit eenvoudig en vergeet van al die tierlantyntjies. Jesus het dit immers sélf so verskriklik eenvoudig gestel: “Hy wat die Seun het, het die Ewige Lewe. Hy wat nie die Seun het nie, het nie die Lewe nie.” Dis al!

Gebed:

Here, dankie dat U dit vir ons so maklik gemaak het om die Ewige Lewe te erf en dat dit nie ons eie goedheid en werke is wat ons in die hemel kry nie maar U wonderlike genade alleen!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om na God te Luister
26 August, 2026
‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026